Читать книгу Tik - Piet Steyn - Страница 13

10

Оглавление

Toe hulle die stink sak van sy kop afruk, is dit reeds dag, met die soort gedempte lig wat jy net in ’n nou kloof kry as die son se strale nog nie oor die rotsomsoomde koppe van die omliggende berge geloer het nie. Hulle was ’n hele ruk in die lug voordat die helikopter neergestryk het op ’n dowwe sandpad voor die hek van ’n groot sandsteenhuis wat teen die rotswand aan die oostelike kant van die kloof gebou is. Die swaar ysterhek het twee hoë sandsteenpilare weerskante en die pad loop van daar langs die huis verby en verdwyn om ’n draai na waar die kloof uitloop op ’n vlakte gestippel met wat vir Charlie soos swartwildebeeste en ander wild lyk. Dit is nou wat hy kan uitmaak met sy een oog halftoegeswel en toegekoek met droë bloed van die skade wat die pistool se korrel aan sy oogbank verrig het.

’n Dubbele ysterboog span tussen die twee hekpilare; gesweiste letters tussen die twee boë. Dal van sy genade, lees Charlie terwyl die groot staalhek oopskuif. Snaakse naam vir ’n wildsplaas. ’n Toekringkamera is op die boog gemonteer; sy swart oog volg hulle bewegings noukeurig. Charlie wonder of dié pad dieselfde een is waarop hy met die ou Hilux beland het. Hy móét wonder, want hy moet weet hoe om weer hier uit te kan kom. Dit lyk nie juis of hierdie perde hom weer by die hoofpad gaan aflaai en hom ’n voorspoedige reis gaan toewens nie – die een wil leliker en gevaarliker lyk as die ander. Hulle dra Uzi-masjienpistole of AK47’s aan ’n band oor die skouer. Watse wild skiet hulle met daardie goed op ’n wildplaas? Bobbejane wat kan terugskiet?

Weerskante van die hek is borde met rooi kopbene en weerligstrale wat in drie tale waarsku dat die hoë draadheining met die rolle lemmetjies bo-op geëlektrifiseerd is en groot gevaar inhou vir enige iemand wat dit durf waag om daaraan te raak. Die ­bobbejane van dié plek klim hopelik nie draad nie, of hulle kan lees. Die heining loop teen die hoë kranse van die oostelike hang van die kloof vas en aan die westekant verdwyn dit oor die effens platter rug van die berg. Heel bo, waar die draad oor die kruin verdwyn, kan Charlie iets soos ’n wagtoring sien.

“Kom, roer jou gat!” snou een van die spiertiere in swart en stamp hom in die rigting van die huis.

Die groot ou plaashuis wat van die vorige eeu moet dateer, het ’n breë stoep met sandsteenpilare. Van waar Charlie voortstrompel kan hy vier klipskoorstene bo die groen sinkdak sien uitsteek; in die winter moet die kapok hier diep lê. Hy kan aan die dun lug proe dat hulle hoog in die berge moet wees. Die huis moet baie vertrekke hê, daarom die baie houtvensters met skuiframe wat op die alkant-stoep uitkyk. Waarom sou mense hulle toeka se tyd in hierdie onvriendelike wêreld kom vestig het? Om sonder baie siektes met vee te boer? Of was dit die groen dek- en tamboekiegras wat hier dreig om selfs die tweespoor toe te groei wat hulle gelok het? Of wou hulle net in die berge verdwyn om weg te kom van die Engelse en die Zoeloes van Natal? Na waar die lug skoon is en die water koud en helder uit die grond kom?

Die dubbele oregonvoordeur met die loodglaspanele word oopgestoot deur nog ’n swartgeklede vent, en hulle stamp hom teen die kliptrappe op. Die een met die moesie por hom met sy AK van agter in sy rug. “Jy gaan genoeg tyd hê vir sightseeing, ou pel! Glo my. Maak dat jy in die huis kom, Vader wag.”

“Hulle is in die voorste kamer,” sê die een wat die deur oopgemaak het.

Die breë gang se blinkgepoleerde plankvloer kraak as hulle instap. By die eerste deur regs druk hulle Charlie in en gaan staan in ’n halfmaan agter hom in die rusposisie, sonder dat hy iemand “op die plek rus” hoor bulder het. Hierdie spul is beter as die bleddie army!

