Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 20
Billy-Dean 2
ОглавлениеEk kon nooit verstaan hoekom Ma altyd polonie moes insit skool toe nie. Sulke drillerige pienk stukke wat so tussen die snye brood uitloer, soos toe die lorrie vir Oom Snyders teen die pawiljoen vasgery het. En in die somer gly dit rond omdat die botter al gal trek voor eerste pouse.
Ek dink Ma wou hê die dorp moes weet ons is fine, haar kinders eet polonie. Selfs nadat Juffrou Toerien haar skoonmaakrekening vir Ma gestuur het oor die een stuk polonie by die Lenteloop uitgeskiet en agter op haar sweetpak loop sit het, het Ma net aangehou.
So het ek polonie geëet tot standerd 5. Tot Vincent gekom het.
Niemand het geweet van Vincent nie.
Dit was in standerd 5 toe Pyp die blouvlam laat val het by Pa se werk. Pa het heeltemal snaaks geraak en AGS gedraai. Toe besluit hy om hom te laat doop. My sussies het die hele naweek gehuil van embarrassment want hulle hero Chris Buys met die spermtelling gaan ook by die doop wees en Pa het hangtiete.
Toe sê Ma ek moet saamgaan. Pa was eerste. Maar toe hy opkom, toe sluk hy water en slaan Pastoor met die vuis, en die owerstes vat vir Pa uit en sê ’n blouvlam maak jou nie ’n Christen nie. En Pa is heel uitasem en die volgende dag moet Ma vir hom ’n pompie laat kom.
Ek het in die toilet gaan huil. Dit was verskriklik. Niemand in standerd 5 soek ’n pa met ’n pompie nie.
En toe, net skielik, was iets daar. Dit was in my kop. Dit was nie iemand nie. Dit was nie ’n stem nie. Dit was net goed wat ek geweet het. Huil as jy wil, maar dis fine. Hou op worry, jy’s nie jou pa nie.
Die goed het bly kom. Elke keer as iets gebeur het, was dit in my kop. Moenie worry nie, en so. Ek het besluit dis ’n engel. Dit kon niks anders wees nie. En sy naam is Vincent, want ’n mens noem jou engel Vincent en klaar.
Maar ek kon vir niemand vertel nie. Mens kan mos nie vir iemand sê jy’t ná jou pa se doop ’n engel in die toilet ontmoet nie.
Ek het net heeltyd aan Vincent gedink en partykeer met hom gepraat, maar hy’t nooit teruggepraat nie, net die goed in my kop gesit as iets gebeur. Ek het ook baie gewonder hoe hy lyk. Miskien soos Meneer Wentzel. Meneer was baie mooi en het nog mooier gebid in die godsdiensperiode. Maar almal het snaaks gepraat, want sy seuntjie in standerd 4 het partykeer merke gehad op sy bene. So hy kon nie Vincent gewees het nie.
En toe bly Vincent weg. Die een keer toe ons weer in die klas kom ná pouse, het iemand ’n snor geteken op my Marilyn Monroe-potloodsakkie. Die hele klas het geweet, want hulle het heeltyd bly kyk wat gaan ek maak. Maar ek maak niks. Ek wag net vir Vincent. En Vincent kom nie. Ek kon dit nie verstaan nie. Ek het geweet hy ken vir Marilyn. Hy moet nou sê dis fine. Marilyn mind nie ’n snor nie en moet net nie huil nie, die kinders weet niks.
Vincent bly weg. Die middag ook. Ons moet ná skool bly vir atletiek en dis warm en ons gaan hokkies toe om ons atletiekgoed aan te trek en die seuns trek hulle broeke af om te kyk wie’t al hare.
En ek raak so bang, ek kan vrek. Ek raak so bang, almal lyk vir my vreemd. Ek kan nie een se naam onthou nie. En my oë bly knip, ek gaan nou huil.
My bene loop vanself hoek toe en ek krap in my koffer dat my oë kan ophou knip. Ek maak sommer of ek nog honger is en haal my kosblik uit, maar ek is so naar, ek bewe. Al die seuns het al hare, Oom Snyders loer by die brood uit en Vincent is weg.
Ek sien eers die seuns is al weg toe Meneer Wentzel my kom haal. Ek kan nie dink dis hy wat so bid nie, hy lyk so vreemd. Hy bly vat aan my nekhare en hy skel. Ek bly dink aan die merke op sy seuntjie. Hy skel so, al die seuns kom weer terug om te kyk.
En hulle lyk almal soos hy.
(uit White Soul, Maart 1993)