Читать книгу Tik - Piet Steyn - Страница 14

11

Оглавление

“Blou.”

“Pienk.”

“Pienk? Ek sê blou.”

“Ek sê pienk.”

“Nou waar kom jy daaraan?”

“Dis Woensdag, daarom is dit pienk.”

“Ag hel, Kat. Wil jy nou vir my sê dit is elke Woensdag pienk? Ek dink jy vat ’n lang kans.” Pine maak sy beursie oop, haal ’n noot uit. “Ek het ’n twintig hier wat sê dit is nie pienk nie.”

Kat kruis sy bene, gee sy snor ’n paar vrywe terwyl hy vies onder sy wenkbroue deur na Pine se verkreukelde twintigrandnoot loer. “Is dit al wat jy kan bekostig?”

Pine druk die noot in die besnorde speurder met die halwe oor se hempsak. “Ja, demmit! Ek het ’n vrou en ’n kleintjie. Is jy aan of nie?”

Kat knik sy kop, vat die noot. “Oukei, maar ek wed nie gewoonlik vir peanuts nie.”

Die twee speurders sit erg verveeld in luitenant-generaal Mkhize se kantoor. Hy is die hoof van die Gautengse Valke; die kantoor het ’n dik rooi mat, die groot netjiese L-vormige lessenaar het ’n rekenaar en ’n drukker en ’n klein landsvlaggie op die L se kort arm. Hy wou hulle ’n halfuur terug dringend sien, en Ann, sy sekretaresse en Pine se vrou, het gesê hulle moet maar instap, hy is op pad.

Pine en Kat staan op as die deur agter hulle oopgaan. Luitenant-generaal Mkhize het sy gewone en nou al bekende uniform aan: swart pak, swart hemp, blou waterbottel in die hand en ’n helderkleurige das. Vandag is dit so wragtag ’n pienke, ’n helderpienke soos die truie waarin die Boland-rugbyspan deesdae speel.

“Be seated, gentlemen. Jammer, julle kêrels, maar ek was in ’n meeting met die general.” Mkhize trek sy baadjie uit en hang dit sorgvuldig oor ’n hanger aan ’n kapstok langs die venster.

Kat haal die noot uit sy bosak; kyk met ’n skewe glimlag na sy ou vriend.

In Pine se jong dae sou ’n man nie dood gesien gewees het met so ’n pienk ding om die nek nie. Pienk is ’n vroumenskleur, vir onderklere en ander fyn goedjies, van hulle se prêmdae af. Ann weet as sy hom die moer in wil maak, moet sy vir klein Tiaan ’n pienk babygro aantrek, of ouma Betsie se pienk gebreide kombersie oor hom gooi – daai laaitie van hom sal ’n bleddie afwyking kry! Pienk is vir dogtertjies en blou is vir seuntjies, klaar. Hoe onderskei ’n man dan nou anders tussen hulle? Nou staan hierdie generaal hier met ’n pienk bleddie …

Mkhize laat ’n sluk water uit die blou bottel in sy keel afgorrel en kom sit agter die lessenaar. Hy druk die prop weer sorgvuldig vas, kyk grootoog na Pine, sy skraal gesig wat as gevolg van ’n bokbaardjie nog langer lyk. “Paaien, what is the probleem? Jy lyk vir my moerig genoeg om jou eie klippe stukkend te kou.” Mkhize het sedert hy van Durban na Johannesburg verplaas is, hard gewerk aan sy Afrikaans, maar sy idiome lol nog so ’n bietjie.

“Nee, Generaal, ek is orraait.”

“Did Kat enlighten you about the purpose of the meeting? Ek het vanoggend saam met hom gepraat in die opskamer.”

So ’n bliksem! Pine kyk na Kat, maar die man is skielik baie geïnteresseerd in ’n duif wat al koerende op die vensterbank vir ’n wyfie diknek maak. Hy wou sê hy ruik ’n rot, ’n grote met ’n moerse snor. “Dis Woensdag, daarom is dit pienk,” hoor hy weer daardie rot se stem in sy kop, ’n bleddie boereverneuker van ’n rot!

“Paaien?”

“Nee, ek’s reg, Generaal!” Pine hou Kat uit die hoek van sy oog dop. Dié bewaarder van goeie waardes sit egter nou met maagdelike onskuld die groot portret van president Zuma teen die muur agter Mkhize se kop en bestudeer.

“Whatever!” Mkhize loer op sy goue horlosie, staan op en stap na die venster. “Ons wag net vir dokter Annie de Viljee voordat ons aangaan.”

Terwyl die generaal met sy hande agter sy rug by die venster staan en uitstaar, klap Pine sy vingers sag en hou sy hand uit na Kat. Gemaak ongeërg druk Kat die noot terug in Pine se hand. Die deur swaai oop en Mooi Annie kom ingewaai. “Good morning, General,” kloek sy vir die man by die venster; Pine kry ’n vriendelike “goeiemôre”, maar Kat net ’n kortaf “dag, Kat”. Vir niemand in besonder nie sê sy: “Ek is jammer ek is laat, maar die paaie is verstop, van Pretoria af.”

“It’s quite all right, Annie,” sê Mkhize, maar dan lui sy selfoon. Hy skuif die foon oop, draai sy rug op hulle, en met sy een hand in sy broeksak praat hy sag in die instrument.

“Môre, Annie,” sê Pine.

“Mmm,” grom Kat terwyl hy ’n los stuk garing van ’n hempsknoop probeer afbreek. As sy vol vroumensstront wil wees, hy ken ook daardie game – hy was drie jaar met een van hulle getroud.

