Читать книгу Tik - Piet Steyn - Страница 16

13

Оглавление

Die pyn klop in Charlie se heup. Hy maak een oog oop en word stadig bewus van sy omgewing: ’n knopperige klapperhaar matras wat ongemaklik in sy stuitjie en skouerblaaie inboor, die stank van Jeyes Fluid in ’n slopemmer of ’n ding wat al lankal leeggemaak moes gewees het. Hy hoef nie eens te kyk nie, hy is in ’n sel, hulle stink almal dieselfde. En hy is kaalgat, soos die dag toe hy in die lewe gekom het.

As daardie eerste inspuiting hom soos ’n krokodil met gordelroos laat voel het, het die tweede een hom saam met al sy ellendes in ’n diep put van depressie gegooi. Hy voel of ’n trein met tien koletrokke oor hom is, sy mond is droog en as hy probeer sluk, sit sy tong aan sy verhemelte vas.

Charlie maak sy ander oog ook oop; ’n streep sonlig val vanuit ’n hoë tralievenster deur die stowwerige lug op sy gesig en hy kruis sy arms oor sy voorkop. Sy lyf vra weer na daardie swewende heerlikheid, die paar oomblikke ná die naald, voordat alles swart word. Hy onthou iets soos ’n groen woud met baie skaduwee en blomme en yskoue kabbelende waterstrome, weg van al die swaarkry van hierdie wêreld. Daar was musiek, hy is seker daar was musiek ook – strelende sagte vioolmusiek wat draai en kalmeer en saam met sy lyf deur die boomtoppe gesweef het. Dit is dus hoe dit voel om ’n junkie te wees …

“Vergeet dit, ou vriend,” sê ’n skor stem van iewers aan die ander kant van die vertrek, “daar’s nie regtig so ’n plek nie. Ek weet, ek was ook al daar.”

Charlie kyk vlugtig, kreun en knyp sy oë toe, moenie sê dis nog ’n bleddie kamermaat met ’n pyp en ’n wit Mosesjas nie. Charlie buig sy linkerbeen sodat hy darem nie so oopkastrol voor ’n vreemdeling lê nie; ’n man kan nie vandag se dae te versigtig wees met vreemdelinge nie.

“Ek weet jy is wakker, het jou sien rondloer.” Weer dieselfde stem. “Die beste is om regop te kom en water te drink. As jy so bly lê, gaan jy vrek.”

Charlie dwing sy oë oop, draai sy nek. Dit ís ’n sel, ook met die sandsteen van die omgewing gebou en met ’n nuwerige plafon van beton en ’n swaar bo-en-onder-deur wat met yster versterk is. Hy swaai sy bene van die bed af. Waar sou daai spookstem vandaan kom? Dit is ’n langerige vertrek, sien hy nou, wat deur dik tralies afgeskort is om twee selle te vorm, elk met sy eie hoë tralievenster en houtdeur. Dit moes seker jare terug die plaas se stalle gewees het; selfs die baksteenkrip is nog daar teen die agterste muur.

In die sel langsaan sit-lê ’n man op ’n bed, sy rug teen die muur. Hy het ’n sout-en-peper baard en ’n bos swart hare; sy kakiekortbroek en -hemp met die blou sakke is gekreukel en vuil. ’n Paar stewige Cat-stewels staan voor die bed en ’n verbleikte velthoed hang aan die voetenent, die sweetband en breë rand swart gevlek deur sweet. Charlie sien nou dat hy verniet bekommerd was oor sy kaal gat, hierdie perd kolf ooglopend vir die regte span.

“Daar’s drinkwater voor jou bed,” sê die man en beduie.

’n Groot enemmelblik met water staan op ’n leё teekis voor Charlie se bed. Sy denim, geruite hemp en blou trui lê langs die beker, gewas en netjies opgevou. Charlie spoel sy mond uit en neem eers een versigtige sluk van die koel water voordat hy die blik ledig. Hy druk sy neus onder sy kieliebak in … Iets is fout. Iewers het hy bespuit geraak met moffie juice wat baie lekker ruik. Daar is g’n teken van ’n sweetreukie nie. Dalk is hy rêrig in die hemel!

“Hulle het jou gebad en jou klere geskrop toe jy in droomland was.”

“Wie?” Charlie skrik half vir die kraak in sy stem; hy klink vir homself onherkenbaar.

“Die susters van die gemeente.”

Susters? Charlie is egter te ingenome met sy nuwe voorkoms om dadelik te antwoord. Fok, hy het laas so lekker geruik toe sy ma nog sy doeke omgeruil en sy boude met Johnson & Johnson gepoeier het. Hy voel aan sy gesig, die baard is nog daar.

