Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 8

Geboortemerk

Оглавление

Toe ek ’n nobody was het ek ook in die Kaap gebly, maar dinge verander en ek trek Transvaal toe. Nou bly ek in ’n bachelor’s flat in Northcliff, maar die AWB’s gee my vreeslik baie kak en ek besluit ek moet vir my honde kry.

Ek kry toe die mooiste twee klein boelterriërtjies, Bacchus en Cher. Alles gaan goed, tot op ’n dag, toe sien ek hierdie hondjies word al hoe groter, miskien het ons ’n bietjie spasie nodig. Ek huur toe hierdie lappie grond tussen Johannesburg en Pretoria by ’n Antie Laubscher, ’n ou vrou met ’n baie moeilike skildklier en so ’n los nekvel.

En omdat die Antie Laubscher haar hele lewe daar gebly het, kweek sy toe die gewoonte aan om tydig en ontydig daar in te val en dan krap sy ’n bietjie in die beddings rond.

Nou, diegene wat my al van naby gesien het, sal weet hier om my middel is daar ietwat van ’n walletjie, en die een onder hom is nog groter, met die gevolg, die stukkie tussenin kry nooit son nie. En op ’n dag besluit ek dis tyd om hierdie riffie te tan. Ek dra die strykplank agterplaas toe, drink drie spierverslappers, trek my klere uit en loop lê agteroor op die plank.

Die volgende oomblik staan Antie Laubscher hier langs my en krap in die kannas. Ek maak of ek van niks weet nie, wat de hel moet ek anders doen? Maar ek besluit as die ou vrou nou hier padgee, ry ek Johannesburg toe en loop koop ’n slot vir my hek.

Sy’s om die huis, ek trek my klere aan en klim in my kar. Maar wat ek nie geweet het nie, is dat sy nog om die hoek tussen die vygies doenig was, en met dié wat ek om kom, moes ek haar seker met die agterste bumper aan die los nekvel gehaak het, en ons is af met die pad.

Ek wil Johannesburg net inry, toe’s hier skielik sulke blou ligte wat so flits, ek dog eers dis ’n klompie fans wat my met ’n mobile disco die dorp wil inhelp, en ek trek van die pad af.

Hier kom ’n verkeersbeampte aan, hy’t so ’n geboortemerk op sy wang wat nogals oulik is.

Ek draai my ruit af, ek sê, Middag.

Hy sê, Besef jy jy’t ’n onwettige vrag?

Ek sê, Nooit.

Hy sê, Ja, hier hang ’n ou vrou agter aan jou bumper.

Ek sê, Ek weet van niks!

Hy gaan kyk weer na Antie Laubscher. Hy kom terug. Jy kon ten minste ’n rooi vlag aangesit het, sê hy en skryf vir my ’n kaartjie.

En toe ek hom sien omdraai en terugloop na sy kar toe, kry ek meteens hierdie warm gevoel oor my. Gaan ons mekaar weer sien? vra ek.

Ek sal nie weet nie, sê hy.

Dit kon so anders gewees het, sê ek.

Ek sal nie weet nie, sê hy en klim in sy kar.

En soos hy verdwyn op die horison, kom Antie Laubscher by hier agter aan die bumper. En nou? vra ek.

Nee, ek sal nie weet nie, sê sy, maar miskien moet jy kyk of jy my seun kan opspoor. Ek hoor hy’s nou by die Verkeersdepartement. Hy’t so ’n geboortemerk op sy wang.

(uit Face Lift, Desember 1990)

150 Stories

Подняться наверх