Читать книгу Tik - Piet Steyn - Страница 4

1

Оглавление

’n Skoot klap en ’n vrou se gil sny deur die lug wat dik van die reuk van lasagne en tuinkompos om die huis hang. Twee kransduiwe wat in die geut bokant die voordeur broei, tuimel met ’n wilde gefladder teen die muur af en ’n hadida flap skellend op vanaf die nok van nommer dertien se teëldak en verdwyn swetsend oor die toppe van die omliggende tuine se seders en jakarandas. Die buurt se brakke bars los in ’n koor, met die diep bas van die buurman se basset, die tenoor van die ou man oorkant die straat se boerboel en die skril sopraan van die oujongnooi laer af se baster-dwergkees met die lang bene.

Die houtvoordeur met die uitgekerfde olifant bars oop en ’n middeljarige vrou strompel skreeuend en met ’n bebloede gesig oor die voorstoep en deur die gordyn van hangende varings, val-val die trap af en met haar arms hemelwaarts gestrek, pyl sy op die halfoop voorhekkie af. ’n Jong man met ’n vuilswart Che Guevara-T-hemp wat oor ’n denim met bokknieë hang, slinger met ’n pompaksie-haelgeweer in die hand deur die deur en struikel ’n slag met sy deurgetrapte sandale oor die klapperhaardeurmat. Sy gesig en oë is vertrek tot ’n soort waansin-masker, spoeg en kwyl en ’n klomp onverstaanbare krete spat by sy mond uit.

Die twee polisiemanne wat op pad was na die voordeur, duik agter ’n vuilwit gipsornament en ’n selonsroos in. Voordat hulle ’n vinger kan verroer, het die vuil jongeling regop gekom. Hy pomp die geweer met die een hand, druk dit teen sy skouer en vuur. Die strompelende vrou se kop bars oop soos ’n oorryp waatlemoen en die slag van die skoot slinger haar vas teen ’n asbespot met ’n broodboom daarin. Hy ruk weer ’n patroon in die loop en die tweede skoot hael verwoes die kop en skouers van die lewensgroot Venus-beeld waaragter kolonel Kat Harmse sy groot lyf probeer klein maak. Weer ruk hy aan die pompmeganisme en skiet ’n skoot in die selonsroos waaronder kaptein Jerome Williams ingeduik het. Die speurder gee ’n tjank van pyn, en toe die skieter nog ’n skoot in die vrou op die paadjie se flenters liggaam inskiet, spring hy op en hardloop na ’n asbestuinbank en duik tussen die klippe en vetplante daaragter in. Bloed drup van sy regterhand; sy wapen het op die kweekgrassies agter die selonsroos bly lê.

“Bliksem!” Kat vat die Z88 stewig in albei hande vas en neem dooierus op Venus se ruim boud. “Polisie! Laat val jou wapen! Police!”

Toe die volgende skoot hael in die beeld se sitvlak vasslaan en stukkies gips en sement teen sy voorkop vasspat, trek Kat die negemillimeter se sneller twee keer vinnig ná mekaar. Die haelgeweer kletter op die stoepteëls en die skieter sak stadig bo-op die rokende wapen neer; twee kolle blom rooi uit op die gryserige gesig van die vryheidsvegter op die vuil hemp.

’n Oomblik is dit stil. Dit is asof selfs die brakke asem ophou terwyl Kat die man op die stoep dophou vir enige beweging. ’n Plas bloed het onder die T-hemp begin uitkruip, ’n dammetjie gemaak wat oor die boonste stoeptrap uitloop.

Die gedruis van die verkeer in Jan Smutsrylaan, ’n paar blokke weg, kom lê soos ’n wit laken oor die tuin. ’n Sirene huil in die verte. Ongelukkig in die verkeerde rigting, dink Kat. Hy is ’n groot man met breë skouers en ’n groot swart snor. ’n Ou litteken lê soos ’n Nike-regmerk van sy regteroogbank, tussen sy swart krulhare deur tot by die stuk regteroor wat oorgebly het ná ’n skietgeveg in ’n Vrystaatse populierbos.

Kat kom stadig regop, die pistool ’n verlenging van sy twee gestrekte arms, maar al wat op die voorstoep beweeg, is die taaierige bloed wat drup-drup teen die trap af. Kat vee sy snorpunte met die kneukel van sy regterhand se wysvinger uit sy mondhoeke, eers links, dan regs. Die noodoproep het net melding gemaak van een skarminkel, maar ’n mens kan nie te versigtig wees nie. Eers as die adrenalien uit hom weggevloei het, laat sak hy die wapen, vat ’n slag aan die litteken wat nou gloeiend rooi bult. ’n Dowwe pyn klop deur sy kop – niks was ooit weer dieselfde ná die skade wat daardie koeël aangerig het nie. Hy knyp sy neus se brug tussen twee vingers vas. “Is jy orraait?” roep hy oor sy skouer in Jerome se rigting.

