Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 39

Jellie

Оглавление

Eendag was daar ’n groot konsternasie in die land. Die koning se kop was moeg. En al die ministers gryp die koning. Hulle jaag af na die hospitaal en hulle skree, Dokter! Dokter! Help ons! Die koning se kop is op en wie gaan nou al die besluite neem? En die dokter sê, Moenie worry nie, Ministers, ek het ’n splinternuwe brein op ys.

Maar dieselfde oggend het die kok in die hospitaal se kombuis ’n groot bloedrooi jellie gemaak en toe hy die ding wil bêre, is die hele yskas vol. Hy stap toe die lang gang af, en daar onder in die groot koelkamer sit hy die jellie neer.

En daar sit die jellie en word vreeslik hartseer. Ek meen, hoe gaan jy voel as jy weet lunchtyd word jy opgeslurp deur een of ander ou vrou met ’n swak blaas? En die jellie sê vir homself, Ek wil iets beteken. Ek wil my plek vol staan in vandag se samelewing.

Net toe kom die dokter uitasem daar ingehardloop om die koning se nuwe brein te gryp, en die jellie spring met ’n hartstogtelike boog tot in sy arms. Die dokter kyk nie twee keer nie, hy skree, Ek het hom! En hy hardloop die gang af en opereer en hy opereer en die volk hou hul asems op.

Vir dae en nagte het die koning in die hospitaal gebly en toe op ’n sonskyndag is die koning mooi gesond. Die ministers reël ’n groot Parlementsopening met orkeste en optogte en kanonne en vreeslik baie balloons. En daar staan die koning en hy salueer al die goeters wat by hom verbygaan. Maar van al die staan in die son begin die jellie in sy kop toe nou ’n bietjie smelt, en toe hulle uiteindelik in die Parlement kom, kan die koning aan niks dink om te sê nie. Daar sit almal en wag, en hy kry nie ’n woord uit nie.

En die ministers sê, O Koning, die mense in ons land baklei al ’n bietjie onder mekaar. Sê nou iets. En plrrt! skiet ’n stuk bloedrooi jellie by die koning se oor uit.

Die Minister van Verdediging is nou heeltemal uptight. Hy sê, O Koning, hier gaan ’n oorlog kom en ons gaan dit nie kan keer nie. En plrrt! kry hy ’n stuk jellie teen die voorkop.

Nou is die ministers heeltemal histeries. Hulle skree, Meneer die Speaker! Meneer die Speaker! Help ons! Wat het ons nou nodig?

En toe Meneer die Speaker opkyk, kry hy ’n blop jellie op sy bolip. En hy’t so ’n tydjie gesit, toe sê hy, Ek dink, nè, ons kan doen met bietjie custard.

150 Stories

Подняться наверх