Читать книгу Tik - Piet Steyn - Страница 9

6

Оглавление

Kaptein Boeries Freislich lê met sy hande onder sy kop en staar na ’n donker plafon, ná ’n lang dag van moord en doodslag wag hy met dwalende gedagtes dat die slaap hom oorval. Dit is nie maklik om jou kop ná só ’n dag tot stilstand te laat knars nie: twee gevalle van messtekery in Thabong en ’n noodlottige aanranding met ’n gebreekte bottelnek in Bronville – al drie dwelmverwant. Heroïen, kokaïen, dagga en tik ook. Laasgenoemde is besig om ’n ál groter probleem te word, ook hier in die Goudveld. Dit maak hom bekommerd oor sy suster, Baby, wat so maklik beïnvloedbaar is.

By die ou St. Helenamyn het die polisie en veiligheidswagte ook weer met mynstropers gebots. Hierdie keer het die telbord gewys: twee stropers dood en een veiligheidswag. Die onwettige mynwerkers, die zama-zamas, word nou deur die veiligheidswagte uit die myne gedryf met die gevolg dat hulle nou ou mynpersele bogronds van letterlik alles stroop. Hulle pan selfs die ou paaie vir gouderts wat gemors is in die dae van oorvloed, terwyl hulle pelle die geboue stroop van alles wat uitgebreek kan word. Skrootyster en koperkabels is amper net so lonend soos die goudstof. ’n Paar is al doodgeval deur die onstabiele mure van geboue wat vinnig verander in mankolieke murasies sonder dak of vensters of deure.

’n Kompleks wat geoormerk is vir ’n lewende mynmuseum sodat die nageslag kan sien hoe die eerste goudproduserende myn gelyk het in die dae toe die Vrystaatse Goudvelde die rykste goudriwwe in die wêreld gehad het, is besig om baie vinnig afgebreek en stuk-stuk weggedra te word.

Boeries vryf deur sy kort swart hare en probeer sy aandag herlei na die naggeluide in die woonbuurt. In die verte kan hy die eentonige gesing hoor van ’n reusagtige bogrondse waaier wat lug deur die ondergrondse gange en werkplekke van die paar oorblywende myne trek. Iewers ver weg kerm ’n fifty-piskriek, miskien ’n jong mynwerker of dalk ’n onsetter op pad myn toe vir ’n laatskof; miskien is daar ’n breakdown ondergronds wat nie kan wag tot die môre nie.

Benewens dié geluide is Virginia se woonbuurt Merriespruit stil. Selfs die gedoef-doef uit ’n paar motors se kattebakke by mevrou Sithole se huis laer af in die straat is nou ook stil. Haar laaitie het óf klaar verjaar óf die spul jonges het na groener suipvelde verskuif. Maar daar begin ou Keppies van hier langsaan se brak blaf, seker vir die maan. Twee kortes en ’n lange, sê sy pa. “Dis soos ’n bleddie plaastelefoon. Woef-woef … woef! Woef-woef … woef!”

Sy ma reken hy blaf snags vir pa Kris se gesnork, wat volgens haar meer lawaai maak as die hond. Sy sê hy klink soos ’n bronstige leeu, net sonder die bronstigheid. Veral as hy die aand ’n paar dubbeltjies gedrink het, en dis hoeka Vrydagaand. Daar was seker weer ’n veerpyltjie- of snoekerkompetisie by die klub en die kans dat Kris Freislich heelaand net koek en tee gevat het, is nul.

’n Venster word iewers oopgegooi. “Voertsek! Bliksem!” bulder iemand die nag in. Dis sy pa, en aan die stemtoon kan Boeries hoor dat die veerpyle nie vanaand gevlieg het soos wat hy dit wou nie. Wie nie wakker geblaf is nie, is in elk geval nou wakker.

Eintlik is die baster-maltesie ’n oulike klein brak met die naam Seuntjie, maar Kris noem hom Bliksem, en dit het niks te doen met Danie Craven se hond se naam nie.

’n Ruk is dit stil.

Die venster word toegeklap.

Dan weer woef-woef … woef.

Venster weer oop, hierdie keer word die gaasskerm ook oopgeskuif. Boeries glimlag. Kris se kop is seker nie lekker nie, nie ná al die tipsietert en tee by die klub nie. Nou vir die kettie wat aan die gordynkap hang en die hoop ronde klippies op die vensterbank, hy ken al die storie. Seuntjie ook, maar hy het tot op datum nog geen littekens om te wys nie, hy skrik dus ook nie juis meer nie.

Klingeling. Dis ’n venster daardie! Klink soos een van Keppies s’n.

“Kris!” raas ma Stien, “kom slaap met jou dronkgat, netnou sluit hulle jou toe vir rusversteuring.”

Nog ’n venster gaan oop, ’n bietjie verder weg.

“Kris Freislich! Is jy bedonnerd! Jy skiet net so vrot met ’n kettie as wat jy darts gooi. Hoekom slaap jy nie, demmit?”

“Hoe de hel moet ek slaap as daardie pavement special van jou heelnag vir sy gat sit en blaf? Ek werk môre, ek lê nie soos jy by die boilershop heeldag met ’n spênner onder ’n fokken loco en slaap nie!”

“Dis môre Saterdag, jou dom donner! Jy werk nie. Al wat jy môre gaan doen, is om hierdie venster te kom regmaak, of ek bel die poelisie.”

Seuntjie, alias Bliksem, moes agtergekom het daar word van sy herkoms geskinder en storm die draad met sy volle repertorium.

“Te hel met jou! Maak eerder daardie brak van jou stil of ek blaas hom met die nine mill.”

“Wat jy waar kry?”

Boeries wonder self waar sy pa ’n negemillimeter gaan kry. Al wat hy het om mee te skiet, is die kettie en ’n ou BSA-windbuks met ’n pap veer.

Die venster klap hard toe en die skerm word met ’n harde klap afgeskuif. Seuntjie raak mal. Keppies skree op die hond om na sy kassie toe te gaan.

Stilte daal weer op die buurt neer.

Boeries draai tevrede op sy sy, maak sy oë toe. Maar dan vibreer sy selfoon op die kassie voor sy bed. Hy kantel sy Timex na die lig wat van die straat af deur die gordyne skyn: halftwee. Wat de hel? Die selfoon se skerm sê dit is Baby. Sy’s veronderstel om in haar kamer te wees, vas aan die slaap. Hy klap die foon oop.

“Kom haal my.” Baby praat sag met ’n bewerige, bangerige huilstem. In die agtergrond kan hy die lawaai van luidrugtige musiek en ’n klomp jong mense hoor wat klink of hulle te veel gesuip het. Harde woorde word heen en weer geslinger.

“Is jy nie veronderstel om in jou kamer te wees nie? Pa slaan jou gat warm.”

“Kom haal my net, Boeries.” Baby snik nou. “En … en moet nie vir Pa sê nie, asseblief.”

“Waar’s jy?”

“In Harmonie.” Baby gee Boeries die adres.

Hel, Harmonie is anderkant die Sandrivier!

“Hoe de donner kom jy daar, my magtig, jy weet …”

“Boeries,” haar stem het ’n dringendheid wat hy nie ken nie, dit is asof hy die onderlippie kan sien bewe soos in die ou dae as sy seergekry het. “Kom haal my net, asseblief. Ons kan later praat.” Pouse. “Kom met Ma se kar.”

As hy nie met sy Kawa moet gaan nie, weet hy uit ondervinding, is daar ander bagasie ook, wat nie kan loop nie.

Tik

Подняться наверх