“Ek het gesê hulle moet jou baard los, mens weet nooit,” sê Charlie se buurman. “As jy nog water wil hê, bel kamerdiens.” Hy verskuif effens op die bed en kry sy rug in ’n gemakliker posisie, lag dan as hy sien hoe Charlie in sy sel rondloer. “Nee, daar’s nie regtig ’n telefoon nie. Moer sommer met die blik teen die deur, dit werk gewoonlik.” Die man betrag Charlie van onder ’n paar woeste wenkbroue. “Ek is Calla van Niekerk,” sê hy.

Charlie staan swaar op en sukkel hinkend na die kommode met die stink emmer wat in die een hoek staan. Hy maak sy blaas leeg en stap dan terug na die bed. Sy klere ruik na Sta-Soft. Die onderbroek is meer gat as materiaal en dit is seker nou tyd om dit agterstevoor aan te trek. As hy eendag weer by ’n Pep kom, sal hy ’n paar nuwes moet kry, ’n man kan nie so rondloop nie … Sê nou hy kry ’n gelukkie! Gmf! Om wat mee te maak?

“Ek’s Charlie,” sê hy terwyl hy sy tekkies vasknoop.

“Charlie wie?”

Hy gaan lê steunend op die bed. “Sommer net Charlie, dis genoeg.” Ná ’n ruk vra hy met ’n sug: “Wat maak jy hier?”

“Ek weet te veel.”

Charlie oordink die antwoord ’n ruk voordat hy weer praat. “Waarvan?”

Die man lig sy bolyf van die muur, en kom dan heeltemal regop op die bed, staan en staar na buite met sy elmboë op die klipvensterbank. Hy is ’n lang, frisgeboude man, sy arms en bene bruingebrand, sy gesig ook, behalwe die wit stuk voorkop waar die son seker nooit onder die velthoed se rand inkom nie. Hy het ’n paar swart rugbykouse met twee wit strepe aan wat soos opgerolde worse om sy enkels hang.

“Ek boer naby Newcastle, nie ver van hier nie,” sê die man. Hy staan steeds stil en staar na iets anderkant die tralies. “My … my vrou het agter hierdie klomp verdomde hippies begin aanloop. Sy het ’n ding gehad vir hulle leier en dit waarvoor hulle staan: liefde en vrede vir almal.” Hy grinnik. “Vrye liefde en tik as jy my vra. Kyk net hoeveel liefde en vrede het hulle vir ons twee gegee.”

Ag hel, dink Charlie. Hulle het ten minste sy smerige klere en agterent gewas, en hy het wragtag nie ook nog krag vir hierdie man se huismoleste nie. Elke sport het maar sy beserings, het sy pa gesê toe Ma die pad gevat het. Wat vir hom wat Charlie is nou belangriker is, is om meer uit te vind van hierdie plek. Watse mal plek is dit presies, hierdie hool met sy vaders en broers en susters en tik en die hel weet wat nog. As jy wil uitbreek uit ’n plek, moet jy jou huiswerk goed doen; jy moet weet waarvoor jy jou inlaat. Hier gaan hy nie bly nie. Geen spul weird dropouts met rokke gaan hom hier hou en ’n druggie van hom maak nie!

Maar oukei, die ou langsaan is sy enigste bron van inligting, laat hy dan maar probeer. “Wat het van jou vrou geword?” vra Charlie so vriendelik moontlik.

Die man se kneukels word wit om die tralies. “Die hoofpoephol, die een wat hulle Vader noem, het glo ’n visie gehad dat die Groot Vader haar vir hom as vrou bestem het. Hy praat van ‘die ring van samevoeging’. Nou ja, hierdie ring, sê die poephol, is om hulle voltrek, maar ek sê vir jou dit het nie gebeur voordat sy vyfhonderd van my beste vleismerino’s vir hom gegee het nie, en dit het gebeur toe ek vir besigheid in die Kaap was.” Hy slaan met sy vuiste op die vensterbank. “Hy kan haar maar hou, sê ek vir jou. Hy moet haar vat, sy’s nou gebruikte goedere.” Hy kyk Charlie aan met vlammende oë, sy gesig hoogrooi. “Maar ek soek my verdomde skaap! Dis stoetooie daai. Dit hou ook nie op nie, ek weet nie of daar nog iets van my plaas oorgebly het nie.”

