Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 29

Buurvrou en die bus

Оглавление

Twee dae nadat ek in Verwoerdburg ingetrek het, ontdek my buurvrou mens kan goed leen. Sy’s medies ongeskik, want sy bewe, maar niks van afslack nie, sy’s aktief. Dis senuwees, kort-kort in trane, daai onderlip wil net moed opgee, maar daai klokkie lui, dan’s dit net, Ag ek het gewonder, en daar gaan ons weer.

Dis Saterdagoggend, klokkie lui, ek het die vorige aand ’n show gehad, twee van die ushers is nog in my kamer, ek sê, Lê nog bietjie, ek sal gaan kyk.

Kry vir my ’n handdoek. Hier staan sy weer, vryf die handjies, bewe haarself halfpad uit fokus uit, trane sit net hier.

Het jy vir my ’n helmet? sê sy.

Ek sê, Gaan jy weer kondensmelk kook?

Nee, sê sy, Ek wil dorp toe met die bus.

Ek sê, Nou wat met die helmet?

Higiëne, sê sy.

Ek is by die kas in. Ek het net ’n fondue set, sê ek.

Is fine, sê sy en sit dit op.

Ag, wil jy nie saamkom nie, ek raak so nervous. Passasiers maak my vreeslik agterdogtig.

Nou staan en dink ek aan die tweetjies wat wag, en aan my ma wat altyd sê van jou naaste. Maar my ma wen altyd.

OK, sê ek, Ek trek net gou aan.

So ry ek toe bus vir die eerste keer, langs my sit liggeel pinafore met die helmet en ’n mandjie. Ons is op die highway, verby Unisa, en net toe die bus die afdraand vat, hier staan my buurvrou op, loop vorentoe en maak haar mandjie oop. En toe kry my metabolisme ’n permanente knak.

It’s showtime! skree sy en gooi ’n baksteen onder die briek, en daar gaan ons.

Ek sê, Is jy mal?

Vandag, skree sy, is daar geregtigheid op hierdie dorp!

Die busbestuurder is te besig om die verkeer en ander bekende bakens te mis om by die briek uit te kom. Nes hy wil buk, slaat sy vir hom wap! met die mandjie.

Ek is by die agterste ruit besig om die pram wat ons by die putt-puttbaan gehaak het, los te maak, dis vir my so hartseer, ek kan al klaar sien die tweeling binne-in gaan eendag leerprobleme hê en die regses join.

Met dié is ons deur Sunnyside se Kentucky, die twee queens in die toilet wil net begin afterglow, toe sit hulle op straat.

Intussen het ek begin om my kleingeld onder die armes op die bus uit te deel en ’n gelofte gemaak om nooit weer buite die huwelik te verkeer nie, as ek net gespaar bly.

Alle oë na voor! skree my buurvrou, Hier’s ons nou!

Toe ry die brieklose bus deur ’n tiekiebox, in by ’n voorportaal, dwarsoor ontvangs en die meegaande personeel, deur ’n muur en toe sien ons net hoe verdwyn ’n vaal man met ’n computer en ’n lessenaar, en toe staan ons tjoepstil.

My kaartjie is nog tot in Wonderboom-Suid, sê die vrou voor my.

Man, klim net uit, sê my buurvrou.

En toe sien ek sy’t ophou bewe, die helmet is af en daar staan sy met ’n lieflike blos.

Stoot mos my huur op vir niks, sê sy, En kyk hoe lyk hy nou.

Ek sê, Maar hy mag mos, dis mos sy plek.

Ja, hy mag, sê sy, Hulle mag almal. Word mos in die botter gebore, almal van hulle, is niks anders gewoond nie, en dan moet ons hulle daar hou. My kind wil ook loop leer, met wat? Dis net dié wat klaar gevreet is wat mens moet bly volstop. Nou sê ek vandag vir jou, jy kry vir jou ’n helmet en fuck them all.

Toe gaan loer sy onder die bus in.

Shame, sê sy, Kyk hoe plat is hy nou.

150 Stories

Подняться наверх