Читать книгу Tik - Piet Steyn - Страница 15

12

Оглавление

Toe Charlie sy oë oopmaak, het hy ’n babelas wat soos ’n vrot nat vadoek oor hom lê. Niks is seer nie, maar niks voel ook reg nie; niks is vasgemaak nie, maar niks wil ook beweeg nie. ’n Lam, lui, koorsagtige doodsheid het hom soos griep beet en laat hom stil lê. As die hamerhoue tussen sy oë te erg raak, maak hy hulle maar eerder weer toe – loer deur skrefies in die kamer rond.

Waar de hel is hy, en waar kom dié koning van ’n babelas vandaan? Hy’t wragtag nie gesuip nie – of het hy en net daarvan vergeet? Dan begin die gebeure van die vorige nag stadig deur die newels na hom kom: die witkop met die groen katoë, die helikopter, die maer man met die Mosesjas, die inspuiting … Dit moet die inspuiting wees wat hom so binnestebuite laat voel. Wat se stront was dit? Batterysuur?

Hy draai sy oë en loer in die kamer rond sonder om sy nek te verroer. Die dak is van gras en daar is ’n paar lelike spinnerakke in die nok bokant ’n gloeilamp met ’n plastiekskerm wat aan ’n draad van een van die teerpaalbalke afhang. Dit moet ’n soort rondawel wees, die mure is gerond, en daar hang ’n sterk chemiese reuk in die lug.

Charlie raak bewus van nog iemand in die kamer, en hy draai sy nek stadig na regs. Teen die muur is ’n bed en daarop sit ’n man, kruisbeen en met net ’n onderbroek aan, sy bolyf kaal. Hy sit op ’n grys kombers en is besig om die glasstulp van ’n gloeilamp bokant ’n kersvlam rond te draai. Met geslote oë trek hy die wit rook wat uit die gloeilamp se oop nek borrel met ’n strooitjie diep in sy longe in.

Hel, die vent sit so wragtig en tik rook! Hy het dit in die tronk leer ken, daar het die manne dit soms ook lolly genoem. In C-Max het so ’n bleek bliksem van die universiteit vir hulle kom sta’ en vertel hoe sleg tik en ander drugs soos heroïen en crack-kokaïen vir jou is.

Een van die perde met die swart uniforms kom in en die man op die bed se oë vlieg oop. Die man in uniform gryp die gloeilamp. “Jy’s klaar,” sê hy bot en stap weer uit. Die man op die bed – hy’s nog jongerig, sien Charlie – leun terug tot teen die muur, stamp-stamp met sy agterkop daarteen, sy oë toe en ’n geluksalige uitdrukking op sy gesig. Sy oë gaan luierig oop en hy staar nikssiende na die dak, dan val sy ken plotseling op sy bors en hy knip sy oë ’n paar keer vinnig. Charlie kan sien hoe hy begin fokus en hom opmerk.

“Yes, my ou pel,” sê die man met ’n tevrede sug en vryf oor sy een kaal skouer. “Ek’s broer Deon, en jy?” Sy mond vertrek in ’n breë glimlag, hy pak behoorlik tande uit.

Dis tik-vriendelikheid daai, weet Charlie. Die tik trek die een of ander ding uit jou brein uit en dit is wat jou so laat voel, dis wat daai lanie in die tronk gesê het.

Charlie kyk die ou op die bed onderlangs aan. “Jy’s nie my fokken broer nie,” brom hy. “Ek’s sommer ou Charlie, en my kop is hel seer, praat net fokken sagter.”

Die jong man staan op, tel een van daai Mosesrokke van die grond af op en trek dit oor sy kop. Die kleed lyk nes die een wat Pappa Slangnek aangehad het, net korter en met minder goud op die bors en skouers. Dié een kom net tot by die knieë en daar is die een of ander blou kruis op die bors gedruk. Van ’n stoel by die bed se voetenent tel die man ’n houtkruis op, weliswaar nie so groot soos Pappa s’n nie, en dit kom ook sommer met ’n riem om sy nek, nie ’n goue ketting nie.

“Het jy al jou pyp gehad?” vra die man, steeds die ene tande.

Charlie maak sy oë toe. As die vent net sagter wil praat! “Ek rook nie daardie stront nie. Jy moet dit los, jy fok jou gesondheid op.” Dan onthou Charlie sy naam. “Deon, my china, jy moet dit watch.”

