Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 17

Kook met brandewyn

Оглавление

Hierdie is ’n ware verhaal. En ter wille van die vrede in ons nuwe land moet dit nou maar vir eens en vir altyd uitkom.

In Verwoerdburg se poskantoor het daar twee vrouens gewerk. Die een was ten minste ’n weduwee met ’n rinse, Evelyn. Die ander een was net dik, dis al. Haar naam was Esmé.

Op ’n dag kry ek die kaartjie wat sê my Leserskringboek het opgedaag en ek sit heel opgewonde af poskantoor toe.

Voor die poskantoor staan ’n hele ry mense op die sypaadjie. Jy eerste, sê een vrou vir ’n ander. Ag nee wat, gaan jy maar, sê die ander een. En niemand beweeg nie.

Ek dink, shit maar hulle is hoflik, en ek loop staan heel voor. Hier op die lawn staan so ’n ry blou vlaggies zig-zag tot by die poskantoordeur. Heel voor op ’n bordjie staan: Warning. Trap net by die vlaggies. En onderaan in Xhosa staan: Trap tussenin.

Nou dink ek, my Kook met brandewyn is daar binne, ek kry vanaand mense en almal ken al my appelkooshoender, ek soek my boek. Ek gee my karsleutels daar vir ’n man, twee ander hys my teen die vlagpaal op en toe ek bo is, reverse die man met my kar tot teen die paal en soos hy omslaan so val ek die poskantoor met ’n helse migraine binne.

Hier langs die toonbank lê ’n swart man op die vloer. Evelyn hou ’n stapler teen sy kop en Esmé hardloop al in die rondte.

Hoe de hel het hy ingekom? skree Evelyn.

Ek weet nie, skree Esmé.

Hou op in die rondte hardloop, skree Evelyn.

Ag dankie tog, sê Esmé, ek is al dronk in my kop, en sy loop staan agter die toonbank. Wat dink jy wil hy hê? vra sy.

What you want? vra Evelyn en staple hom in die oor.

Ek kan niks hoor nie, sê Esmé.

Haal uit daai ding, sê ek en klim van die paal af.

Siesag, sê Evelyn en haal die foonboek uit sy mond uit.

Haai Ou-…, sê die man. Maar voor hy die nooi kan uitkry, staple sy hom weer.

Gee hom seëls, sê Esmé, dis die veiligste.

Seventy cents, sê Evelyn.

Die man skud net sy kop.

Ek sê, Verskoon my, ek soek my boek.

Ha, ha, sê Esmé, try my.

Ek sit my kaartjie op die toonbank neer, help die swart man op en loop sit hom op die paal. Wag net hier, sê ek en gee hom ’n drukkie. Esmé is tussen die rakke in en Evelyn hou wag.

Sekuriteit is ons wagwoord, sê Esmé en sit my pakkie op die toonbank. Net ’n oomblik, sê Evelyn en druk dit teen haar oor. Val plat! skree sy, gooi die pakkie deur die lug en duik by ’n tiekiebox in.

Watsit nou? vra ek, en loop lê op my maag.

Die ding tik, skree Evelyn.

Dis ’n Leserskringboek! sê ek. Hulle gly maar so in die box.

Don’t bullshit me, sê Evelyn, ek het M-Net.

Ek wou nog so graag kinders gehad het, sê Esmé en trap die alarm af. Evelyn, bid jy, sê sy, en sak op haar knieë neer.

Is jou beurt, sê Evelyn, en maak haar oë toe.

En toe’s my geduld op. Ek sê, Verskoon my, maar hoe siek moet ’n mens wees om so tekere te gaan? Hoe verrot kan die samelewing nog raak? Hierdie is nie die einde nie! Dis Kook met brandewyn! Julle het nie ’n benul van die realiteit in hierdie land nie. Dis alles, alles julle verbeelding!

Toe staan ek op, stof my broek af en loop vat my pakkie.

En dis toe die bom afgaan.

(uit Untitled, Desember 1992)

150 Stories

Подняться наверх