Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 25

Billy-Dean 7

Оглавление

Ek kan nie glo ek was so simpel nie.

Vandat ek verstand gekry het, weet ek al van die Engel. Ek gee hom ’n naam, ek praat met hom, ek teken hom. Twee jaar lank al het hy ’n gesig, en ek weet hoe dit lyk, maar ek sien niks raak nie.

Eers een aand, twee maande terug, is ek in die straat en Sagte Lucas staan voor die blink huis. Die ruite gooi die straatligte oor sy gesig. En toe sien ek, dis Vincent se gesig! Dis hoekom niemand hom verstaan nie, Sagte Lucas is Vincent! Dis hoekom ek hier moes kom bly, die Slang sit met my Engel! Miskien is die stories waar! Miskien hou sy hom gevange!

Nou weet ek nie. Ouma het eenkeer van die eier af gesê elke mens kry ’n teken. En ek weet Lucas is my teken, maar wat doen ek?

In die nag lees ek, En hy het die engel nie herken nie.

Ek kry nie meer geslaap nie. Ek drink my slaappille op, maar dit help nie.

Ek lees nog, Maak jouself gereed. Soos die bruid vir haar bruidegom.

Ek is by Antie Baard se lapwinkel in. Ek vra satyn, goudgeel soos die son. Antie Baard vra vir wat is dit. Ek sê vir ’n troue. Wie trou? vra sy. Ek weet nie, lieg ek, Mrs B maak die tafeldoeke. Ek dog dis pienk, sê Antie Baard en knip die satyn.

Ek werk elke nag. Ek maak die kopstuk, die veil en die sleep.

Sondag 30 Augustus 1992. Ek kan nie meer wag nie. Die oggend ná kerk wag ek vir Sagte Lucas by die hek. Hy skrik bietjie. Ek sê, Lucas, jy moet vanaand na my kamer toe kom. En Mathilda mag nie weet nie.

Hoekom? sê hy.

Want dit kan nie meer wag nie.

Kwart oor sewe, dis al donker, klop Lucas. Ek is aangetrek, die kerse brand, daar’s blomme en ek sit op die bed, so half agteroor, want dit lyk die beste.

Kom in, roep ek, en my stem breek op al twee woorde.

Lucas staan in die deur.

Ek hou my stem laag, Wat kan ek vir jou ingooi? Ek weet nog nie wat julle engele drink nie.

Lucas se hand bewe toe hy die deur toemaak. Ek is nie jou engel nie, sê hy. Wat gaan op jou kop aan?

Dis vir jou, sê ek. Ek wil vir jou wys ek weet.

Weet wat? sê Lucas.

Dat jy Vincent is, sê ek, kyk. Ek wys hom die prente in die laai.

Billy-Dean, man, moenie vir jou snaaks hou nie, sê Lucas. Wat teken jy my so? En watsit met die vlerke?

Ek sê, Maar Vincent, dis hoe jy rêrig lyk! Elke keer as jy met my praat, weet ek hoe jy lyk.

Wie’s jou Vincent? sê Lucas. En van wanneer af praat ek miskien met jou?

Jy’s dan die Engel! sê ek. En jy hoef dit nie meer weg te steek nie, ek weet dit nou.

Wat engel jy my so? skree Lucas. Is jy snaaks, hè?

Ek sê, Vincent, maar hier’s ek dan nou voor jou. Ek is nou joune, meer as ooit vantevore. Jou slaaf, jou bruid, enigiets!

Billy-Dean, hou op! skree Lucas. Jy moet ’seblief ophou!

Ek kan nie meer wag nie, skree ek, ek moet by jou wees, Vincent, heeltyd.

Dit voel skielik of my kop wil bars. My oë brand.

Sy gesig is hier naby myne, ek kan sy asem voel. Sy trane val op my gesig. Eers dink ek hy wil die veil afhaal, maar hy draai dit net om en om. Hy’s baie naby my. Ek soen hom. Ek voel hoe nat is sy gesig. Maar ek kan niks meer sien nie. Hy hou my oë toe en om my nek trek hy die veil nog stywer. En nog stywer.

(uit White Soul, Maart 1993)

150 Stories

Подняться наверх