“Aikona,” sê Deon en skud sy kop oordrewe. “Aikona. Vader is ’n dokter en hy weet wat hy doen. Hy sê dit is soos medisyne as ’n man dit beheer en matig gebruik.”

“Is jy dan siek?”

“Siek? Wat bedoel jy?”

Deon spook ’n ruk met die rok se belt en kyk Charlie dan vraend aan.

Charlie kom stadig regop, trek die vuil stink blou trui oor sy natgeswete hare en gooi dit op die bed se voetenent neer. Dôner, nóú stink hy na sweet. Hy gaan sit met sy kloppende kop in sy hande. Hy sal eerder wou bly lê, maar hy moet gaan pis.

“Ek vra, wat bedoel jy?”

“Jy sê daai stront wat jy rook, is medisyne. Het jy kiem in die riem? Vigs of iets? Jy lyk nie siek nie.”

“Dit gee jou woema, ou vriend. Ek kan die hele dag werk sonder om moeg te word. Ek word nie eers honger nie.” Deon gaan sit op sy bed en maak ’n paar sandale se gespes vas.

“Werk? Watse werk?”

“Ons plant mielies, kweek groente in tonnels en ons het ’n groot veeboerdery. Partykeer werk ek in die fabriek ook. Ons is selfonderhoudend hier in die kloof. Ons moet wees, want die wêreld daar buite is te vol sonde en verkeerde leringe. Vader sê hoe minder ons met hulle kontak het, hoe beter.”

Charlie skud sy kop. “Nee, demmit! Dis makliker om te koop by die Griek se kafee op die hoek, of by Checkers. Waar kom julle aan dié stront?”

“In die tweede brief van Johannes waarsku hy ons dat as iemand na jou toe kom wat ’n ander leer het, moet jy hom nie eens in jou huis ontvang nie. Jy moet hom nie eens groet nie, want wie hom groet, sê Johannes, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen.”

Charlie wonder hoe lank die broer aan dié versie geleer het, want hy lyk nou nie juis na die blinkste liggie aan die boom nie. “Julle kan mos nie alles self maak nie. Goed soos sout, tandepasta, rys … Wat van … ’m … toiletpapier? Of gebruik julle die mieliestronke wat julle self kweek?”

“Een keer ’n maand gaan Vader en broer Gerrie met die helikopter Newcastle toe vir daai klas van goed. Is jy een van die mense wat met ’n verkeerde leer na ons toe kom, broer Charlie?”

“Ek is nie jou fokken broer nie!” Charlie gryp sy kop vas, staan steunend op en strompel kruppel en brommend badkamer toe. Sy heup is nie lekker nie; die stampe en stote wat hy deesdae kry, begin sy tol eis. In die tronk was dit baie rustiger en het dit beter met hom gegaan.

Halfpad badkamer toe steek Charlie vas, sy kop steeds tussen sy hande. “Watse fabriek het julle?” vra hy en loer half onder sy blad terug na Deon.

“Ek kan nie vir jou sê nie, dis teen die reëls.” Deon is besig om ’n borsel te trek deur sy swart hare wat tot op sy skouers hang.

Met die Mosesrok en die hare lyk Deon vir Charlie kompleet soos ’n figuur uit die ou Kinderbybel wat hy eendag in ’n trommel op die solder ontdek het – daar kort net ’n ligkring om sy kop. Sy pa was bly oor die Bybel, die bladsye was blykbaar net reg vir zolle draai.

“Vir wat nie?” vra Charlie en stap stadig terug na Deon.

“As jy eendag jou toga verdien het en die tyd is reg, sal Vader jou inlig.”

“Aag, te hel met hom.” Charlie draai weer om en loop brommend na die badkamer langs die rondawel se klein kombuisie. Hy skrik as hy homself in die badkamer se spieël sien. Sedert hy uit die tronk gekom het, was hy nog nooit naby ’n skeermes nie en laas nag se eskapades was nou nie juis ’n skoonheidskuur nie: een van sy oë is toegeswel, die pistoolloop het sy oogbank verfonkfaai en sy baard is vol klonte droë bloed. Die baard kan wel nuttig wees, want as hy hier uitkom, sal hy ’n ruk iewers moet gaan laaglê.

