Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 28

Buurvrou en die bruid

Оглавление

Die Saterdagoggend wil ek bietjie in die tuin gaan krap, maak die voordeur oop, hier’s net ’n gat met ’n hek.

Ek sê, Waar’s my tuin?

Kerk toe, sê ’n stem, Vroeg al.

Ek sê, Hoe kom my tuin in die kerk?

Met die familie, sê die stem. Hele lot het kom help.

Ek sê, Ag, en kan jy dalk vir my sê in watter gemeente is my tuin? Ek’s so bang hy’t sy kollekte vergeet.

Man, sê die stem, Is AGS.

Ek sê, Wat soek hy by die apostolies? Ek gee hom elke dag water! En van wanneer af praat ek met ’n leë gat? En waar’s my posbus?!

Ek is op die punt om grootliks te amok, toe sien ek hier anderkant hover iets pienks in die lug. Ek’s deur die gat hek toe, hier hang my buurvrou in die lug. Sy’s geklee in ’n vuilpienk chiffon-driestuk, sy hou ’n boomtak in haar arms en haar voete trap teen die Vibracrete vas, nou hang sy dwars gespan in die lug.

Ek sê, Verskoon my, dit het seker niks met my te doen nie, maar kan jy dalk vir my sê hoekom hang jy op ’n Saterdagoggend in my boom?

My dogter trou, sê sy.

Ek sê, Dankie, dit verduidelik alles.

Die tak drup gom, sê sy.

Ek sê, Lede van jou gesin drup gom.

Sy sê, Ek moet hom vashou, anders drup dit op die kar. En die balloons moet nog op. Ek trou nie my kind af met ’n taai kar nie.

Ek sê, En waar’s my lawn?

Watse ma dink jy is ek? sê sy. Dis in die foyer vir die foto’s.

Ek sê, En my dammetjie?

Voor die kansel, sê sy, Ons tema is Lagoon.

Ek sê, En my poinsettias?

Watse geloof is jy? sê sy, Dis teen die banke vir die instap!

Ek sê vir haar, Oor die hele aarde woon mense langs mekaar. Hulle groet mekaar oor die heining, hulle leen mekaar se suiker, party kyk saam TV, in die Ooste vryf hulle hul neuse teen mekaar, maar NIEMAND leen mekaar se tuin nie! Besef jy dat ek reg onder jou staan? Dat ek binne die volgende tien sekondes my kamera gaan haal en jou groot pienk gat gaan afneem en dit gaan opblaas en billboards daarvan gaan oprig op elke hoofpad sodat mense gaan stilhou en by die duisende gaan selfmoord pleeg totdat net ek en jy oorbly? En dan gaan ek jou in hierdie gat plant en kunsmis voer totdat jy my hele tuin toegroei en dan gaan ek jou stadig afsaag met ’n stomp mes. Jy’t ’n halfuur, dan’s my tuin terug. En nou verlaat jy my boom.

Toe stamp ek haar voete onder haar uit en die tak spring terug dat sy buidel eerste op haar voorstoep land.

Ons moet ry! skree sy.

Ek’s nog lank nie klaar nie. Ek’s agter haar by die huis in.

My hoed! skree sy gangaf.

Hier in die hoek van die slaapkamer sit iets in poeierblou. Ek dog eers dis die jacuzzi wat ontplof het, toe beweeg dit. Net nie die veil nie! huil ’n stem. Toe sien ek dis die bruid. Op haar kop sit my posbus. Die deurtjie is oop en langs Maitlandstraat 40 loer ’n duif uit.

Langs die bruid staan ’n seegroen strooimeisie.

Ons werk al van gister af, sê sy, Ek moet lyk soos Brooke Shields.

Ek sê, Of soos ’n cracker wat te vroeg afgegaan het.

Die bruid wieg heen en weer. Het jy die veil gebring? vra sy.

Ek sê, Nee, ek het eintlik net kom pos uithaal.

Sy vat so aan die posbus. Die duif is vir vrede, sê sy.

Ek sê, ’n Voël op jou voorkop. Kan ’n mens groter vrede vind?

Toe kom haar ma om die hoek. Sy’t ’n skulp met orgideë op haar kop en agter haar sleep sy al die blou tulle in Suid-Afrika.

Net nie dit nie, huil die bruid.

Sit stil, sê haar ma en buk vooroor en toe sy klaar is toe sit daar ’n gletser in die hoek.

Ek sê, Het julle pikkewyne ook?

Honde, sê die cracker, Is ’n polisietroue.

Ek kan niks sien nie, sê die bruid.

Wat wil jy sien? sê haar ma, Hy’s ’n sersant! Ek trou jou in die range op, hulle trek vir jou ’n saluut van die sypaadjie af met elke van in die dorp en jy sit en ruk jou op! Wat wil jy van my af hê?

Ek wil by die huis bly, huil die bruid, Nog vir lank!

Die kerk is net geboek tot vanaand, sê Brooke Shields.

Ek sê, Blou bruid, jy hoef nie te trou nie.

En hy’t so ’n mooi snor! sê die ma.

Ek sê, Trou hom.

Toe start daai bruid haarself op en trek stoep toe.

Wat gaan die mense van my dink? skree haar ma.

Hulle dink niks, skree die bloue, Dit weet ek van lank af! Toe ek tien was toe staan ek hier en toe sien ek die eerste keer oor die heining.

Ons kyk almal oor die heining. Voor ons lê die dorp en al die huise van almal wat ons so goed ken. En voor elke huis is ’n gat.

Sien julle, sê die bol net, Hulle wag nie vir swembaddens nie. Hulle sleep alles kerk toe en trou iemand af. Dan bou daai een ’n huis en krap ’n gat oop en nog een trou af. En dit traak my nie, almal kan vir ewig woon in lelike dorpe, maar ek loop nie eendag padaf en dink daai gat is myne nie. Nie vir ’n snor of ’n saluut nie en ook nie vir Ma nie.

Toe haal my buurvrou haar skulp af en gaan lê in die kamer.

Daai aand is dit volmaan en al die vans is weer op diens en ek en die bruid begrawe die rok in die gat en pak die lawn bo-op.

So bly ek op my eie en as mense verbyry dan sê hulle, O, maar jy’t ’n mooi tuin.

Dan kyk ek oor die heining en ek smile, want ek weet my gat is toe.

150 Stories

Подняться наверх