Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 37

Egipte

Оглавление

Die oggend nadat ek vir die eerste keer my virginity verloor het, was vir my verskriklik. Dit was die weirdste gevoel. ’n Paar ure terug was ek nog besig om lief te hê, te bemin, en hier staan ek op en ek voel soos Hadush, die moeder van alle hoere. Ek is nog nie eens behoorlik wakker nie, toe’s ek aan die beddegoed was, ek bad in Dettol, kyk nie af nie, want niks hier onder is meer myne nie. Skuif meubels rond, hang paintings oor, maar niks wil help nie.

Op die ou end besluit ek ek moet net uitkom. Hier af Verwoerdburgstad toe, maar ek’s so half in ’n dwaal en verder voel dit vir my almal weet wat ek laas nag aangevang het. Hier spring so ’n meisietjie voor my in.

Julle ken mos daai look, aan die begin van elke jaar is die hele plek mos vol sulke eerstejaarmeisietjies met gefluffde ponytails wat kollekteer vir koshuise en karnavalle, en dan bestorm hulle jou soos ’n Siamese tweeling wat tiet soek.

Hier kom die enetjie op my af met so ’n B.A. Tale-grin.

Ag toe, sê sy.

Ek sê, Maar voertsek, jou klein woer-woer.

Ek’s van Huis Embuia af, sê sy, Ag koop ’n kaartjie.

Ek sê, Besef jy wat met my gebeur het?

Ag toemaar, sê sy, My kamermaat is net so vet, jy moet net baie water drink. Toe, dis net vyf rand.

So koop ek toe die kaartjie, kyk nie wat daarop staan nie.

Twee weke van selfkastyding verby, lui die foon. Ek het ’n vakansie gewen in Egipte.

Kan mens dit omruil? vra ek.

Nee, sê die vrou. Een van die koshuismoeders het ’n contact op ’n olieboor, anders sou hulle dit nooit kon bekostig het nie.

Op die ou end besluit ek enigiets om vir ’n tydjie weg te kom.

Die Vrydag staan ek en my wardrobe op die lughawe. Maar hulle kon wragtag nie baie bekostig nie. Ek’s in economy op Air Tanzanië. Die hele vliegtuig is vol inboorlinge met draadhokke en fietse. Ek soek net hulp.

Hier in ’n hoek staan ’n donker ding met so ’n blou streep. Ek dog eers dis ’n broodboom wat gemerk is vir teeldoeleindes, toe sien ek dis die lugwaardin. Shame, hulle het seker ’n lugleegte getref toe sy die make-up wou opsit.

Kan ek ’n bietjie water kry? vra ek.

Die water het ’n virus, sê sy, Ons drink net champagne. Maar ons moet eers try opstyg.

Drie bloekombome, die uitsaaitoring en die helfte van die parking lot later is ons in die lug, heel van koers af, want die een pilot is dood soos ons deur die electric fence is.

Hier agter my slag hulle hoenders vir lunch en die een met die streep deel net champagne uit. Ek’s so nervous, ek vergeet heeltemal van my virginity.

Lang storie kort te maak, net ná lunch, ek’s op soek na ’n toothpick, want daar’s ’n veer in my kiestand, toe sê die pilot ons moet ’n noodlanding maak, die roof rack het losgegaan, daar sit ’n melkbok in die een propeller.

Ek het eenkeer by die blindeskool gesien hoe duik een van die prefekte in ’n leë swembad in. Met dieselfde impak tref ons toe die enigste teerpad in Kenia. Almal uit die vliegtuig, ons moet deur die oerwoud loop, ons mag nie op die pad nie, want die koning van Kenia oefen vir sy learners, hy’t al amper die helfte van die bevolking op die teerpad uitgewis.

Twee dae later, ek’s amper dood, kom ons by so ’n kraal aan. Almal storm vir die hut met die Coca-Cola sign. Die plek is pikswart, die waiters is pikswart, die kos is pikswart. Maar ek leer vinnig. As daar iets verbykom, gryp net. As dit nie tande het nie, is dit jou sop.

Gelukkig kry ek toe ’n lift met ’n sendeling wat moet fietsry vir sy arthritis. Dié’s so nice, vat my rivier toe en verpand sy onderstel dat ek kan plek kry op ’n kano en so vaar ek Egipte binne, net betyds vir die laaste twee dae van my prys.

Nou sit ek in ’n hotelletjie langs die rivier. My bagasie is weg, my geld is weg. Die TV kan jy nie kyk nie. Dié’s (seker nou vir toeristedoeleindes) in die shape van ’n piramide. Blake sê vir Crystal hy’t haar lief, dan kyk haar een oog hier by die Nyl af. Maar ek voel beter, ten minste kry ek bietjie slaap en my virginity is amper terug.

So besluit ek ek kan darem by die piramides ’n draai loop maak. Sit af soontoe. Maar die goed is groot. Ek is agter ’n spul toeriste by die deur in. Maar dis boring. Alles is van klip. En alles is vol toegeverf met sulke geel Biggie Best-kak. In die hoek staan ’n mummie, as jy vyf rand ingooi, val daar ’n pakkie Camel onder uit. Maar die heel ergste is die stof.

Hier reg voor my loop so ’n maer vrou met ’n dik vlegsel. Sy’t een van daai sweetpakbroeke aan wat so bol hang hier onder. En ek kan my mos verkyk aan sulke goed. Nou loop en dink ek, as ek nou hierdie bol hier vastrap tot sy anderkant uit is en ek laat los dan, gaan daar mos nou nie ’n krieseltjie stof in hierdie piramide oorbly nie. En dis die minste wat ek kan doen vir die toeristebedryf in Egipte. Trap vir hom vas.

Die spul is om die hoek. Ek staan en kyk hoe begin hierdie ding styftrek. En toe hy nou net lekker begin spanning opbou, hier kom so ’n man om die hoek, vol make-up en verbande. En dis ’n mooi man.

Maar iets sê vir my hierdie man is derduisende jare oud.

Ek sê, Chris Barnard, wat maak jy in Egipte?

Ek is Ramses XI, sê die man dat die plek weergalm.

Ek sê, Maar wil jy dan nie bietjie gaan lê nie, shame, jy’s seker al moeg, jong.

Met dié bereik die vrou die ander kant en ek laat los en die ding spring terug dat hulle daai toeris en haar broek die volgende dag chirurgies van mekaar moes verwyder. Maar as daar nou al ooit ’n skoon piramide was, was dit toe. En soos die lug helder word, kyk ek vas in die moegste paar oë wat ek nog ooit gesien het.

Ek sê, Is jy nog steeds hier?

Ek kry nie geslaap nie, sê Ramses, As ek my oë toemaak, sien ek dit.

Ek sê, Wat?

My glips, sê Ramses, Ek wou net ’n entjie gaan stap, toe sit sy daar agter die duin.

Wie?

Die kamermeisie. Ek kon nie help nie. Dit was net die een keer.

Het jou vrou uitgevind? vra ek.

Maar natuurlik nie.

So what?

Maar ek weet, sê Ramses XI en hy lyk nog ’n eeu ouer.

En my virginity? vra ek.

Dié kry jy nooit terug nie, sê Ramses.

Toe gooi hy sy verband oor sy skouer en gaan koop vir hom ’n pakkie Camel.

150 Stories

Подняться наверх