Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 31
Buurvrou en die bootjie
ОглавлениеSaterdagoggend wil ek bietjie in die tuin gaan krap, maak die voordeur oop, hier sit my buurvrou op die sproeier. Die rok is nat, is net seep en bloed, hare is vol glas.
Ek sê, Was ontbyt bietjie rof ?
Bly uit die wasbak, sê sy, Bly net uit die wasbak.
Ek sê, En dankie dat jy so betyds kom sê. Ek het juis Saterdae so ’n ding vir die wasbak.
Haar oë gaan al in die rondte. Space-mannetjies, sê sy, Hulle’s in die pype. Kom orals uit.
Ek sê, Maar gaan fokken snap in jou eie tuin.
Proppe help niks! skree sy, Hulle skiet dit af met space-bommetjies! Wakka!
Ek sê, Klim af van my sproeier af. Die pyp gaan bars.
Help niks, skree sy, Hulle kom net weer. En dan bring hulle nog. Is oorlog-space-mannetjies. Die bure anderkant het ook. Gys en Messie hier agter het al padgegee Kaap toe. Met die trein. Hulle was in die kar ook, in die tenk, skrik vir niks.
En toe staan die drukking op tien en die hosepyp maak ’n bol en lig my buurvrou dat sy in die driveway land. Space-bommetjie! skree sy.
Ek sê, Uit my jaart uit.
Ja, sê sy, Hier’s hulle nou. Nou’t jy ook.
Ek sê, Ek het niks. En jy het niks.
Sy’s langsaan om die hek, ek’s agterna. Waar’s jou kind? sê ek, Vir wat sit hy jou nie in die bed nie!
Die seun is in die polisie, hier staan hy wydsbeen in die gang. Sopnat, dis net seep en bloed, hare is vol glas. In my broek, sê hy.
Ek sê, Man, voertsek, dis heeltemal te skielik.
Sy oë gaan nes sy ma s’n al in die rondte. Mamma! skree hy, Haal dit uit!
Ek sê, Julle’s walglik!
Haal jy dit uit, sê die buurvrou vir my.
Ek sê, Nee, nee, nee! Ek het al genoeg seergekry.
Die seun gryp sy broek. Hoor daar! skree hy, Hulle praat met die klomp in die kombuis! Hulle gaan skiet!
Poep! skree die buurvrou, Boetie, poep hom dood!
Dit was nou die laaste, sê ek.
Dis wat jy dink, sê my buurvrou, Die kombuis is nog vol.
Ek’s om die deur. Hier in die kombuis sit die huishulp met ’n bak Weet-Bix. Die hele plek is sopnat, daar sit kos teen die mure, die vloer is toe onder skottelgoed.
Hulle’t nog ’n dogter ook, sê die huishulp vir die Weet-Bix, Sy’s ook in die polisie.
Ek sê, Met wie praat jy?
Comrade X, sê sy.
Hier in die Weet-Bix sit ’n klein duikbootjie met ’n ANC-vlag.
Ek sê, Is dit ’n kompetisie?
Viva, skree die duikbootjie, Gee ons net water, ons sit vas.
Kom die seun om die deur. Mamma hang in die garage, sê hy.
Ek sê, Nat konstabel, gaan haal haar af, ons is besig.
Hulle’s kwaad vir my, sê die huishulp, Ek het twee ingesluk.
Ek sê, Nou kyk jy nie waar jy eet nie?
Mens mag net een sluk, sê sy.
Ons moet beweeg, sê die duikbootjie.
Ek slaan hom klak! met die lepel. Sit in jou pap, sê ek, Niemand beweeg voor hierdie plek skoon is nie.
Hier gaan die bootjie oop, klim net ’n klein mannetjie uit.
Vuil sal dit bly, sê hy, Vrot binne en vrot buite.
Ek sê, ANC-space-mannetjie, ek wiks jou weer.
Jy kan niks meer doen nie, sê hy, Ons is oral. Ek is ’n Viva-soldaatjie en ek veg vir die waarheid en jy’s volgende.
Ek sit hom op die lepel. Ek sê, Ons weet almal van die Truth Commission en hoe hulle apartheidsmense jag op die TV. Daai Truth-minister was op die nuus, toe sê Freek Robinson mense met letsels kan inbel vir ’n refund, wat net reg is, duisende mense is deur ’n leeftyd van pyn, en moenie net kom met townships nie, op Mosselbaai moes ek in die skulpwinkel sing oor die kerksaal KP was. Nou kom vaar julle met speelgoed in mense se pype en pap rond. Dink jy ek gaan op die sproeier loop sit met ’n skuldige gewete net oor jy die buurvrou op hol het? Van my weet jy en die Truth-spul niks. Fok terug in jou pyp en gaan doen iets met jou lewe.
Daai mannetjie wip vir hom twee duim hoog op die lepel. Ek het my planne gehad, sê hy, Maar mense doen net wat hulle wil. Hulle krimp vir jou, hulle druk vir jou morsdood, jy kan nie help waar jy is nie. Jy sit met jou pa, jy sit met jou ma, loop kla jy by die skool, hulle glo niks, loop kla jy by die huis, hulle glo niks. Die een fight daai een en daai een loop fight weer ’n ander een en daai een kom fight vir jou en jy kan nie help waar jy is nie, jy word net kleiner en kleiner.
Mens mag net een sluk, sê die huishulp, As hy eers in is, is dit verby. Hulle sien alles.
Ma sit in die kar, sê die seun om die deur, Sy’t ’n pyp in die exhaust.
Ek sê, Loop ruik saam.
Gaan hy skiet? sê die seun.
Jy kan maar vergeet, sê die huishulp, Niks bly geheim nie. As jy jou bek oopmaak vir asem, dan praat hulle. Sommer hier verby jou tong.
Sluk jy? sê die seun.
Ek sê, Net in verhoudings. Gaan sê koebaai vir jou ma.
Sien jy? sê die soldaatjie, Die kak lê altyd by die huis. Ons ken almal, jy hoef nie oorlog toe te gaan nie. Jy moet net kyk.
Ek kyk mos, sê ek.
Sluk my, sê die mannetjie.
Ek sê, En dan wat?
Dan help ek jou kyk. En as jy nie praat nie, dan praat ek.
Ek sê, Maar jy mag nie skiet nie, en jy hou jou vriende uit my pype.
Ek moes kleintyd geskiet het, sê die mannetjie, Dan was ek nou groter.
Toe sluk ek die Weet-Bix en die Truth-duikbootdingetjie, want dit word laat en ek gaan huis toe en trek my costume aan. En as ek shows doen dan staan die mannetjie reg voor op my tong.
Partykeer skree die mense, Vullis en Boe, maar ons staan kiertsregop en sing.