Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 22
Billy-Dean 4
ОглавлениеOp die tweede dag maak Billy-Dean White sy oë toe en sien hoe Sagte Lucas oor die heining klim. Mrs Olivier het die buitekamer se deur oopgelos om die dood uit te kry en Sagte Lucas loop tot by die lessenaar. Hy ruk aan die laai, maar die laai is nog steeds gesluit. Toe ruk hy nog twee keer, sê saggies, Ag hemeltjie, en klim terug oor die heining.
Sagte Lucas was baie mooi. Van die mense het gesê hy’s baie slim ook, daarom is hy so ’n bietjie af, maar mens sou dit nooit weet nie, want hy wou eers verpleër word, maar toe sy pa dood is, het hy sy training net so gelos en met sy erfgoed by die huis gebly.
Sagte Lucas was baie dierbaar, maar eenkant. En so het almal hom gewoond geraak. Tot ná die insident, toe hy skielik na die blink huis toe begin gaan het, en die Slang se werkies vir haar begin doen het. Toe wou almal weet hoekom en hoeveel betaal sy hom, en toe nou, Lucas, wat gaan aan. Maar Sagte Lucas is nog stiller as ooit.
So kyk hy nou weer ’n keer terug oor die heining, toe loop hy om die Slang se huis en af met die pad.
Sagte Lucas se huis is in die onderdorp. Die tuin is vol netjiese vierkantige beddings, maar daar’s nie ’n enkele blom te sien nie. Net sulke rye wit klippe wat wys waar om te loop.
Op die voorstoep sit Billy-Dean se jongste sussie. Sy wag al baie lank. Sy wag al so lank dat sy haar bubble gum in haar neus gedruk het om te kyk hoe ver sy die lel kan uittrek. Sy wag al so lank dat sy vergeet het van die lel en nou besig is om te kyk hoe ver sy haar ooglede kan omdop. En toe albei se wit buite sit, maak Sagte Lucas sy tuinhek oop.
Hierdie keer sê hy Ag hemeltjie ’n bietjie harder en duik op die meisie af. Wat het gebeur? vra hy en gryp haar so styf vas dat haar oë terugdop. Niks man, sê sy, en sit die bubble gum terug in haar mond. Ma het my gestuur.
Hoe gaan dit nou met haar? vra Lucas.
Ag, sy huil net en sê ons moet weg van hierdie plek af, en dan sê Pa sy’s maklik die gefokste van almal, so nou bly ons maar.
O, sê Lucas, en kyk hoe die sussie agteroor leun op die trap.
Ma het my gestuur, sê sy, en maak haar rug bak. Sy wil hê jy moet help kis dra.
Lucas se hande word klam en begin bewe. Wat? sê hy. Hoekom ek?
Die sussie steek ’n sigaret op. As ek rook, is die sigaret altyd nat, sê sy. Nog van altyd af. Ma sê dalk was julle maatjies. Ons het almal daai prent gesien.
Lucas se hande bewe so dat hy op hulle loop sit.
Watse prent? sê hy.
Die een op die lessenaar, ons kon eers nie weet nie, maar toe figure ek dit uit. Is jou gesig. Wat het julle aangevang, hè?
Niks! Van wie praat jy? sê Lucas.
Van jou en my broer, sê Billy-Dean se jongste sussie. Vandat hy daar ingetrek het, het hy mos heeltyd prentjies geteken en gedink ons weet nie. Mrs Olivier sê dis talent. Maar Pa sê prentjies teken is maar net soos gomsnuif, mens kan Satanisties word van die walms. Het jy vir hom gemodel? Julle’s mos al twee weird. Wat’s in daai laai, hè?
Sagte Lucas se hande is nou papnat. Watse laai?
Die een in sy kamer!
Hoe moet ek weet? sê Lucas. Ek kom mos nie in sy kamer nie.
Sê wie, jy’s dan heeldag langsaan by die Slang, sê die sussie. Sy lê nou plat op haar rug en maak haar bene oop en toe. Dis darem warm, sê sy. Sy waai haar T-shirt op en af. Ma maak my vrek, maar ek dra nie bra in die hitte nie.
Ek dra nie kis nie, sê Lucas en kyk na haar tepels.
Wat maak jy en die Slang? sê die sussie.
Ek sal vir jou koeldrank gee, sê Lucas, maar dan moet jy gaan.
Die sussie lê nou agter ’n potplant sodat mens nie van die hek af kan sien nie. Sy’t ’n bors in elke hand en is besig om hulle in die ongelooflikste formasies in te knie terwyl sy met haar tong in die lug rondwikkel.
Vir wat is jy so eenkant? sê sy. Is jy bang vir iets? Toe, ek sal vir niemand sê nie.
Wat gaan jy so aan? sê Lucas.
Jy’t ’n helse knop, sê sy. Ek kon voel netnou toe jy my druk. Toe, wys my.
Wys wat?
Wat jy doen met die Slang!
Sagte Lucas staan op en toe hy by die huis ingaan, slaan hy die voordeur so hard dat die skets van die engelprentjie skuins teen die muur loop sit.
Ek’s mooier as sy! skree die sussie buite op die stoep. Almal wil my hê! Almal! Behalwe die weirdos! Dit vergeet jy nooit!
Sagte Lucas kyk deur die gaatjie hoe Billy-Dean se jongste sussie haar T-shirt aftrek en tussen die wit klippe deur loop. Voor draai sy om en soos ’n spinnekop weef sy die hek toe met haar bubble gum.
(uit White Soul, Maart 1993)