Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 12

Elsa

Оглавление

Aan die begin van verlede jaar doen ek ’n show en in die show speel ek ’n vrou wie se naam Blossom is, en daarvoor het ek ’n nagrok nodig.

Die een laatmiddag is ek by die shopping centre, dis amper toemaaktyd, ek is in by ’n boetiek. Maar ek sien onmiddellik alles is nie lekker nie. Hier staan so ’n ou vrou en rook agter die till, maar die ding se oë sit heel dwars in haar kop.

Ek sê, Verskoon my, Mevrou, ek soek ’n nagrok vir my show.

Hygend! skree sy. Hoekom moet ek so suffer? En sy druk haar sigaret dood op haar arm.

Loop kyk daar agter.

Ek is tussen die nagrokke in, kry een wat reg lyk, daar’s ewe ’n kappie by.

Verskoon my, Mevrou, sê ek, waar pas ’n mens aan?

Waar de hel dink jy?!

Ek soek, maar ek kry niks, koes agter ’n rak, trek die nagrok aan en loop staan voor die spieël. Die volgende oomblik is die ou vrou hier reg agter my, druk net so ’n lang gun in my rug.

Roer en jy vrek, sê sy.

Ek skrik ongeveer die grootste gedeelte van my gat van my lyf af.

Toe, sê sy, sit op jou kappie. En smile!

En so word ek toe die eerste persoon in die Suidelike Halfrond wat in ’n nagrok voor ’n spieël staan en smile met ’n gun in sy rug.

Nou kyk ek in die spieël of daar dalk wegkomkans is, maar ek sien die ou ding het klaar die winkel gesluit.

Trek uit, sê sy, ons moet ry.

Ek het die nagrok onder my arm, sy het die gun in haar sak en ons is af met die brandtrap tot in die parking lot.

Hou net op mince! sê sy.

Ek mince altyd as ek geskrik het, sê ek.

Hygend! skree sy. Hoekom moet ek so suffer? En sy stamp haar kop twee keer teen ’n brandblusser.

Op die ou end het sy my daar in by so ’n fucked-up Volksie. Op die deur staan Joyce Boutique – You can be a lady too. Ek bestuur, sy direct, verder praat ons nie eintlik nie. Behalwe by een robot sug sy, Ouboeta wil dan niks eet nie. Ry ons verder.

Ons is in by die commonste buurt in Pretoria, stop by so ’n toegerankte huis.

Trek aan, sê sy. Nou’t ek weer die nagrok aan, kappie op my kop, gun in my rug. Ons is in by die huis, die hele plek is pikswartdonker, ruik na polish en pille. Joyce roep net vir Ouboeta.

En daar in die sitkamer sit die oudste, bleekste man wat ek nog ooit gesien het. Joyce is kombuis toe en ek is heeltemal te befok geskrik om te dink ek moet nou hardloop. Die ou man lyk vir my morsdood.

Hier kom Joyce terug met ’n potjie Purity en ’n lepel en sy sit dit in my hand. Ouboeta, sê sy, Ouboeta, kyk wie’s hier. Maar Ouboeta kyk niks.

Hygend! skree Joyce. Hoekom moet ek so suffer? Neuk hom met die gun teen die kop, gaan sy oë oop.

Smile! sê sy vir my. Ek smile, maar die ou man lyk of hy ’n spook gesien het.

Toe! sê Joyce. Nou buk ek met die Purity en die lepel, maar die ou man kyk net.

Sê vliegtuigie, man, sê Joyce en toe ek vliegtuigie sê, maak die ou man sy mond so wyd oop dat die twee brommers op sy onderste gum wakker word en kombuis toe vlieg. En daar voer ek die ou man dat die sop so spat.

Ag dankie tog, sê Joyce en laat sak haar gun. Weet jy, sê sy, toe ek jou die eerste keer sien, toe glo ek dit glad nie. Jy lyk mos nes Elsa. (Viole word gehoor.) Ouboeta wou haar nog trou, toe vang die griep haar voor hy haar kon sê. Nou ry dit hom. Hy eet niks.

Toe buk sy langs die ou man en sê saggies, Toe Ouboeta, dis nou jou kans, sê haar. (Viole hou op.)

Die ou man lig sy voorvinger stadig tot by my voorkop en ek vee die Purity van sy ken af. Toe maak ek my oë toe en hoor iemand sug.

Dankie tog, sê Joyce, nou kan hy rus.

En toe ek my oë weer oopmaak, is die stoel leeg. Daar was ’n effense rokie bo die sitplek, maar ek dink dit was dalk my verbeelding.

(uit Paradise, Januarie 1992)

150 Stories

Подняться наверх