Die vertrek het groot boogvensters met swaar gordyne wat effens deur die wind geroer word, terwyl die grinterige oggendlig flou deur ’n skrefie probeer loer. Gebreide Ngunibeesvelle lê gerangskik op die blink plankvloer en ’n ou voorlaaier is saam met ’n paar bokhorings bo die groot klipkaggel gemonteer. Die kamer lyk soos die stel van ’n Boereoorlogfliek, of soos die sitkamer van ’n president of ’n ander hogere man. Die meubels is groot, swaar en van donker hout. Ovaal portrette van omies met baarde en voorlaaiers en anties met kappies en lang rokke hang teen die mure. Aan die staalplafon hang ’n groot kandelaar gemaak van ou olielampe, nou met elektriese gloeilampe. Die plek stink na vloerpolitoer, stof en mottegif – die reuke van ’n kamer wat nie baie gebruik word nie en te lank toe gestaan het.

Langs die kaggel sit ’n skraal man op ’n stoel met ’n hoë rugleuning, sy kaalgeskeerde kop glinster effens in die skemer, en onmiddellik merk Charlie sy besondere lang nek met ’n adamsappel wat lyk soos ’n kropgeswel. Hy sit kiertsregop met sy voete op ’n leeuvel en sy hande op sy skoot gevou. Die leeu se kop, met ’n grynsende bek tande, lê op die blink vloer en kyk Charlie stip met sy plastiekoë aan. Dan merk Charlie die jong vrou agter die stoel; sy staan met haar een hand vertroulik op die man se skouer, haar gesig byna heeltemal in skadu gehul. Die toneeltjie lyk soos een van die ou foto’s van jare gelede toe groot gesinne nog aan die orde van die dag was. Hel! Die man met die nek kort net ’n voorlaaier, ’n weglêsnor en ’n bedonnerde kyk in sy oë. In ’n stadium was sulke ou portrette vir hom snaaks, maar in die huidige omstandighede … Daar is boonop iets aan die vrou wat vir Charlie bekend lyk … Maar dan praat die man:

“Broer Gerrie, trek die gordyne oop dat ons mekaar beter kan sien, asseblief ou seun.” Die man op die stoel se adamsappel spring op en af as hy praat. Sy stem is diep en gemoduleer, ’n mooi stem, van die soort wat vra eerder as beveel, maar sonder om enige twyfel te laat oor die uitvoering van die versoek. Daar is ook ’n sweem van ’n Engelse aksent, nie veel nie, maar net genoeg om ’n mens te laat wonder. Charlie onthou dat hulle in die weermag ’n korporaaltjie gehad het met so ’n lang stywe nek en ’n klein koppie. Sy bynaam kon jy nie vir jou ma vertel nie.

Die een met die moesie op sy neus reageer – hý moet dus Gerrie wees. “Vader!” roep hy uit en kom flink op aandag, weliswaar sonder om die plankvloer met sy swart gevegstewel te verwoes. Hy beweeg vinnig na die vensters, trek die gordyne oop en kom neem weer sy plek in die ry agter Charlie in.

“Dankie, broer Gerrie. Waar het julle hom toe opgespoor? Was dit toe maklik?”

Weer die stem, maar in die lig wat deur die vensters instroom, kan Charlie sien sy eintlike krag lê in die oë – ysblou, amper grys. Dit voel vir hom of daardie oë tot in sy siel se diepste geheime boor. Dit is oë wat boei, priemende oë wat vasgryp en hipnotiseer – die oë van ’n leier. Die man het ’n soort wye Moses-oorrok aan met versierings op die bors en moue. ’n Houtkruis hang aan ’n goue ketting om sy nek.

“Sonder die sender aan die Hilux sou ons hom nie gekry het nie, Vader. Hy het om die een of ander rede die Steelsdrifpad gevat, toe het ons hom verloor in die reën, hy het verder afgedwaal. Hy beweer toevallig in hierdie rigting.”

Langnek kyk Charlie stip en byna ingedagte aan. “U sien, meneer Stevens,” sê hy op sy rustige, vaderlike manier, “moord is ’n ernstige misdaad, een waarvan pertinent in die Groot Boek melding gemaak word. In Eksodus 20 vers dertien sê die Vader: ‘Jy mag nie moord pleeg nie.’ Ons moes seker maak dat jy wel by die owerhede uitkom om jou skuld te betaal, ons kan nie anders nie, dis sy opdrag aan ons.”

Maar dan weet hulle mos van die kontrak! Hoe de hel? Daardie geklop van helikopterlemme toe hy uit die brandende huis gestorm het … Iets flits in Charlie se gedagtes en sy oë skiet na die vrou agter die stoel. Fokkit! Dis nie moontlik nie! Hoe kom sy hier? Nou eers verstaan Charlie wat Gerrie hom daar op die plato gevra het. “Het jy haar hierheen gevolg?” het hy gevra. Dit is beslis die witkop met die groen oë, die bleddie bitch wat hom geframe het. Dis sy wat hom in hierdie stront laat beland het. En kyk hoe staan sy daar. Waar is daardie skelmgeit in haar oë nou? Waar is daardie soet woordjies? Nou staan sy daar soos ’n verlepte blom en maak asof sy hom nie sien nie. Die teef! Waarom kyk sy hom nie in die oë nie? Hoekom kyk sy net na die plafon?

