Читать книгу Tik - Piet Steyn - Страница 7

4

Оглавление

Toe Charlie teenaan die pad swart bome sien en ’n plaashuis se dak wat in die maanlig blink, hou hy stil en klim uit. Al wat hy nou nodig het, is ’n vent met ’n los maag op pad na ’n longdrop, of wat om die een of ander rede in die nag op die plaaswerf rondloop en dan die bakkie sien. Met al die skaapstelers wat deesdae die boere hel gee, sal elke poot, plaaswag, kommandolid, of wat hulle ook al in hierdie wêreld gebruik, baie gou van hom weet.

Agter sy rug kan hy teen die oosterkim nog die rooi gloed van die brandende huis sien. Voor hom, net anderkant die plaashuis, loop die pad af na ’n nou brug oor ’n blink stroom water. Volksrust, weet hy, is in die goeie ou skyt-en-betaal Transvaal en Vrede is in die Vrystaat, so iewers moet daar ’n grens wees. Nie sommer net ’n streep op die kaart nie, onthou hy, maar ’n regte egte grens. Daardie blink stroom water dáár onder by die brug moet dan die Kliprivier wees. Dis altans wat die ou vrou gesê het wat die aardrykskunde by sy agterent probeer infoeter het.

Hoekom onthou hy hierdie stront? Seker omdat hy ook kan onthou dat sy pa in ’n nugter oomblik gesê het die onderwyseres is van haar trollie af: “Die grens is die fokken Vaalrivier, Charlie! Dit is waarom ons in die ou dae gepraat het van die Trans-fokken-Vaal; anders was dit mos die Trans-fokken-Klip!” Pa het ’n manier gehad met die taal, veral as hy gesuip was. Dit het vir hom ook sin gemaak, maar daai ou vrou was naby genoeg om sy ore warm te klap; Pa was toe al weer ver weg in die Zonderwater-tronk.

In die nagstilte kan hy die gemurmel van die rivierwater oor die klippe hoor. Aan die ander kant van die stroom begin twee kiewiete luidkeels protesteer – iets moes hulle opgejaag het. Vanuit die plaashuis se rigting blaf ’n hond vakerig en ’n koei roep weemoedig na haar kalf. Die rante in Vrede se rigting lê helder en skerp afgeëts in die maanlig, en ver daaragter is ’n dreigende wolkbank vol weerlig, te ver om die donderweer te hoor.

Dit is ’n idilliese en rustige prentjie wat Charlie ’n oomblik laat vergeet waarin hy hom bevind, hom laat verlang na ’n rustigheid wat hy nooit in die ou sinkhuis langs die treinspore geken het nie. Ná sy ma se verdwyning met die boekesmous het sy pa ernstig begin suip. Om te vergeet, het hy gesê. Die probleem is net dat daardie klas van lewe geld kos, en as jy nie werk nie, moet jy steel vir die voorreg. Pa was ’n slim man, in ’n stadium die jongste stasiemeester in die Karoo, maar hy kon nie slim genoeg steel nie en het sy werk verloor. Pa was ook nie juis ’n skelm genoeg daggaboer nie, en in die tronk het die vigs hom opgevreet.

Die veraf gedreun van ’n voertuig laat Charlie sy kop opruk. Drie bulte verder, in Vrede se rigting, sien hy dan ook die vinnig naderende hoofligte. Pote! Dit kan net hulle wees wat hierdie tyd van die nag so sal rondjaag op hierdie verlate pad. Hy moet die Hilux uit die pad kry en vinnig ook. Witkop sou vir hulle ’n beskrywing van die bakkie gegee het en op hierdie stuk pad kan hy nou nie juis onopgemerk verbysluip nie. Die bakkie, die vrag met die seil oor en die stil pad laat hom hoeka soos ’n daggasmous of ’n skaapsteler lyk.

Charlie dink aan die pad soos hy gekom het. Daar is nie ’n plek om iets soos ’n bakkie in hierdie helder maanlig weg te steek nie. Dalk oorkant die rivier; hy sal die kans moet vat, daar’s nie nou tyd om te soek nie, al moet hy die bakkie tussen die dekgras in die wenakker los en die veld inhardloop. Vang sal hulle hom wragtig nie weer nie, al moet hy die pistool gebruik – nie met die moontlikheid dat die seun in die huis verbrand het nie. Die pote is geneig om varke te word as jy ’n kind seermaak, dit is asof al hulle vaderlike hormone skielik op aandag staan en vergelding soek.

Hy sit die Hilux in rat en ry teen die skuinste af na die nou staalbrug. Te hel met die vent met die los maag, hopelik skyt hy in sy pajamabroek en vergeet om te bel oor die bakkie vol smokkelaars wat in die nag voor sy hek rondgehang het.

Anderkant die rivier loop die pad weer teen ’n steil helling op. Aan die linkerkant van die pad sien hy ’n paar wit geboue sonder ’n heining en ’n paar bome sonder blare. Teen die muur van die grootste gebou is ou verbleikte Coca-Cola- en Joko-advertensieborde. Hy ry met die bakkie agter die oënskynlik verlate ou plaaswinkel in en sit die ligte af, haal die pistool uit en laat gly ’n koeël in die loop in. Dan klim hy uit en gaan kniel agter ’n paar leë oliedromme.

’n Donkerkleurige Land Rover met een insittende dreun vinnig verby, blykbaar nie gepla deur die slaggate en spoelslote in die pad nie. Vir die afdraande duskant die brug skakel die bestuurder na ’n laer rat, en Charlie kan hoor hoe die enjin se toere opjaag voordat die voertuig stadiger oor die staalbrug ratel en dan weer teen die steil opdraande aan die anderkant uitbrul. ’n Jong boer onderweg huis toe ná ’n dop en ’n tjop by ’n pel? Of dalk het hy iewers by ’n jong onderwyseres gekuier? Dis in elk geval nie die pote nie, hulle ry nie daardie klas voertuie nie. As die witkop hulle nog nie laat weet het nie, sal hulle in elk geval aanstons weet – die boer behoort reeds die gloed van die brandende plaashuis op te gemerk het.

Hy moet padgee.

Die ou Hilux ruk en sy ratte knars toe hy wegtrek. Ver vorentoe, anderkant die bleek vlaktes, kan hy die rûe van hoë rante sien. Tussen die rante sal hy die pote nie kan sien voordat dit te laat is nie; hy sal van dié pad moet afkom. Aan die skadukant van ’n plat kop kry hy ’n grondpad wat links uitdraai tussen die rante in. Waarheen dit loop, weet nugter, want die groen padteken is vol gate geskiet. Maak ook nie juis saak nie, solank hy net van die ander pad afkom. Hy sal wel iewers uitkom. Die Suiderkruis hang skeef voor hom, dalk loop dié pad Memel of Newcastle toe, waar die pote hopelik nog nie na hom soek nie.

Tik

Подняться наверх