Annie het ’n swart langbroek, puntstewels en ’n rooi bloes aan. Haar swart hare is in ’n netjiese Franse poniestert gevleg. Dit is die eerste keer dat Pine haar met effense grimering sien, en sy lyk goed genoeg om te eet of sommer net op te ruik. Chanel Nr. 5, Ann gebruik dit ook as sy iets interessants van hom wil hê.

Annie gaan sit in die stoel langs Kat, sit haar handsak op die grond tussen hulle neer, kruis haar bene en loer skalks na die speurder met die groot swart snor. Kat sien haar egter nie eers raak nie; hy het die los rafel van die knoop afgetrek en vryf dit nou tussen duim en wysvinger in ’n bolletjie. In sy ander hand hou hy die knoop vas wat in die proses losgekom het.

Pine grinnik. O, ellende op ellende! Speurder soek ’n vrou – dit sal ’n goeie TV-reeks maak.

“Jy moet regtig iemand kry om jou knope beter aan te werk,” sê Annie met ’n stem wat drup van die vriendelikheid, maar die rafelbolletjie verg al die man se aandag. Annie kyk na Pine en knipoog in Kat se rigting.

Pine wonder of Annie besef dat sy besig is om met die leeu se stert te speel. Ou Kat het ’n paar Cupido-pyle deur die hart, maar hy bly ’n gevaarlike man, word gou kwaad en die ontlading is gewoonlik gewelddadig. Maar nou ja, die liefde is …

“Right!” Mkhize klap sy selfoon toe en kom teruggestap. “Let us start.” Hy gaan sit agter die lessenaar, teug aan die blou bottel en skuif gemakliker in die stoel in. “The drug of the Cape Flats, crystal meth or more commonly known as tik, is becoming more and more of a nuisance north of the Orange river. Even at universities like the Northwest University and Tukkies more students are using it. There is a noticeable increase also in the PWV area, and especially in the KOSH municipal area.”

Die speurders kyk fronsend na mekaar. Die PWV gebied ken hulle, maar Kosj …?

“Dit is die munisipale gebied van Klerksdorp, Orkney, Stilfontein en Hartebeesfontein,” verduidelik Annie snipperig.

“So, the northern universities are having a combined campaign, together with various law enforcement agencies against the increase of drug abuse. They are holding a week-long conference at the Northwest University, die Puk, soos julle hom almal roep. The DEA of America will also be represented and will lecture as part of a worldwide drive to try and clamp down on the manufacturing and distribution of drugs. Julle weet dat ons ewe skielik die groot moeilikheid het saam met die tik en heroïne en ook van die coke.” Hy suig weer aan die bottel, terwyl sy oë van die een na die ander spring.

Toe die generaal die hoof van die nuwe Valke-eenheid geword het, het hy van die lede van die ontbinde Skerpioene-eenheid in sy eenheid opgeneem, maar ook van die speurders wat voorheen onder hom gewerk het. Pine, Kat en Jerome Williams het besluit om by die Valke aan te sluit, want hulle het gevoel dit is ’n eenheid wat ’n verskil kan maak.

“Daar sal van Narcotics se mense ook wees met speeches en daardie soort van ding. Elke afdeling is gevra om representatives te stuur. Annie, you are going to make a speech on the forensics of drug abuse and the consequences thereof in South Africa. I suppose you have been notified about it already?”

Annie knik. “Ja, Generaal.”

“Ek hoop net nie ek moet ook ’n donnerse speech maak nie,” brom Kat deur sy snor, vee die punte driftig uit sy mondhoeke.

“Kat, enigste rede waarom jy gaan, is vir ondervinding. Somewhere, we think in southern Gauteng or the Free State, there is a hell of a big drug manufacturing plant and I’m sure that one of these days we will have to send somebody in as an undercover agent; somebody not so well known to the drug cartels, and then you must know what it’s all about.”

“Sny net sy snor af, Generaal, en niemand sal hom ken nie,” karring Pine.

“Ek stem saam, Generaal,” koer Mooi Annie met ’n sedige gesiggie.

Kat brom iets onhoorbaars. Nou soek sy vir stront, jy karring nie aanhoudend aan ’n man se bleddie snor nie!

“Daar is nog anderse lelike dinge wat jy moet bekyk daar naby, in die Vredefort Dome. Ken jy die plek? Sabotage of development projects, and a young woman drowned under very mysterious circumstances at one of these sites – she was an excellent swimmer … So, terwyl jy daar is, hou sommer jou oë oop, want die mannetjies van die Buffelshoek en Potchefstroom se stasies het nie ’n clue nie.”

Kat skud sy kop. “Hoekom word die konferensie juis by die Puk gehou, Generaal?”

“Die mense van Amerika het gevra vir ’n … ’n tranquil plek. Hulle sê die drugs-ding is depressing genoeg. Die mense van Potchefstroom se university het ’n plaas, Nooitgedacht, in die Dome, op die rivier se walle. Daar is bungalows, a conference sentrum en al die modern facilities – daar is ander kampe ook in die omgewing vir blyplek. Dit is baie central ook. The NWU snapped up the opportunity to be the host. Daar is natuurlik ander sponsors ook wat van die drugs-ding ontslae wil raak.”

“En ek, Generaal?” Pine sien al ’n week van rustigheid, snags deurslaap sonder ’n skreeuende kleintjie, vuil doeke en bottels wat gesteriliseer moet word. Hy kan al die sing van ’n Penn 49A-katrol hoor as daardie pappie van alle geelvisse hom vat en stroomop hardloop.

“Sorry, Pine, but I need you here, perhaps some other time. As brigadier van die Hawks is jou rough en tumble dae bietjie nou klaar.”

Ag tog! Miskien is dit maar beter so. Hy sal hom in elk geval vrek verlang het na Tiaan en Ann.

Tik

Подняться наверх