Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 35
Kersfees
ОглавлениеMy eerste Kersfees weg van die huis af was iets verskrikliks. Daar’s nie geld vir grappies nie. Dis net ek en die matras en die braaipan.
Maar dis ék wat besluit het, skop op, ek het nie ’n graad nodig om myself te bewys as volwasse individu nie, so ek kan nie nou huis toe hol en onder die boom gaan huil nie, ek moet my ding doen.
Maar nou’t ek darem ook geleer van gee en jy sal ontvang, dis Oukersdag en pleks van hier sit en depressed raak, kan ek ten minste iets doen om my naaste te vertroos soos die Royal Family maak op die TV. Ek sit af hospitaal toe.
Klim van die bus af, loop deur die tuin ingang toe en net toe ek die eerste trappie wil klim, besef ek vir die heel eerste keer in my lewe ek is nie Prinses Diana nie. Wat de hel kom soek ek nou eintlik in hierdie hospitaal?
Wie op aarde soek ’n bemoedigende handdruk by ’n pienk ding met ’n swart kaftan? (En daai tyd het ek nog ’n Afro ook.) Ek meen, tot vandag toe stap ek nie by ’n vreemde man se kamer in as ek nie sy pyndrumpel ken nie.
In die kraamsaal lê daar dalk hierdie hoogswanger vrou, for all I know het haar water al in November gebreek, maar sy knyp dat sy bars, want die hele familie hoop vir ’n Kersfeesbaba, nou stap ek in, daai vrou pop mos dat hulle die bybie gangaf moet loop soek.
Ek kan ook nie die plek vol mince met ’n lekkergoedtrollie nie, mense sal dink dis ’n sirkusbeer op ’n trapkar. So wat nou?
Ek loop sit op die trappie. Hier langs my is so ’n geroeste geut wat van bo af kom. Nou sit en dink ek. Daar moet tog iets wees wat ek kan doen.
Ghoeps! val ’n druppel by die geut uit. Eers kliek dit glad nie by my wat soek ’n druppel in die geut in die middel van die somer nie.
Ghoeps! val nog een. Ek kyk teen die muur op.
Ek’s lief vir jou, sê die geut.
Ek sê, Voertsek, jy ken my nie eens nie.
As ek jou net kan sien, sê die geut.
Ek dink, OK, loop staan op die lawn. Ek draai eers diékant, dan daaikant.
Ek sê, Kan jy nou sien?
O, ek het jou lief, sê die geut.
Ek sê, Wil jy agter ook sien?
Twee oumense kom by die deur uit.
Die mowwe is almal mal, sê die vrou en gee my ’n vieslike kyk.
Jy’s ontsettend onbeskof! sê ek.
Hou my net vas, sê die geut.
Ek sê, Nee, sies man, die mense praat al klaar.
Kom jy? skree ’n spierwit nurse skielik agter my.
’n Ambulans hou stil en hulle ruk ’n stretcher daar uit. Wat op die stretcher was, weet ek tot vandag toe nie. Óf ’n rugbyspeler, óf die grootste bloedklont op aarde, maar daar’s nie tyd vir vra nie.
Hou vas! skree die nurse en druk die drup in my arms. Vinnig, vinnig! skree sy.
So hol ek saam met die stretcher die hospitaal in, op met die lift, tip die klont op ’n bed en hang die drup op.
Was jy al by die geut hier buite? vra ek vir die nurse.
Ekskuus tog? sê sy.
Ek sê, Gaan staan net bietjie daar.
Het jy koors? vra sy.
Ek sê, Iemand moet net gaan kyk.
Help! skree die nurse gangaf, Hier’s nog een!
Ek sê, Jy hoef nie vir almal te vertel nie.
Hier kom ’n dokter aangevlieg. Het jy ’n mediese fonds? vra hy.
Kyk hoe sweet hy, sê die nurse.
Trek af jou broek, sê die dokter.
Julle’s almal dieselfde! skree ek.
Moenie worry nie, sê die dokter en druk die naald in, Jy’s nou veilig.
Donkernag kom ek by. Dis tjoepstil. Ek lê in hierdie piepklein kamertjie, wit jurkie aan, papiertjie om die arm.
Maar ek’s dronk in my kop. Waar’s die boom? skree ek.
Dis tjoepstil.
Waar’s my presente? skree ek.
In die deur staan twee spierwit engele.
Die malle is wakker, sê die een.
Ek sê, Watter liedjie gaan julle nou sing?
Hou jou bek, sê die ander een, Ek sit jou uit.
Hy gaan die hele nag raas, sê die eerste een, Ons beter die naald loop haal.
Nou weet ek, ek moet hier uit. Slinger venster toe, maar dis op die boonste verdieping.
O, ek’s lief vir jou, sê die geut hier langs die venster.
Ek sê, Dis alles jou skuld. Help my nou.
Hou net vas, sê die geut.
Ek’s uit by die venster, klim die geut tot op die dak, my hart klop op my voorkop.
Boetie, is dit jy? vra ’n stem.
Ek skrik my hele jurkie nat. Voor my lê ’n ou vrou met ’n gipsbeen.
Ek sê, Wat maak Antie op die dak?
Dis Krismis, sê sy.
Ek sê, Ja, maar die skoorsteen is aan die ander kant. Kan ek saamspeel?
Ek wag net hier, sê die ou vrou.
Ek sê, Antie moet afklim!
Soek my eie bed, sê sy, Hulle vat my nie weer nie. Hulle steek jou weg!
Ek sê, Vir wat?
Oor Boetie my kom haal. Hulle weet hy kom vir Krismis. Met die kleintjies en al. Boetie’t ’n nuwe kar ook. O, ek’s lief vir jou.
En sy huil ’n traan by die geut af.
So sit ek toe my eerste Kersfees van die huis af op die dak en wag vir Boetie. Maar daar kom niks.
Volgende oggend is ek en die ou vrou van die dak af. Sy lê weer met haar been en ek loop die straat af. Ek worry nie meer oor die mense nie. By elke geut gaan ek staan, dan sê ek saggies, Geseënde Kersfees.