“Ek sien jy herken my vrou, meneer Stevens.”

Vrou! Is sý ou pielnek se vrou? Nou wat van die ou bliksem op die plaas? Die een met die gryskop en die kop vol lood? En wat van die ou vrou, en die laaitie? Ja, wat van die laaitie? Charlie kan die opwelling van vrae nie meer keer nie. “Nou … nou hoe de donner werk dit?” roep hy uit. “Sy het my dan gehuur om haar ou man …”

Die man se grys oë flits, die kaalkop en nek kom regop soos dié van ’n slang wat gereed maak om te pik. “Jou taal, meneer Stevens! Asseblief. Dit is ’n plek van God. Die kloof word genoem ‘Dal van sy genade’, en hier word nie gevloek nie.” Hy leun terug, sit sy hand op die vrou s’n op sy skouer. “Gaan lees Deuteronomium 4 vers 11, Eksodus 20 ook.” Hy gee die hand op sy skouer ’n drukkie. “As jy dan moet weet, Hy het dit aan my geopenbaar dat sy vir my bestem is; jy was maar net ’n instrument in sy hande toe jy so tragies van haar vorige eggenoot ontslae geraak het. Sy was van die begin af vir my bedoel, en wat Hy saamgevoeg het, kan geen mens skei nie. Matteus 19 vers 6.”

Die witkop lyk nou tranerig, en sy kyk amper pleitend na Charlie voordat sy haar oё weer na die plafon keer.

Charlie gaap haar met ongeloof aan. Wat gaan nou aan? Wat het geword van haar gladde selfversekerdheid, van daardie groen oë wat hom so gemesmeraais het? Hoekom lyk dit nou asof sy iets van hom wil hê? Sy het dan nou alles wat sy wou gehad het! Al haar plannetjies het mos uitgewerk. Of is dit nou ’n nuwe scheme dié?

“Daar is nog baie aanhalings uit die Groot Boek, meneer ­Stevens, maar ek sal vir eers met die paar voorafgenoemdes volstaan. Ons plan is om jou by die polisiestasie op Volksrust te gaan aflaai, en die polisie te vertel hoe ons jou in die veld gekry het nadat jy gevlug het van Mooifontein af – dit is nou natuurlik nadat jy die moorde gepleeg en die huis afgebrand het. As ’n Christelike gemeenskap is dit net ons plig.”

Van hierdie stront het Charlie nou genoeg gehad! Sedert C-Max se deur agter sy gat toegeklap het, neuk almal hom rond. Hy gee ’n tree vorentoe, beduie met sy vinger: “Luister, ou pel, fok jou ook! Jy met jou Mosesrok en al. Ek het vir jou ook ’n fokken versie: Jy het die verdomde kat aan die gat beet! Charlie Stevens, hoofstuk 12 vers 8, gaan lees dit maar. En lees my lippe: Ek het fokkol daarmee te doen gehad. Sy is die een wat die sneller getrek het …”

Slangnek knik na iemand agter hom. Charlie voel ’n hand op sy skouer en ’n duim wat in die sagte vleis van sy nek inboor. ’n Verlammende pyn skiet deur sy lyf, in sy kop in op en af tot in sy tone. Die kamer begin draai, sy bene vou onder hom in en die swart en wit kolle van ’n Ngunibeesvel skiet op na sy gesig toe. Hy is bewus van ’n naaldeprik in sy boarm, terwyl die duim steeds in sy nek inboor. ’n Geluksaligheid neem dan geleidelik van sy liggaam besit, spoel soos ’n golf verkwikkende water oor hom. Die druk op sy nek word verlig en hy is ook bewus van hande wat hom optel en regop hou. Die man met die wit rok sit hom met ’n flou glimlag en bekyk. Charlie sien sy lippe beweeg, die adamsappel wat spring, en hy hoor vaagweg ’n stem asof iemand deur ’n pyp met hom praat.

“Net ’n ietsie om jou te kalmeer, meneer Stevens, niks ernstigs nie.” Die kop met die bewegende lippe skuif dan vinnig uit sy gesigsveld uit, maar die stem draal nog: “Sit hom eers by broer Deon, ek sal later verder met hom handel.”

Die laaste ding waarvan Charlie bewus is, is die witkop se oё. Hy sien hoe sy, asof met moeite, van die plafon wegkyk en haar blik, daardie groen oë, op hom laat rus. En net voordat alles voor hom wasig word, lyk dit asof sy hom iets wil vra.

Tik

Подняться наверх