Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 36

Wie’t gehelp

Оглавление

Ek’s op universiteit, hier bel my ouma.

Ouma’t gedink jy kan nou nie so aangaan sonder ’n kar nie, met die gebus en getrein weet mens nie meer nie, deesdae is dit enige ding wat opklim, netnou lol hulle daar met jou, jy weet die kondukteur is ook nie altyd byderhand nie, en jou goed is altyd so mooi gestryk. Nou’t Ouma gedink jy moet loop kyk vir ’n tweedehandse karretjie, dan lui jy vir Ouma dat ons ’n geldjie kan deurstuur.

Nou kyk, ek loop omtrent elke dag verby die garage, ek weet wie werk daar. Ek raak so opgewonde, vergeet amper van die kar. Ek werk myself daar in ’n jean in wat laas in standerd 7 gepas het, bootse en ’n wit hemp, so half sigeuner. Sit af garage toe. Daai jean sê net, Kyk wie’s hier.

Kom by die garage, daar’s g’n mens nie, net ’n ou vrou met ’n optelmasjien.

Ek sê, Waar’s die een met die shorts?

Af, sê sy.

En die een met die kettinkie?

Af, sê sy.

Ek sê, Hoeveel kos ’n tweedehandse karretjie?

Duisende, sê sy.

En ’n klein tweedehandse karretjie?

Duisende.

Ek loop soek die goedkoopste een, maar die een is so duur soos die ander. Die jean maak al hoe seerder, wil net loop, hier staan so ’n kleintjie, net twee sitplekke.

Ek maak die deur oop.

Kan ek kyk? vra ek.

Voel hom, sê die ou vrou.

Nou klim ek in. Maar dis so klein jy moet die anderkantste deur ook oopmaak om in te kom, dan tel jy drie en klap albei gelyk toe en dan wag jy tot die ergste duiseligheid oor is.

Waar’s die starter? vra ek.

Onder jou knie, sê die vrou, Jy moet start voor jy inklim.

En die gears?

Hy’t net eerste, sê sy, Die plek was op.

Nou hoe ry ’n mens? vra ek.

Vorentoe, sê die vrou, Tot hy warm raak, dan klim jy uit vir asem. Maar’s ’n bargain.

Ek moet nou huis toe gaan, sê ek en wil die deur oopmaak, maar ek kry niks geroer nie.

Maak vir my oop, sê ek.

Hy kan net van binne af, sê die vrou, Is tweedehands.

Maar ek sit vas, sê ek.

Te veel gesweet, sê die vrou.

Nou wat nou? vra ek.

Ghries, sê die vrou.

Wat ek waar kry? vra ek.

Die ghrieser, sê sy.

Nou waar’s hy? vra ek.

Af.

Nou haal die dak af! skree ek.

Dis vir die sweiser om te sê.

Nou waar’s hy?

Hy werk van die huis af, sê sy, Jy moet ’n dag voor die tyd reël.

Bel hom! skree ek.

Waar’s jou lisensie? vra sy.

Vir wat? sê ek.

Ek moet dit invul. Anders kom hulle nie uit nie.

Dis by die huis, sê ek, Bel soontoe, sê iemand moet dit bring, doen net iets!

En toe maak die ou vrou die optelmasjien toe en vat haar handsak.

Wat maak jy nou? vra ek.

Dis vyfuur, sê sy.

Gaan jy nie bel nie? vra ek.

Ek loop vyfuur, sê sy.

Ek sê, Ek kan mos nie hier bly sit nie!

Tien oor vat ek die bus, sê sy.

Ek sê, Is jy mal, ek sit vas!

Ek mag nie eintlik nie, sê sy, Maar ek los die draadloos aan.

Toe skuif sy die voordeur toe.

Laat daai nag, terwyl ek baklei teen die trane, die sitplek, die jean en die pyn, toe hoor ek hoe hulle vertel oor die radio van ’n outjie in Pretoria. Hy’t ’n klomp mense doodgeskiet op die plein. ’n Ander ou in Massachusetts skiet almal in ’n winkel. En in Londen skiet een die hele spul in ’n kantoorblok.

En toe dink ek by myself, ek wonder wat hulle wou hê. Ek wonder of dit ook tweedehands was. En ek wonder wie’t hulle gehelp.

150 Stories

Подняться наверх