Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 33
Orrel
ОглавлениеWaar ek vandaan kom, was daar ’n man wat nooit getrou het nie. Hy’t elke dag net so in die pad afgekom dan’t ons hom dopgehou in case dit gebeur. Eers maak sy oë so pap en sy mond raak soos ’n speed cop, stokstyf en blou, en dan kom dit. “Hoe groot en magtig oorweldig my die klank van die orrel.”
Dan hardloop ons en hou hom vas en vryf sy rug en sê, Voel Oom beter?
Partykeer as dit baie warm was en daar’s nie weerstand op die dorp nie, sommer twee keer per dag. “Hoe groot en magtig oorweldig my die klank van die orrel.”
Hardloop ons.
Sondae was die ergste. Ons sit almal op ’n ry. Dié van julle wat al in ’n kerk was, sal weet daai tyd het elkeen mos sy eie plek gehad en as daai plek oop was dan’t hulle geweet wie. Maar nie ons nie. Ons is almal daar vir die sideshow. Heel teen die kant, net agter die bank met die earphones, sit die man. Buig eers die hoof, sit sy kollekte neer, dan kom die twee hoofouderlinge, Meneer Brynard van die spesiale skool en jags Oom Fick en dan strap hulle vir hom vas.
En familie wat kuier van die ander dorp af raak dan heel op die rondskuif, watsit nou, ons sê niks. Maar laat die orrel net die eerste noot gee, dan gaan daai man homself tegemoet. Hy slaat apostel in daai bank, dit krul en skuif, dit snik, dis ’n gemoan, pelvic thrusts, sy hare is later nat. En laat die orrel net klaarmaak, ffpp, slap in die strap.
Die mense het gepraat oor die man, want die res van die tyd was daar met hom niks verkeerd nie. Party het gedink dis oor die orreljuffrou wydsbeen speel, want sy’t oor die pos geleer. Baie het gesê hulle moet hom inspuit, hy soek net aandag en ’n paar het gesê hy’s werklik vervuld.
As hy was, was hy nie al een nie, Sondag vir Sondag het ek in daai bank gesit en ek het geleer hoe lyk sweet op ’n man.
En toe op ’n dag, die kollekte is al verby die bleek Willemses hier agter, orrel is oop-en-toe op pad klimaks toe met een van Wydsbeen se Unisa-stukke, hier gaan die krag af, orrel gee net ’n sluk.
En onthou vir ’n dorp vol vuil gedagtes is stilte ’n groter skok as ’n los bom. Ons skrik vir ons rein.
Asem, snik die geheimsinnige, nat, gestrapte man. Water en lig, snik hy.
Kom pomp die ding, sê die orreljuffrou.
Oom Fick is oor die balkon.
Kyk hoe gloei die malle, sê een van die Bosman-susters.
Maak los die strappe! skree Antie Henning van die koshuis.
Heel agter sit blinde Oom Emsie in met vers 2 van “O, eensaam, eensaam woestyn”.
Toe gooi die man sy kop agteroor en toe kan ek dwarsdeur hom sien tot by die anderkantste strap.
Weg, skree Antie Henning, Weg is hy!
Mense hou mekaar vas en huil skaamteloos. Oom Emsie sing nou so hard, niemand kan met mekaar praat nie.
En toe gaan die krag aan.
Speel! skree die mense.
Die juffrou maak haar bloes toe en druk die eerste akkoord af. Daar’s niks.
Is my blindgeid nie genoeg nie? skree Oom Emsie. Vat alles! Laat my wandel in die nag!
Orreljuffrou druk, maar dis tjoepstil. Dit maak net so ghoef! of die pype vol is.
Daai aand het ons ’n buitelugdiens, die mense voel te aardig vir binne.
Die hele kontrei se pype is vol, oral sing mense alleen, soos by die Groot Trek, stadig en depressed. Maandag sit almal orders in vir orrels, hulle mis die man, hulle ken niemand anders wat tekere gaan nie, niemand wat kan moan nie. Ons sit buite, niemand kom padaf nie.
In standerd 8, toe’s my bene lank genoeg. Nou neem ek orrel.
Ek oefen elke dag, loop verby die straps, op met die galery. Sit die orrel aan, daar’s niks. Dan wag ek bietjie tot hy weet dis ek, dan maak hy die pype oop. Ek weet mens oefen aparte hande, maar ek trek daai ding oop, hy’s in die straps, ek is wydsbeen, en ons kry so lekker, g’n mens sal ooit naby dit kom nie.
Sondae sit hulle nog steeds buite.
Dan sing hulle. Heel aardig en vals.
Dan staan Oom Emsie kiertsregop en hy skree, Laat my wandel! In die nag!