Terug in die slaapvertrek moet Charlie sy kop skud om seker te maak sy oë bedrieg hom nie: Nou sit daar by broer Deon ’n meisie met ’n dik goue vlegsel op die bed. Hy is ooglopend nie haar broer nie, daarvoor klem hulle mekaar se hande te styf vas en kyk net té diep in mekaar se oë. Sy dra ook een van die wit gewade met die blou kruis; die rok is net nog korter as broer Deon s’n en Charlie wonder of sy nie dalk eerder ’n pienk kruis moes gehad het nie. Hel, as hy dit saam met ’n meisie met só ’n rokkie en sulke bene kan doen, sal hy enige tyd gaan wortels plant, of koeie melk, of miskoeke optel, of so iets. Hy wonder wat maak hulle as hulle kondome opraak hier in die kloof. Brei hulle hul eie?

Deon strek ’n lang, dun kaal arm na Charlie uit. “Broer Charlie, ontmoet suster Felicity. Ons is deur Vader aan mekaar toegesê. Die band tussen ons word volgende week voltrek, dan sal jy moet uittrek hier.”

“Ek is nie jou fo …” Ag te hel daarmee, met so ’n suster kan Deon maar sy broer ook wees. “Moenie worrie nie,” sê Charlie dan, “ek is klaar op pad huis toe.”

“Het Vader gesê jy kan maar gaan?” Die meisie se stem is nog mooier as haar bene, as dit moontlik is. Sy kyk dan op na die dak en Charlie volg haar blik: ’n toekringkamera in die nok van die rondawel!

Hel, as hulle volgende week getroud is, sal hulle saans die lig vroegaand al moet afsit, want almal in die verdomde plek, lyk dit vir Charlie, is op candid camera. “Nee, Poppie, maar jou oom skrik nie vir ’n slangnek met ’n lang rok nie,” sê Charlie vir die kameralens, gooi sy blou trui oor sy skouer en stap deur toe.

Hy het hulle glad nie hoor kom nie: broer Gerrie en nog ’n swartgeklede gorilla staan in die deur, elkeen met ’n swart knuppel in die hand. Charlie kan sien hulle het nie na sy welstand kom verneem nie.

Charlie reageer instinktief en smyt sy trui in broer Gerrie se gesig. Dis nie ’n baie broederlike ding om te doen nie, veral in die lig van die haglike toestand van die trui, maar nog minder is die vuil tekkie wat Charlie tussen Gerrie se twee lieste plant.

Gerrie roep luid na sy voorvadergeeste en sak met sy twee hande koesterend oor sy kroonjuwele op die klipvloer neer. Charlie het egter skaars tyd om hom daarin te verlustig, want hy het reeds besef dat hy hom misreken het. Met hierdie heup van hom is hy te stadig vir sulke walse. Uit die hoek van sy oog sien hy die blinkswart knuppel flits voordat dit vyftien sentimeter diep in sy pensvelle ingestamp word en Charlie tog maar ewe broederlik langs Gerrie neersyg. Weer voel Charlie die duim op die drukpunt in sy nek en hoe sy liggaam en brein willoos word. Ken hulle nie ander verdomde truuks nie?

Charlie herken die stem; hy draai sy kop so ver hy kan en sien die lig blink op Vader se kaal kop. Hy sien ook die spuitnaald in Vader se hand. “Druk sy arm op die grond vas,” sê Vader asof dit ’n hondjie is wat gedokter moet word.

Langs Charlie kom ouboet Gerrie met ’n brul orent, vee sy mond aan ’n swart mou af, val met sy knieë op Charlie se arm neer en grawe sy vingers in sy oë in. Gerrie het beslis nog nie van die draai van die ander wang gehoor nie. Charlie voel die prik van die naald en dan hoe die heerlike kalmte van gisteraand weer oor hom spoel. Die geklop in sy kop word stil, selfs Slangnek lyk nou soos ’n liefdevolle pappa wat net die beste vir hom wil hê. Sy gedagtes is besig om af te skakel … Charlie stry daarteen; hy wil nie dat hierdie hemelse geluksaligheid ophou nie.

Vader se stem klink asof dit van ver deur dik miswolke eggo: “Jy wil nie luister nie, broer Charlie. Hoekom skop jy teen die prikkels? Jy gaan nog soebat vir die genade van die naald. Sluit hom weg, broers, hierdie een sal ons moet inbreek soos ’n halsstarrige perd, totdat hy die insig van die wysheid verkry het.”

Tik

Подняться наверх