Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 30
Buurvrou en die trollie
ОглавлениеDie Saterdagoggend kom ek by Woolworths aan, dis tjoepstil. Daar’s honderde mense, maar niemand beweeg nie. Ek vervies my oombliklik. Kyk, ek weet ek is famous, maar hierdie is nou heeltemal onnodig.
Ek vat ’n mandjie, niemand beweeg nie. Almal se oë staan stokstyf. Ek sit die mandjie neer, ek sê, Kry julle nooit genoeg nie? Nou maar kyk dan.
Sjjt! sê ’n man, Die ding gaan spring!
Ek sê, My skat, vir my koop jy eers blomme voor dié ding spring.
Skrik julle moffies dan vir niks nie? sê ’n vrou, Hier staan ons voor die einde.
Ja, sê die een langsaan, Hier kom hy nou, die ding met die koppe.
Ek sê, Man, dit lyk net so, ek koop altyd my jeans te klein.
Nou maar kry jy ons dan hier uit, sê die vrou en loer om die rak.
Ek loop om. Hier sit my hele buurvrou in ’n trollie. Sy’s bloedrooi in die gesig en sy wikkel so vorentoe.
Stoot my, sê sy.
Ek sê, Nee, ek is ’n Christen.
Man, die wielietjie is gedraai, sê sy, Kry my net aan die gang!
Wat soek jy in die trollie? vra ek.
Hulle bly vat my goed, sê sy.
Sy lieg! skree die mense.
Ek sê, Vir wat sal hulle jou goed vat? Die rakke is vol!
Sy hou sommer op wikkel. Ken jy mense? sê sy, Die goed soek mos net wat klaar gevat is, kan nie hulle hande afhou nie.
Lieg, lieg, lieg! skree die mense.
Ek sê, Dan roep jy die manager.
Ken jy die manager? sê sy.
Ek sê, Ja, en hy’s pragtig.
Hier kom die manager aan.
Ek ken vir jou, sê my buurvrou.
Ek sê, En jy’s nog mooier van naby.
Dankie, sê die manager, Ken jy dié vrou?
Ek sê, Dis my buurvrou.
Vat sy jou goed ook? skree die mense.
Sy kom nie in my huis nie, sê ek.
Wel, sy kom hier, sê die manager, En dis kort-kort se ding, die goed bly verdwyn.
Ek sê, Nou maar wie vat wie se goed?
Almal! skree my buurvrou, Uit my trollie uit!
Lieg! skree die mense.
Is haar rok, sê die manager, Die ding lewe!
Ek kyk my buurvrou. Gebruik jy nie Sta-soft nie? vra ek.
Aan wie se kant is jy? skree sy.
Ek sê, Ek soek net ’n hoender vir môre, nou sit jy in die trollie met ’n lewendige rok! Is jou kamerjas besig om karre te steel in die parking lot? Was jy die goed met steroids, of wat?
En toe, voor sy my kan antwoord, gee die rok ’n nies en sê, Ekskuus tog.
Shame, sê my buurvrou, Sy kry seker bedompig. Is jy orraait? vra sy en kyk by die collar in.
Toe’s die manager in my arms en die res huil oop en bloot.
Ek sê, Jy moet die ding laat skiet!
Onbeskof! sê my buurvrou, Sy’s my suster!
Ek sê, Van waar?
In my rok, sê sy.
Ek sê, Weet jy wie’s Murray Janson?
Man! sê sy, Dis al hoe sy bietjie uitkom. Dagin en daguit sit sy in die kamer.
Ek sê, Is dit Siamees?
Is haar oë, sê sy, kan nie lig vat nie. Ses jaar terug, kom by die huis, kry nie die sleutel in nie, buk by die gat, anderkant lê haar man wydsbeen met sy beste vriend. Toe kry sy die flikkers. Sit soos ’n mol.
Ek sê, Nou steel sy by Woolworths. Wie probeer sy terugkry?
Ek wou sê iets krap, sê my buurvrou. Druk haar hand voor by die rok in en haal die chips-papiere uit.
Ons moet praat, sê sy vir haar suster en klim uit die trollie uit.
En soos hulle uitstap en die mense begin weer shop, so druk die manager my nog stywer vas.
Jy verstaan mos, sê hy, Ek kon dit net nooit oor my hart kry om haar te vertel nie.
En ek bly maar stil en elke Sondag eet ek my hoender, want ek kry dit verniet.