Charlie se kop verwerk die inligting stadig. Al waaraan hy kan dink, is dat Vader ou Calla se vrou lankal verruil het vir die witkop-poeding met die groen oë. Sou Calla dit weet? Arme bliksem, vyfhonderd stoetooie is seker ’n moerse klomp geld. “En … en as hy moeg is vir haar?” vra hy.

Calla klim van die bed af, begin heen en weer in die sel stap. “Kry vir hom ’n ander een. Daai vent het meer koerasie as ’n Bovelderbul in ’n kamp bronstige Drakensbergerkoeie. Wat hulle in die maergat sien, weet die hel alleen. Miskien is daardie lang nek van hom nie die enigste ding wat lank is nie.”

“En sy? Wat word dan van haar?”

“Die langnekbliksem sal wel iemand kry vir wie sy ‘herbestem’ is. Daar is seker al honderd of meer siele in hierdie kolonie.”

“Hoekom is jy nie na die pote toe nie? Hel, vyfhonderd skape!”

“Ek wou eers kom kyk wat hier aangaan.” Hy glimlag wrang. “Toe sluit hulle my toe.”

’n Ruk is dit stil; Charlie volg Calla se heen-en-weer-stappery. “Toe my vrou hier betrokke geraak het, het ek navorsing gedoen oor kultusse soos dié.” ’n Ruk lank weer net Calla se voetval. “Daar was baie van hulle, veral in Amerika. Die People’s Temple van Jim Jones in Jonestown, Guyana. Die donner het meer as negehonderd mense, mans, vroue en kinders laat gif drink toe sy gat vasgedraai het.”

“Ek kop dit nie,” sê Charlie. “Wat maak dat mense so agter een paloeka aanloop, sulke dinge doen?”

“’n Vent soos Jim Jones, of Charlie Manson van die Moonies, is gewoonlik baie charismaties met ’n baie sterk persoonlikheid. Jy het mos die slangnekbliksem gesien daar binne. Hy maak vir hom ’n klomp onseker mense bymekaar en neem hulle lewe oor; hulle glo alles wat hy sê en doen alles wat hy beveel. Hy vat hulle na ’n afgeleë plek waar hulle selfonderhoudend is, soos hier, en besoekers word nie toegelaat nie. Hy neem hulle lewe so oor dat hulle selfs hulle eiendom aan hom gee: plase, huise, vee, geld, wat ook al. En alles baseer hy op die Bybel – meesal die Ou Testament. En dis baie vreemd, maar dwelms en seks, veral met jong goed, is die sement wat alles aan mekaar hou.”

Charlie krap sy kop. In die tronk al het hy gewonder oor dinge soos dié. Hoe die bendes in die tronk werk. Dinge soos Hitler, hoe gewone mense ’n ou kan volg en dinge doen wat hulle andersins nooit sou doen nie. Check nou hierdie ouens hier wat tik vat asof dit Oros-koeldrank is, en nie weet dat dit is wat hulle soos nete aan Slangnek laat klou nie. Charlie skud sy kop. “Waar kry hulle al die jong goed waarvan jy praat?”

Calla gaan sit op die bed met sy hande in sy bos krulhare. “As jy lank genoeg hier bly, sal jy agterkom hier is nie baie jong seuns nie. ’n Seun is hier nie veel werd nie.” Hy lê weer terug op die bed. “Dogters en jong vrouens, ja! Hulle stuur die jong manne die wêreld in om jong meisies hiernatoe te lok, en as hulle eers hier is, hou die tik hulle hier.”

Voordat Charlie nog ’n vraag kan vra, is daar ’n gestamp aan een van die twee houtdeure. ’n Luik in Calla se bo-deur val oop. “Staan terug!” skree iemand van buite, en albei selle se deure ratel.

Charlie kyk vraend na Calla.

“Oefeningtyd,” sê die boer en begin sy stewels oor sy kouse trek. “Onthou, hulle is darem soort van Christene, en die skyn moet gehandhaaf word. Kom ek gaan wys jou die plek, maar moet niks probeer nie. Hulle lagie Christelike vernis is maar baie dun.”

Buite lyk dit asof die son soos ’n rubberbal hoog vanuit die byna wit lug op die groen gras gaan bons. Beboste klowe en sagter voue in die landskap maak donker strepe teen die rante en deinende heuwels wat Charlie kan sien waar die groot kloof uitloop op die vlakte. ’n Ent weg, duskant ’n heining, lê ’n hoop rotse wat beplant is met groot aalwyne om ’n soort rotstuin te vorm. Anderkant die heining om die kompleks skiet die kloof se wande op na dieselfde kruinrotse waar hy amper sy agterent gesien het. Die twee tronkselle is ’n ent van die huis af, sien Charlie nou, waar die kloof op sy steilste is en begin oopmaak en in ’n suidelike rigting op die vlakte begin wegdraai. In die verte is blou pieke, moet die Drakensberge wees. Tussen die tronk en die huis is ’n groot wit dubbelverdieping wat lyk soos ’n skoolkoshuis. Dit pas glad nie by die sandsteen van die huis en die ou stalle nie.

