Читать книгу Tik - Piet Steyn - Страница 8

5

Оглавление

Charlie se ou aardrykskunde-onderwyseres was tog reg, daardie blink stroom water is die Kliprivier, en dit wás eers die grens tussen die ou Transvaal en die Vrystaat. Sy dronkgatpa was egter ook nie ver verkeerd nie, want net ’n entjie verder, suid van Standerton, sluit die Kliprivier by die Vaalrivier aan en dan is die Vaal wel die grens. Na nog ’n paar draaie vloei die Vaal dan in die groot waters van die Vaaldam in, daarna bokant Parys oor die stuwal by die Barrage voordat dit sy kronkelende slangsleepsel deur die rante en koppies van die Vredefortkoepel trek.

Die twee verliefdes wat in mekaar se arms op ’n klipbank teen die rivierwal sit, stel egter nie in die aardrykskunde belang nie. Die water op die klipbank is koel oor hulle kaal voete en hulle het net oë vir mekaar en die maan wat oor ’n hoë rant aan die oorkant loer en wat ’n geel streep oor die ou rivier se water trek – dieselfde maan wat driehonderd kilometer verder oos vir Charlie die pad verlig. Om hulle lê die beboste bergwêreld van die koepel met al sy donker geheimenisse, sy kenmerkende topografie wat in die oerverlede deur vuur, swael en geweld vasgelê is. Nou skerm dit die twee verliefdes egter af in hul eie klein wêreldjie van liefde en geluk waar niks behalwe net hulle twee saak maak nie.

Die vrou streel die man se gesig. “Kom ons swem,” sê sy.

Hy beduie met sy duim oor sy skouer na waar ’n nuwe vakansieoord gebou word. “Die swembad se pomp is nog nie reg nie.”

“Nee, stupid, sommer hier langs die klip in die rivier.” Sy lag borrelend.

Hy kyk na die waar die water vlakby hul voete met ’n wit watervalletjie oor die klipbank afstort na ’n donker poel, dan na die rivier se stil, diep stroming anderkant die klippe. “Ek weet darem nie …” Hy sug. “Dis gevaarlik, veral as jy die boomstompe en die klippe en ander gemors nie kan sien nie.”

“Nee, ou spoilsport!” Sy druk ’n piksoen op sy wang. “Ek het hier grootgeword, onthou. Dit was nog altyd ons swemgat dié.”

Hy kyk skepties na die water onder die klipbank. “Ons … ons het nie eens swemklere nie, kom ons los dit eerder.”

Sy spring op. “Wie het swemklere nodig? Hier is niemand nie!” Sy trek haar sonrok oor haar kop en gooi dit na hom. ’n Oomblik staan sy in haar onderklere op die klipbank se rand voordat sy in die poel duik.

Hy staan teësinnig op, begin sy kortbroek losknoop, hou die water dop waar sy weer moet opkom. As dit dan moet … maar hy gaan nie soos ’n mal ding sommer induik nie. Hy trek die T-hemp oor sy kop; wanneer sy opkom, sal hy met die klippe langs afklim na waar sy is.

Hy wag, maar haar blonde kop breek nie weer deur die watervlak nie. Hy roep haar naam; weer ’n keer. Hy staar nou angstig na die poel, hardloop dan ’n ent teen die rivier af. Dalk het sy, om hom te verpes, ’n ent onder die water saam met die stroom geswem. Sy is ’n goeie swemmer. Hy skree weer haar naam, maar al antwoord wat hy kry, is die weemoedige geroep van ’n uil uit die donker bosse van ’n rant aan die oorkant en die geraas van die naginsekte en die paddas in die vlak water tussen die klippe en die riete langs die kant.

Tik

Подняться наверх