Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 34

Harige Hilda

Оглавление

Ek weet nie of die mense mal is of wat nie, Kersfees het mos sy eie storie.

Maar reg rondom die wêreld is daar allerhande sprokies en legendes oor Kersfees. Die enigste een wat vir my mooi is, is ’n ware verhaal, die verhaal van Harige Hilda.

Jy weet mos, as iemand wat jy ken ’n kleintjie kry, dan gaan jy mos hospitaal toe met blomme en ’n bababaadjie om geluk te sê, en dan wil hulle mos die kleintjie vir jou wys dat jy kan sê, “O, dis mooi” en “Mens kan sommer sien na wie trek hy” en so, en dan lig hulle daai kombersie op en dan lê daar ’n ding met rooi bulte en geswelde oë, party is mos so geel om die neus en dan’t hulle sulke klein knoppies.

Van geboorte af, klein Hildatjie had it all. Dit was die grootste, lelikste baba wat ’n mens jou kon indink. Die kraamsuster het haar goed toegedraai en by haar ma loop los. Een keer per dag het hulle ’n skoon doek by die kamer ingegooi en verder wou g’n mens ooit weer naby kom nie. Buiten haar naam erf sy toe nou nog van haar ma se kant af die tipies Duitse gestalte wat sorg dat sy van kleins af massief is met ’n oorweldigende neiging tot harigheid.

Hildatjie het geweet daar’s fout, maar sy het onverpoos probeer maatjies maak, die gespot verdra, haar skoolwerk gedoen en dapper geglimlag. En toe in sub B voer die skool Aspoestertjie op en almal moet deelneem en die juffrou het nie ’n benul wat om aan te vang met die reusekind nie en besluit toe maar op die ou end hulle maak haar die vark in die slottoneel. Draai haar toe in pienk papier met ’n tennisbal in die mond en toe Aspoestertjie trou en die bal begin, dra hulle vir haar op met ’n silwer skinkbord, maar die ses kleintjies onder die skinkbord is net in sub B en die vark is groot en so beland Hildatjie toe gesig eerste op die tafel en sluk die tennisbal in.

Gordyn sak en haar ma het haar daar weg om die bal te gaan uithaal, maar van die Tweede Wêreldoorlog af weet ons almal van die Duitse gestel, daai tennisbal is verteer lank voor hulle by die huis aankom. Net Hildatjie het glad nie gehuil nie, sy’t skielik geweet sy’s vir iets bestem.

By die dag het sy eensamer geword, maar Hildatjie het haar dierbare self gebly, en in haar binneste was die tennisbal aan die woel. En toe op twaalfjarige ouderdom, toe al die meisietjies met hulle eerste bra’s rondloop, toe sit sy agter in die klas met ’n grasgroen snor.

Die kinders was histeries, die dorp was in rep en roer en haar ma was na aan waansin. Sy het vir Hilda gesleep van dokter tot dokter, sy’t haar geskeer drie keer per dag, sy’t haar tot by ’n tapytplek gehad, maar Hilda se harigheid het net weelderiger en groener geword.

Harige Hilda het deur alles niks gesê nie. Sy’t geweet sy’s vir iets bestem.

Maak klaar met skool en skryf in vir universiteit. Universiteit laat weet hulle’s glad nie ingerig vir harige groen persone nie, sy sal iewers anders moet regkom. Harige Hilda doen aansoek vir werk. Werk laat weet volgens beleid word harige groen persone slegs toegelaat as hulle reeds versekering het.

Hilda doen aansoek vir ’n polis, hulle laat weet daar is wel dekking vir harigheid, maar hulle spesialiseer glad nie in groen nie.

En so ontdek Harige Hilda haar roeping. Sy spring weg en doen aansoek by universiteite, kolleges, technikons, klubs vir eensames, kerke, politieke organisasies en enige maatskappy wat sy kan opspoor. En so ver sy gaan, word nuwe dinge uitgevind. Heel eerste ontdek hulle diskriminasie. Dié werk toe so goed hulle vind toe sommer vooroordeel ook uit. Toe kom skynheiligheid. Burokrasie word uitgevind en onmiddellik tot ’n hoogtepunt gevoer.

En toe die pers te hore kom van hierdie hele ongelooflike sosiale struktuur en uitvind wie is verantwoordelik vir dit alles, laat hulle vir Harige Hilda kom vir ’n foto. Hilda kam haarself op haar mooiste, loop sit, haal haar dierbaarste smile uit en die fotograaf druk die knoppie. En toe die flash afgaan, is Hilda missing. Daar’s net so ’n groenerige skynsel. Fotograaf loop ontwikkel die foto. Daar’s net ’n groot kol, soos wanneer mens in ’n helder lig afneem.

En elke jaar as jy so afloop met die straat en kyk na die liggies, met elke flash kan jy maar weet hulle’t weer iets uitgevind. En jy kan maar weet daar’s weer iemand missing.

En dan weet jy ook ons hoef nie te wag vir Kersfees nie. Die engele loop heeljaar. En hulle kom in alle kleure.

150 Stories

Подняться наверх