Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 9

Die Man

Оглавление

In die straat agter die bakkery het ’n klein vroutjie gewoon, Budgie Beukes.

Budgie was een van daardie mense wat haar deur niks laat onderkry het nie. Nie eens die feit dat sy al van sestien af ’n houtbeen gehad het, kon haar spoed breek nie. Sy’t net altyd gesmile en gevra of jy nog iets wil hê om te eet. En dis juis met hierdie vraag dat sy haar moses teëkom, want op ’n dag trou sy toe met die Beukes-man, ’n man met ’n helse aptyt. Budgie het skaars haar houtbeen oor die drumpel gesit, toe’s sy by die kombuis in en aan die kook.

Dis te betwyfel of Budgie ooit geweet het wat die man se naam was, hy was maar altyd net Die Man. Dis ook te betwyfel of sy geweet het wat hy vir ’n werk doen. Hy’s net elke oggend met sy trommel by die huis uit en teen sesuur sak hy weer daar in met al sy pêlle, besuip en bemors die hele plek, en Budgie het maar net gesmile en nog ’n klont botter in die mash ingeroer.

Net soos die week het elke naweek ook sy roetine gehad. Saterdae is Die Man en sy pêlle – almal in dieselfde uniform – douvoordag dorp uit plaas toe om te gaan skyfskiet oefen en teen skemer sak hy doosdronk weer by die huis in, vreet ses helpings kos op, sleep vir Budgie kamer toe en daar werk hy nou vir haar. En sy wat nie eintlik lekker weet wat gaan aan nie, het nou maar smile-smile daar gelê tot hy aan die slaap raak en so by die derde snork dan skuif sy stilletjies onder uit om Sondag se hoender te gaan ontvries.

Te lekker gaan dit. ’n Jaar ná die troue is Die Man al so dik in die gat, hy kan hom skaars roer en Budgie twieter in die kombuis rond. So dol gaan dit, dat eers toe die klein vroutjie haar derde tydperk mis, besef sy daar’s fout. En toe sy vir Die Man vertel, is hy so bly, dis nie ’n halfuur nie, toe’s al sy pêlle daar en jy hoor net bierblikke en boerekrete en in die kombuis is Budgie so nervous, sy kry skaars die mince by die vetkoek in.

En daar kry Budgie toe vir die eerste keer in haar lewe ’n beklemming. Net daar in die sitkamer sê die man, come hell or high water, sy baby word in kakie gedoop. Budgie staan agter die kombuisdeur, maar dit voel vir haar haar hart klim by haar keel uit. Sy’t so gekyk na die kombuis, die vetkoek, die houtbeen en toe’t sy buite op die stoep gaan staan.

Van daai nag af het Budgie nooit weer ’n woord gesê nie. Sy’t ook nooit weer geslaap nie. Dit was asof sy ’n vreemde besoeker verwag het. Snags het sy vir ure by die venster uitgestaar en verder het sy gekook asof al die kos in die wêreld skielik moes gaar kom. En Die Man het gevreet en geburp en gespog oor sy baby en die doop.

En toe een aand, toe die wolke ’n kring om die maan maak en Die Man se steak begin bloei op sy bord, kry Budgie ’n pyn deur haar hele lyf. Sy’s skaars by die eetkamer in, toe sak sy inmekaar. Van die val skuif die rok op en daar waar die houtbeen by haar knie kom, sit ’n klein, groen blaartjie.

Die bediende het hulle die volgende oggend gekry. Sy’t so geskrik, teen die tyd dat die bure daar aankom, het sy soos ’n regte meid geskree.

Niemand kon verstaan hoe die plek toegerank gekom het nie. Orals was heldergroen ranke met klein, rooi tamatietjies. Aan die einde van die rank het Budgie gelê met ’n smile op haar gesig. En in die oorkantste hoek het ’n groot karkas in ’n kakie-uniform tussen die ranke vasgesit.

En vandag nog, as jy ’n ryp tamatietjie tussen jou vingers vashou, en jy druk hom hard, kan jy sien daar breek so ’n smile uit. Druk jy hom nog harder, kan jy sien hoe sê hy, Pappa.

(uit How to Faint and Cry, Junie 1991)

150 Stories

Подняться наверх