Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 18
Ná skool
ОглавлениеFrederik was die slimste van almal in die skool.
Hy kyk na die grys bokant die bome, vervloek die dorp, trek die musiekklas se deur toe en loop oor die stofgetrapte speelgrond. Aan die oorkant slaan Henning die een tennisbal na die ander teen die muur. Henning is saam met hom in standerd 9.
Frederik maak ’n oomblik sy oë toe en sien hoe ’n tennisbal deur ’n venster breek. Hy sien hoe Meneer Basson vir Henning laat buk en hom slaan, ses keer. Toe maak hy sy oë oop en loop deur die skoolhek.
Elke middag loop hy met die lang pad huis toe, want hy haat sy ma en die bord klipharde rys wat wag in die lou-oond. Hy haat die kombuis met die tjoepstil radio en sy netjiese kamer, alles so grys soos die lug bokant hierdie dorp. Hy haat die teleurstelling van die musiekklas: die groot uitsien na elke middag, die twee ure se oefen, die verwagting na iets fantasties, groot en heeltemal onmoontlik en dan die oopmaak van die deur in die grys namiddag.
Frederik loop rivierlangs, die langste pad moontlik. Hy wens hy kan huil. Hy wens hy kan snik en geluide maak soos in die movies. Maar hy’s doodstil soos sy familie en hulle huis. Hy loop tussen die bloekomme deur, af teen die skuinste tot by die water. Die rivier is vuil, maar ten minste raas dit ’n bietjie. Hy hou van die riete en die lang gras. Dit maak hom opgewonde, asof hy iets gaan ontdek, iets verkeerds. Iets wilds en sondigs.
Vanmiddag ontdek Frederik iets. Eers sien hy net die skouers en die rug. Hy sak af tot op sy knieë en sit sy boeke neer. Hy sien die swart man staan tussen twee bome. Die man se oorpak is om sy middel geknoop. Hy staan tjoepstil en sy rug blink pikswart soos ’n god wat van ’n ander tydperk oorgebly het.
Frederik se mond is kurkdroog.
Die swart man se oorpak val. Sy perfekte boude steek bo die lang gras uit. Frederik sien hoe hy sy hand lig. Sy arm begin stadig en met ’n besliste ritme beweeg.
Frederik se hele lyf ruk. Sy hande is yskoud en swaar.
Die swart man het omgedraai. Sy oë is toe en sy kop agteroor.
Frederik huil sonder keer. Hy wonder of ander mense op aarde ook al soveel geluk gevoel het. Ek sal sterf as hy weggaan, dink hy. Hy ruk sy das af, hy skeur sy hemp, hy trek sy broek en skoene uit.
Hy hoor nie hoe die voëls sy naam roep nie. Nie nou al nie, Frederik, sing hulle.
Hy hoor nie hoe die visse skree, Jy sterf te jonk! Jy sterf te jonk! nie.
By die huis sak sy ma inmekaar. Laat my dit net nie sien nie! sug sy.
Teen die skoolmuur kyk Meneer Basson hoe Henning se broek span.
Die swart man hoor hoe die gras breek. Hy kyk na Frederik. Frederik gaan lê op sy rug.