Читать книгу Tik - Piet Steyn - Страница 10

7

Оглавление

Boeries haal sy ma se ou Datsun Trippel-S se sleutel sag van die haak in die kombuis af. Baby se stemmetjie laat dit klink asof dit ’n saak is waarvan die ou mense so min moontlik moet weet.

“Boeries …” Dis sy ma wat sag uit die kamer uit praat. “Waarheen gaan jy nou?” Sy mis nie baie nie.

“Polisiesake, Ma. Ek ry sommer met die Datsun.” Dit is nie heeltemal ’n leuen nie.

Sy antwoord nie; sy is seker tevrede.

Die volmaan maak die omgewing ’n swart-wit landskap. Kris was verkeerd, Bliksem het nie vir sy agterent geblaf nie, maar vir die maan en sy spookskaduwees. Ver na die ooste lê wolke waarin die weerlig baljaar; dit gaan vannag iewers in die Oos-Vrystaat reën. Boeries dink aan die dae toe hulle as gesin gaan geelvis vang het in die bo-lope van die Kliprivier, anderkant Vrede op oom Koos de Jager se plaas.

Toe hy uit Merriespruit in Sandrivierweg opdraai, lê die vlei wit aan sy regterkant. Dit is hier waar die gebreekte slikdam in 1994 sy giftige sianiedmodderverwoesting in die woonbuurt gesaai het. Nou is daar weer biesies, tamariskbosse en riete wat probeer om die steriele naaktheid te bedek wat die verwoesting nagelaat het. Baby is daardie nag saam met haar teddiebeer en die een helfte van hulle huis deur die stroom modder meegesleur. Pa Kris sê dit was die begin van haar stront, want sedert oom Cassie die volgende môre toe die son rooi opkom met haar en die teddie in sy arms uit die grys klewerigheid gestap gekom het, het die Merriespruiters tou gestaan om haar te bederf. Die foto van die grys standbeeld in die grou môrelig met die modderbesmeerde dogtertjie in sy arms en die verwoesting agter hulle was in omtrent elke koerant in die land. Die klein blondekoppie met die diep kuiltjies en die onnutsige blou ogies was vir die buurt se mense ’n simbool van oorlewing en van God se genade. Baby het steeds die blonde hare, die kuiltjies en die blou oë, maar dis wat bygekom het en wat die jongetjies se oë soos magnete trek wat vir Kris Freislich grys hare gee.

Voordat Boeries opdraai in Harmonie se rigting dreun die ­Datsuntjie oor die Sandrivierbrug. Die sluise van die Allemanskraaldam is oop, want die modderige water van die rivier loop kant en wal. Pa Kris sal nie gou weer onderkant die brug kan visvang nie.

Gawie Theronstraat is boomryk en loop ewewydig aan die rivier. Aan die rivier se kant van die straat is die huise groter en luukser as die ouer huise aan die oorkant van die straat. Voor nommer vyftien staan ’n paar motors en 50 cc-piskrieke, ook ’n paar groter motorfietse. Elke lig in die huis brand, en ’n oorverdowende musieklawaai bulder by die deure en vensters uit. By die voorhek sit twee jong manne op motorfietse en rook. Hulle hou Boeries agterdogtig dop wanneer hy met die ou Datsuntjie stilhou.

Boeries haal die wielyster onder die sitplek uit voordat hy uitklim. Hy ken die tekens. Geen motor van sy pa is ooit sonder ’n “tyre lever onder die seat” nie. Sy pa reken ’n mens weet nooit wanneer jy onskuldig in die dinges sal trap nie, en dan het jy iets soos ’n tyre lever nodig. Hy noem dit die “equaliser” in enige geveg.

Boeries stap nader en ruik die soet reuk van dagga. Die jonge op die swart Harley met die chroom-modderskerms het ’n swart T-hemp met die een of ander logo op die bors, ’n nou denimbroek en ’n paar skerpgepunte slangvelstewels aan. Sy kop is kaal geskeer en dit blink in die lig wat van die huis af skyn. Hy lyk ook na die intelligentste van die twee. Die een op die rooi Honda is ’n klein maergat met ’n leerbaadjie, ’n slegte vel en ’n lang, dun nek. Hy het ’n paar rustelose oë wat te na aan mekaar sit in die klein koppie. Saam met sy groter pel is hy vol bravade, en die springmes wat hy aan ’n blink ketting sit en rondswaai, dra seker ook by tot sy dapperheid.

Boeries druk die plat yster buite sig teen sy bobeen vas. “Ek soek vir Baby Freislich,” sê hy sag.

Die twee op die motorfietse bekyk hom krities op en af, kyk dan na mekaar. Miskien was dit die ou los sweetpak wat hy ná Baby se oproep aangetrek het, of dalk het die dagga en die halwe bottel Red Heart op die Harley se petroltenk gemaak dat húlle nie die tekens van moeilikheid kon sien nie.

“Fuck off. This is a private party and you are not invited,” sê die kleintjie. Hy is teen alle verwagtinge in, en sy klein koppie ten spyt, die twee se segsman.

Miskien was dit die dag se geweld, miskien die feit dat hy nie geslaap het nie, of dalk sy moerigheid oor Baby se losgatdinge, maar Boeries is skielik nie lus om met puisiegesig en kaalkop te argumenteer nie.

“Hierdie stuk yster sê ek is invited, likkewaankop,” sê hy terwyl hy tussen hulle inloop.

