Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 32

Koor

Оглавление

Soos die verkiesing nou klaarmaak, so besef die vooroorlogse instansies hulle moet ook nou shape om aan die gang te bly, maar nie te veel nie, so bel hulle vir my, want ek is mos nou half tussenin. Nou bel hulle, man, kak wat nooit naby my wou kom nie.

Lui die foon, ek sê, Môre. Hier sit ’n diep stem op die lyn, sê hy’s van die Afrikaanse Stigting.

Nou sit ’n mens mos die foon neer. Maar ek sê vir myself, as hierdie man lyk soos sy stem, kan mens mos maar hoor wat hy wil hê.

Nee, sê hy, Kan hy my kom sien, sommer vandag.

Ek sê, Oo, ek het ’n paar goedjies, maar kom sewe-uur.

Halfsewe maak ek die voordeur op ’n skreef, dim die gang, tap die bad, maak skuim, gooi wyn in, nou’s ek en die g-string in die water.

Tien oor sewe, ek begin net goed rimpel, hier gaan die klokkie af. Ek’s net Mae West, vat nog ’n slukkie. Ghoef, slaan die voordeur toe. Dis tjoepstil, hy’s nou seker in die gang, ek plas bietjie dat hy kan rigting kry.

Naand, sê die man om die hoek.

Ek sê, Hoe vang jy my nou onkant. Kan dit al sewe-uur wees ?

Ag jammer, sê die man.

Ek sê, Sit sommer hier wat, ek is nou in die water. Wil jy ietsie drink?

Nou sit hy op die rand, ek gooi vir hom ’n wyntjie, kers vang hom reg van voor. Snor op die lip, ken is onder baard.

Ek dink, Nataniël, kyk hom in die oë.

Ons by die Stigting doen allerhande goed, sê die man.

Ek sê, Wragtag.

Ja, sê die man, Dit gaan oor ’n koor.

Ek sê, En daar is niks fout met jou stem nie.

Nee, sê die man, Dis nie vir my nie, ons gaan een stig.

Ek sê, Stig julle baie goed?

Ag, ons doen wat ons kan, sê die man, Hier ’n fonds, daar ’n trust, maar ons soek nie erkenning nie.

Nou weet ek dis tyd.

Ek roer so in die skuim, laat sak my oë en toe sê ek saggies, En ek? Waar pas ek in?

Die man gooi sommer nog wyn in, nou weet ek hy’s nervous, maar ek speel my hand. Gently bombardeer ek hom verder. Spanning is so magtig, fluister ek, Dit oorweldig jou net en dwing jou na wie weet waar.

Ons gaan na al die gevangenisse, sê die man.

Vang my vas, sê ek.

Nee, sê die man, Wat ons nou stig, is die Amnestie-koor.

Ek sê, Bandiete?

Ja, sê die man, Hulle kry mos nou almal amnestie. Maar ons vat net die beste.

Ja, sê ek, Mens moet vat wat jou kant toe kom. Stig ’n koor, stig ’n brand.

Wat moet hulle nou doen? sê die man. Party sit al jare, kan nie net begin werk nie, en musiek is so helend.

Ek sweet sommer in die water. Ek sit my nat hand op sy been. Ons kyk mekaar in die oë.

Ek vra weer, sê ek driftig, Wat van my?

Jy doen mos bietjie van alles, sê die man.

Jy’s ’n digter, sê ek.

Jy kan mos raak vat, sê die man.

Ek sê, Jy praat in verse.

Ons het jou te lank onderskat, sê die man.

Ek sê, Fok Langenhoven, fok almal.

Vat die koor, sê die man, Laat hulle sing, uit hulle kele.

Ek sê, Soos Cutt Glas! Volksmusiek, jazz, blues, pop!

Bietjie van alles, sê die man.

Bietjie van jou, sê ek, Bietjie van my.

Ek is naak. Ek slaan my g-string voep! op die water, voep! teen die bad.

Ek sê, Stigtingsmannetjie, wat sê jy vir my? Sê jy vir my ek moet perform met ’n galei van diewe, moordenaars, ontvoerders en verkragters?

Skielik gly hy. A cappella! gil hy. Hy’s in die water. Blommetjie gedenk aan my! borrel sy mond. Ek is bo-op hom. Thank you for the music! maak die borrels.

Ek’s klaar ingepak toe hulle die Stigtingsman uit die bad uit kom haal.

Net ’n paar goed, want hulle gee vir jou klere. Nou lyk ons almal dieselfde, maar ons mind nie, ons weet ons is klaar ’n koor.

Ons oefen kliphard, party goed in stemme, party goed saam. Die dag as hulle ons loslaat, perform ons oral. Ons weet wat ons gedoen het, mense kan maar skree, Vullis en Boe. Ons staan kiertsregop en ons sing.

150 Stories

Подняться наверх