Читать книгу Tik - Piet Steyn - Страница 11

8

Оглавление

Dit is nou stikdonker, die maan is weg. Boonop werk die ou bakkie se ligte nie en Charlie het nie ’n benul waar hy is nie. “Jy moet van die pad af kom, Charlie,” prewel hy by homself. “Wat jy nou doen, is gevaarlik, jy kan bokkerol sien.” Hy is bang hy ry van die pad af wat dofweg voor hom lê; wie weet watse gate en slote en rotse wag langsaan. Die skielike rukwinde wat ’n rukkie terug die storm se koms aangekondig het en die seil op die bak losgeruk en saam met rolbosse en droë mielieblare en stof die nag in laat verdwyn het, is nou stil.

“Charlie, my maat,” bly hy homself moed inpraat, “jy moet jou joppies maar eerder in die stad doen. Daar waar jy die wêreld ken, hier vreet die leeus jou nog op.”

Die wind het die wolkbank vinnig nader gebring. Minute gelede het dit nog flitsende wit aambeeldkoppe ver agter die horison uitgestoot; nou het dit voor die maan ingeskuif en die geluidlose elektriese storm van netnou is nou ’n kakofoniese, blitsende tirade.

Charlie karring weer met die lig se skakelaar; dit flits momenteel aan en dan verdwyn die lig weer. “Kom nou, kom nou …” Hy karring ’n slag onder die paneelbord, vroetel aan ’n spul drade wat daar hang en gee die stuurstang ’n harde klap. “Demmit!” skree hy die nag in, en dan is daar lig.

In die skielike helderte blink ’n trop skape se oë langs die tweespoor – altans, hy hoop dit is skape! Dit is dalk ’n trop bloeddorstige leeus, of honger krokodille of dalk selfs seemonsters. Hy wat Charlie is, het verdwaal, heeltemal en in sy moer in. Die pad waarop hy nou is, is niks meer as twee wit strepe deur die veld nie, en hoe hy daarop beland het, weet hy nie, want die ou Hilux se ligte het ’n lang ruk nie gewerk nie. Die bleddie dieseltenk is ook feitlik leeg, en dit is diep platteland hierdie.

Met behulp van die weerlig wat onophoudelik flits en soms die omgewing helder verlig, kruie hy voort op die tweespoor, bewus van donker, hoë rante en heuwels weerskant. Wat kan hy nou anders doen as om aan te hou ry? Waar hy vandaan kom, het lankal verdwyn in die donkerte van die nag, en waarheen hy op pad is, weet die hel alleen. Vir al wat hy weet, neuk hy nog in die see in as hy ver genoeg oos ry, of ten minste teen die kranse van die Drakensberge af. Die wolke het ook die Suiderkruis laat verdwyn en hy het nie ’n idee van die rigting waarin hy beweeg nie, nou ry hy maar tot die diesel opraak. Dit is beter as om stil te sit en te wag vir iets om te gebeur, en hoe verder hy van die brandende plaashuis af kom, hoe beter.

Die onweer flits en rammel onophoudelik, word net soms onderbreek deur ’n harde slag en ’n weerligstraal wat blou vonke uit die rotsagtige rante langs die pad slaan. Groot druppels begin plof op die ou bakkie se voorruit, en dan verdwyn alles plotseling om hom in die stortreën. Hy klap ’n hefboom teen die stuurwiel af, die ruitveërs begin sonder veel sukses klap-klap en skree oor die voorruit, want daar is nie meer veel rubber aan hulle nie.

Die Hilux se linkervoorwiel stamp deur ’n diep slaggat, die ou voertuig swaai na links uit die twee spore, die stuur ruk uit Charlie se hande en hulpeloos voel hy hoe die bakkie in die donker deur die lang gras teen ’n skuinste af stamp, deur ’n sloot bokspring en dan met ’n harde slag teen ’n groot rots tot stilstand kom. Die enjinkap spring oop, ’n pyn skiet deur Charlie se borsbeen – daar is nie ’n veiligheidsgordel wat kon keer dat sy bolyf teen die stuurwiel vasgestamp word nie. Die vrag op die bak ruk los en slaan teen die stuurkajuit vas, ’n televisie vlieg oor die dak en teen die oop enjinkap vas.

Die bakkie se enjin het gevrek, stoom borrel onder die kap uit en die warm metaal tik soos dit afkoel onder die reëndruppels. Weerlig dans op die rante; Charlie sien hoe dit sy hande bleekblou verlig en hy laat sak sy kop op die stuurwiel.

Fok.

Hier sit hy, die gevreesde Twostep Charlie, op ’n onbekende en faktap pad iewers in Suid-Afrika in ’n opgefokte skorro-skorro van ’n bakkie, met die weerlig wat dooierus vat op enigiets wat beweeg, of nie beweeg nie.

Die witkop sit seker nou met ’n langsteelglas en verlekker haar oor die dom donner wat ’n kontrak gevat het vir ’n sluipmoord wat sy in any case self klaar gedoen het; hy moet net sonder betaling die blaam kom vat.

Charlie maak sy oë toe. Sy skuld hom, maar daar’s niks wat hy nou in dié reën kan doen nie. Hy hoop die seun is by haar, of waar ook al, solank hy net veilig is. Die outoppies met die swart jasse en die wattekadotjies op die kop hou nie van skarminkels wat kinders aan die brand steek nie. Afgesien daarvan, hy wat Charlie is hou nogal van kinders, hy kom goed met hulle klaar. Kinders vra nie of jy in die tronk was en waar jy grootgeword het nie, as hulle van jou hou dan maak sulke dinge nie saak nie.

Tik

Подняться наверх