Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 7
Nuwe bure
ОглавлениеEendag was daar ’n vrou met ’n baie hartseer lewe. Haar naam was Griet.
Griet is gebore in ’n karavaan naby Langebaan, gevolglik moes sy vir die res van haar lewe opgeboude skoene dra. Weens dit en ander omstandighede wat nou nie hier ter sprake is nie, word sy toe op ’n dag gedwing om te trou met ’n man met ’n baie slegte asem. Sy naam was Rasper.
Griet en Rasper trek toe in by ’n huisie op die dorp, en heel eerste pak Griet die pot uit sodat sy kan tee maak as die bure kom kennis maak. Maar niemand kom oor nie.
Die volgende dag is Rasper by die werk en Griet maak weer tee. Maar niemand kom oor nie. Sy was toe maar die pot en dink vanaand kan sy en Rasper maar self oorstap en gaan kennis maak. Maar Rasper kom nooit saans huis toe nie. Weens dit en ander omstandighede wat nou nie hier ter sprake is nie, word Griet toe gedwing om op ’n koel Sondagmiddag vir Rasper om die lewe te bring.
Sy wag toe dat dit aand word, grawe ’n gat in die agterplaas, gooi vir Rasper in, maak toe en gaan lê.
Die volgende oggend toe sy wakker word, staan sy hand ’n entjie bokant die grond uit. Sy parkeer toe die kar bo-op, net vir in case, en wag dat dit aand word. Die aand grawe sy nog ’n dieper gat, bêre vir Rasper, maak toe en gaan lê.
En die volgende oggend staan die hand nog ’n entjie hoër bokant die grond uit. Sy parkeer toe nou maar weer die kar bo-op en wag dat dit aand word.
Die aand begin Griet grawe. (Vir my klink dit ’n bietjie soos ’n Afrikaanse digteres: Hier’s ons nuwe bundel, Kak in die koring, deur Griet Grawe. Maar weens omstandighede wat nou nie hier ter sprake is nie, is die bundel toe nooit gepubliseer nie, so ons gaan net aan met ons storie.)
Griet grawe. En Griet grawe die diepste gat ooit. As sy ’n bietjie langer aangehou het, het sy ’n Japannese gesin se ontbyt heeltemal ontwrig. Toe gooi sy vir Rasper in, maak toe en gaan lê.
En die volgende oggend toe sy wakker word, val daar ’n skaduwee so groot soos Tafelberg oor die huis. (Vir my klink dit so ’n bietjie soos ’n Afrikaanse treffer: Hierdie week is Edwill van Aarde se Nr. 1 “In die skadu van die berg”. Maar weens omstandighede wat nou nie hier ter sprake is nie, het die ou liedjie dit toe nooit gemaak nie, so ons gaan net aan met ons storie.)
Toe Griet by die agterdeur uitkyk, is die hand al besig om oor die huis te groei. En voor sy iets kan doen, vou die hand toe. Oor die erf, oor die huis en oor Griet. Daar was net ’n sagte kraakgeluid en sy’s nooit weer gesien nie.
En toe die hand weer stadig oopvou en kliphard burp, loer daar twee vrouens oor die heining aan weerskante van die erf. En die een skree vir die ander een, Hey, hoor hierso, miskien moet ons ’n bordjie goed oorvat, lyk my ons het nuwe bure.
(uit The After Dark Horror Show, November 1990)