Читать книгу Tik - Piet Steyn - Страница 17

14

Оглавление

“Nou wanneer het jy dit die eerste keer gesien, ou Moos?” vra die polisieman aan die man met die verlepte velthoed en die sweep oor sy skouer.

“Nee, Sarge, vroegoggend al.” Die ou man stoot die hoed met sy duim terug op sy kop en loer na die oggendson wat nou vier vingers bokant die bosbegroeide rant oorkant die rivier hang. Hy trek sy moeë, waterige bruin oë op skrefies; sy gesig lyk soos ’n stuk ou leer wat te lank in die son en wind en reën gelê het. Hy druk die pruimpie met sy tong stewig agter sy kiestande vas en spuug dan ’n bruin blerts na ’n blou naaldekoker wat op ’n biesiepol se hoogste punt sit voordat hy aangaan. “Nee, soos ek loop vroeg by die oggend hier om die skaap by die ranteveld te vat, sien ek die anderste soort ding doer tussen die snotterbelle deuskant by die riete.”

Die grotesk opgeblase liggaam van ’n vrou het vasgedryf teen die riete en hiasinte wat ’n deel van die rivieroewer ingeneem het. ’n Paar kwetterende geelvinke sit met draaiende koppe ’n swartkraai en dophou wat iets draderigs uit die lyk se wit uitgewaste skouers trek.

’n Baber of ’n likkewaan of iets stamp vanuit die donker dieptes teen die lyk, die kraai gee ’n lui wip sywaarts en die vinke fladder op en dan weg oor die riete. ’n Slanghalsvoël wat rustig verbyswem op soek na ontbyt klap homself uit die water uit op, en die skerp oggendson blink op sy nat vlerke waar hy by ’n klomp wit veeryers op die droë tak van ’n wilgeboom gaan sit en sy vlerke uitsprei om drooggebak te word. Blou-en-rooi naaldekokers sigsag oor die plate hiasinte, en waar die sonlig op oop kolle water blink, kring watergoggas al wyer en wyer. Nou en dan draai of spring ’n vis, en die polisieman op die rivierbank swaai sy verkyker na die rimpels op die watervlak, dan weer terug na die wit vlek in die plaat groen hiasinte.

Sersant Renier Saayman laat sak die verkyker, kyk afwagtend na die man langs hom se verrimpelde, sonverweerde gesig. “Ja, en wat doen jy toe?”

Moos Sitheng vertel in Sotho-gekleurde Afrikaans dat hy op die lyk afgekom het en toe by een van die plaashuise gaan bel het.

“Dit wás ’n mens orraait,” sê Saayman. “En die visse en die krappe het ook al hulle deel gedoen. Die lyk moet al lank in die water wees.”

Die ou veewagter antwoord deur ’n blerts pruimsop tussen die biesies in te spoeg. Die naaldekoker wat die eerste blerts ontduik het, is dié keer nie so gelukkig nie. Die bruin straal ruk sy sitplek onder hom uit en hy verdwyn met sy rukkerige heen-en-weer-vlug oor die rivier.

“Maar ek vat nie aan daardie ding nie,” sê Saayman. “Die polisieduikers is op pad.”

Moos krap sy grys baardstoppels met ’n knoetserige middelvinger. “Daar is seker niks meer by die kop nie,” sê hy. “Die Groot Een, Salamôlethlaka, het hom uitgesuig.”

Saayman laat sak die verkyker en kyk verbaas na die ou man. “Wie?”

“Salamôlethlaka. Hy bly hier by die diep watergat.”

Die polisieman klap ’n steekvlieg van sy nek af. “Nog nooit daarvan gehoor nie!”

“Julle se mense roep hom Salmaklak, die groot likkewaan van die rivier.”

Die polisieman lig die verkyker weer na sy oë. Hy het dié storie al gehoor. “Al weer daardie stront,” mompel hy en verstel die verkyker se fokus. “Die kop is nog daar, Moos. Daai klas van dinge gebeur nie meer nie, dis bygelowe. Ek kan die kop sien, die wit hare. Jou likkewaan het seker dié keer vergeet van die kop.”

“Hy vreet nie die kop nie,” sê Moos, “net dit wat binne is. Kyk maar, jy sal nog sien, daar is niks by die kop nie.”

Die ou man se oë soek-soek weer oor die biesiepolle vir ’n teiken, en in die afwesigheid van ’n naaldekoker moet ’n spoelklip tussen die grasse die bruin streep twakspoeg ontgeld. Hy draai om.

“Dan loop ek maar, die skaap hy loop nou te ver.” Hy haak sy sweep van sy skouer af en stap na waar die geblêr van ooie en lammers iewers agter die struikgewas opklink.

“Hei, jy kan nie loop nie!” roep Saayman agter hom aan. “Waar kry ons jou weer? Jy sal ’n verklaring moet aflê.”

Die antwoord kom uit die bosse: “Ek is maar hier op die plaas, jy weet mos, Sarge. Ek gaat nie ver nie. Julle sal my kry.”

Tik

Подняться наверх