“Woonkwartiere en eetsaal,” sê Calla as hy sien waarna Charlie loop en kyk. “Waar die manne met hulle vadergegewe skelmpies bly.” Hy sit met sy vingers aanhalingstekens om die woord “vadergegewe”.

Hulle stap stadig in die sanderige tweespoorpad af. Broer Gerrie en nog ’n swartgeklede boetie volg hulle, albei met broederlike liefde en ’n AK gewapen. Charlie merk dat hy nie die enigste een is wat sukkel om te loop nie; Gerrie hink self nog half wydsbeen, asof hy pas van ’n perd geklim het.

“Dis ver genoeg,” grom Gerrie toe hulle voor ’n hoë draadhek kom.

Anderkant die hek loop die twee wit sandspore verby ’n paar rondawels tot waar dit om ’n draai van die kloof verdwyn. “Waar gaan dié pad heen?” vra Charlie binnensmonds aan Calla.

“Die volgende plaas, in ’n beboste kloof om die draai … ’n mooi plek. Daar is pragtige groot geelhoutbome in die klowe ook.” Calla se oë soek van onder die breërand oor die veld. “Dit is waar alles gebeur.”

“Hoe bedoel jy?”

Calla loer na die twee wagte wat eenkant op ’n klip sit en rook en praat dan sagter. “Ons is hier nie ver van die Swazilandse grens nie. Hulle bring die blokke kokaïenpasta en ander grondstowwe vanaf plekke soos Colombia, Bolivia en Peru deur Maputo en dan Swaziland die land in. Van daar af is dit ’n kort vlug met ’n helikopter tot hier waar dit verfyn word tot kokaïen.” Calla kyk weer ’n slag stil en grimmig na die wagte. “Hulle maak die verdomde tik ook daar op die plaas,” sê hy dan.

Charlie kyk hom met ongeloof aan. “Wil jy nou vir my vertel hier is ’n dwelmfabriek, hier in die boendoe tussen die berge? Om wat mee te maak, en wat van werkers in die fabriek?”

“Dis wat dit so oulik maak, waar wil jy ’n beter plek kry? Niemand vermoed iets nie, hulle is dan so ’n Christelike spul wat boer met skape en beeste en wild. Hulle is selfs betrokke met die swartrenoster se bewaringsprogram. Behalwe vir die bietjie wat hulle self gebruik, versprei hulle die goed van hier af deur die Vrystaat en dan van daar verder die PWV-gebied in.”

“Loop jou skape ook op dié plaas?”

Calla trek die velthoed se rand laer teen die skerp sonlig en staar met skrefiesoë na die swart stippels ver op die groen vlakte. “Die vee loop op ’n buurplaas, dié kant toe.” Hy beduie noordwaarts met ’n stuk tamboekiegras waaraan hy loop en kou. “Nog ’n geskenk aan ‘Vader’ van ’n dankbare boer wat deur die langnekbliksem van ’n spiksplinternuwe jong lewensmaat voorsien is nadat dit in die Groot Boek aan hom ‘geopenbaar’ is.” Calla gee die grasspriet ’n paar driftige koue voordat hy dit eenkant toe spoeg. “Dit is ongelooflik wat party siek bliksems sal doen net om by ’n sewentienjarige meisiekind in die bed te kan spring.”

Calla trek nog ’n stuk gras uit, stroop die saad en blare af. “Wat ’n verdomde mal spul!” Hy kou ’n ruk ingedagte en vervolg dan: “Nee, jy sal nie vee op hierdie grond kry nie. Dis ’n wildsplaas hierdie; in daardie rante en klowe is daar nog leeus, luiperds ook. As jy hier wil uitstap, is die kanse goed dat iets jou gaan opvreet en …”

“Kom, dis genoeg!” val broer Gerrie hom bars in die rede. “Laat julle teruggaan.”

Terwyl hulle terugstap, sê Calla sag: “Kan jy sien waarom ek sê ek weet te veel? Nou weet jy ook te veel, en ons moet hier uitkom om die wêreld te gaan vertel wat hier aangaan. Maar dit sal nie maklik wees nie; hulle sal ons nie sommer net laat gaan nie.”

Tik

Подняться наверх