Die equaliser sukkel nie juis met die Harley se voorlig nie, maar die kenmerkende geluid van ’n oopspringende springmes moes Boeries se korrel ietwat befoeter het, want die Honda kry net ’n diep duik in die ligskerm.

“Hei, jou bliksem, is jy fokken mal?” skree die kleintjie terwyl hy van die motorfiets afspring. Hy hou die mes te hoog om ’n werklike bedreiging te wees.

Dis darem wonderlik, dink Boeries, hoe ’n man oorslaan na jou moedertaal as jy kwaad word.

“Hey, you fucking big ape! Are you mad?” volg die grote die kleintjie se voorbeeld. Hy moet wel Engelssprekend wees. Hy gryp die Red Heart-bottel, slaan die boom teen die hekpaal af en volg die kleintjie tussen die twee motorfietse deur. Gelukkig vir Boeries staan die twee fietse te na aan mekaar vir ’n volle frontaanval.

Die kleintjie moes op sy dag ’n swaardvegter gewees het, want hy storm met die mes as ’n verlenging van ’n reguit stywe arm op Boeries af. Sy voorarm maak ’n siek klapgeluid as die yster albei die armpype breek. Die mes val uit sy pap vingers en hy raak soos ’n maervark aan die skree en sak op sy knieë neer.

Boeries se oë flits na die grote, en glimlag as die ou lootspeletjie deur sy kop flits: Tjoeng, tjang, tjeng! Yster is harder as glas, ek wen. Grote het vasgesteek en skielik besluit hy sit dié ronde uit – hy ken moeilikheid as hy dit sien. Hy los die bottelnek en staan met sy oop hande in die lug voor sy gesig en skud sy kop. “I’m easy, you’re the man.”

“Kom ons probeer weer,” sê Boeries. “Ek soek vir Baby Freislich.”

Kaalkop beduie met sy duim oor sy skouer na die huis. “On the patio when I last saw her.”

Boeries hou vir Baby uit die hoek van sy oog dop. Sy sit inmekaargetrek teen die motor se voordeur, haar bene, wat onder ’n heeltemal te kort mini uitsteek, onder haar ingevou op die sitplek. “Hoe’t jy uitgekom?” vra hy.

Stilte.

“Ek vra …”

“Ek hoor jou!” Sy vee ergerlik ’n paar blonde haarslierte uit haar rooigehuilde oë en blaas haar neus in ’n opgefrommelde snesie voordat sy vererg vra: “Waaruit gekom?”

“Baby, moet nie met my gharra nie! Ek is omtrent al wat tussen jou agterent en Pa se mynbelt staan. Uit jou slaapkamer, demmit.” Boeries verminder spoed by die draai voor die sirkel by die brug, flits ligte vir ’n voertuig wat nie sy ligte domp nie. “Toe ek laas nag by die huis kom, het Ma gesê jy slaap al. Hoe het jy uitgekom?”

Sy kyk smekend na hom. “Jy sal nie vir Pa sê nie?”

“Baby …”

“Belowe eers.”

“Oukei, oukei! Ek belowe.”

Baby beduie met ’n ruk van haar kop na die slapende figuur op die agterste sitplek. “Cecil het die diefwering los gegrind laas Saterdag toe Ma-hulle by die klub was. Net kougom hou dit nou in plek.”

“Magtig, Baby!” Boeries loer in die truspieël na Keppies se swartkopseun wat oopmond op die agterste sitplek lê en snork, ’n nat, suurstinkende kol op sy hemp. Cecil! Is dit sy naam? Dis die eerste keer dat hy iemand hom iets anders hoor noem as Keppies se oliekop-laaitie. “Wat het hom oorgekom?”

Baby sit by die kantvenster en uitstaar, draai ’n haarlok om haar vinger voor sy afsydig antwoord. “Te veel gesuip … Daar was boom ook.”

“Ja, en jy? Seker net gesit en kougom kou. Of het jy ook …”

Sy hoor hom nie, kyk net afgetrokke na die rivier wanneer hulle oor die brug ry. Ná ’n ruk sê sy: “Hulle het goed wat soos kristalle lyk in ’n ou gloeilamp met ’n kersvlam warm gemaak en die dampe gesnuif.”

Tik! Boeries kyk bekommerd na haar. “Het jy ook gesnuif?”

“Hu-uh! Hulle wou my dwing, toe bel ek jou.”

“En die dagga?” vra hy meedoënloos.

Sy antwoord nie.

“Baby, demmit …”

Baby knik terwyl sy by die kantvenster uitstaar. “Net ’n paar trekke,” sê sy sag.

Boeries skud sy kop. “Verdomp, Baby. Julle speel met vuur. Daardie kristalle is tik, dis hel op wiele. Jy moet wegbly van die goed, én die boom ook. Of ék foeter jou self!” Hy bly ’n ruk stil, tot hulle in hulle straat in Merriespruit opdraai. “En jy en die moegoe van jou hier agter sorg dat daardie diefwering weer vasgesweis word. Pa-hulle gaan volgende week op verlof en hulle dink die huis is beveilig met diefwering. Dis bleddie gevaarlik!” Hy bly ’n rukkie stil nadat hy stilgehou het, kyk dan na haar. “Ek dink jy moet nou maar eers weer deur die venster klim, anders gaan Ma jou hoor.”

Tik

Подняться наверх