Die jong speurder kom aangehink oor die grasperk, trap skeef op ’n tuinslang wat oor die gras kronkel. ’n Bebloede sakdoek is om sy hand gedraai en hy sukkel met die ander hand om ’n skoonma-se-kussing se haakdorings uit sy arms en bors te trek. “Ek’s orraait.” Hy tel sy wapen op. “Maar ek dink my pistool het sy gat gesien. Van die haelkorrels het dit uit my hand geruk.” Hy knik in die rigting van die stoep. “Wat’s daai laaitie se pyne?”

“Ek weet nie, lyk soos dwelmpyne.”

’n Wit malteser kom verskrik by die deur uit, ruik aan die bloed en die lyk op die stoep. Kat het ’n beklemming in sy bors. Hy wil iets sê, iets snaaks om die ding uit sy lyf te kry. “Ek … ek dink ook nie dis die eerste keer nie.” Hy beduie na die verrinneweerde Venusbeeld, grynslag. “Lyk my hy het haar arms lankal afgeskiet.” Kat hou Jerome onderlangs dop en as hy sien sy flou grap maak geen indruk nie, brom hy: “Ag hel, jy het ook geen kultuur in jou bleddie lyf nie. Kom ons gaan kyk wat in die huis aangaan. Daar is veronderstel om iewers nog ’n slagoffer te wees.”

In die straat voor huis nommer dertien leun kolonel Kat Harmse en kaptein Jerome Williams met hul boude teen die polisiemotor, trek diep aan hul sigarette. Albei is nou Valke, oftewel lede van die Direktoraat vir Prioriteitsondersoeke, ’n nuwe elite-eenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Kat se Nike-litteken is weer wit en ná twee Grandpa-poeiers het die hoofpyn bedaar. Die son het lankal met ’n Josefskleed van rooi en pienk en swart cirrus-strepe agter die huise se dakke verdwyn en al wat in die straat oorgebly het, is die grys skemerte voordat die straatligte inskop. In die huis het hulle gesien wat hulle wou sien en wag nou vir die forensiese mense om hulle ding af te handel. Die stil, boomryke straat van dié woonbuurt in die noorde van Johannesburg is skielik nie meer so stil nie. Mense drom onder die elmbome op die sypaadjies saam; hulle word teruggehou deur die geel bande wat die manne in uniform gespan het. ’n Ambulans met blou en rooi flitsende ligte staan in die oprit en wag vir die misdaadtoneel-ondersoekeenheid om klaar te maak.

By die voordeur kan Kat in die flou lig van die stoeplig die twee bondeltjies mens sien lê, nou toegegooi met komberse. ’n Ma en haar sestienjarige seun. Nie baie jare terug nie het sy aan hom die lewe geskenk, en hom vertroetel en gekoester tot hy op eie bene kon staan. En toe het daardie wit kristalle uit die hel alles ongedaan gemaak … Tik.

Kat vee ’n slag sy groot swart snor met ’n kneukel uit sy mondhoeke, skiet die stompie driftig van hom af weg. In die voorkamer lê nog ’n lyk, vermoedelik die pa, maar dit is moeilik om ’n man aan ’n foto uit te ken as sy gesig deur ’n skoot bokhael in ’n bloederige gemors verander is. Op die kaggel is daar ’n foto in ’n goue raam van ’n man saam met die twee wat daar buite onder die komberse lê, by hulle ook ’n swartkopdogtertjie. Dit moet die man wees. Die hel weet wat van die kleintjie geword het. Dit is nie baie lank terug geneem nie, op ’n strand iewers, onder ’n sambreel, met die see agter hulle en geluk in hul oë. Nou lê hulle verstrooi in en om die huis, stukkend geskiet, leeg gebloei en uitmekaar geruk deur die geweld van dwelms.

Kat sug. Hoeveel gesinne nog? Die verdomde tik was eers net ’n gemors van die Kaapse Vlakte, nou slaan dit soos bossies hier uit. Dit is veral die jong mense wat vatbaar is vir die gevoel van geluksaligheid wat die dwelm gee, ’n gevoel wat jou ure lank kan laat ontsnap van die groepsdruk van skool en ouers en maats. Crystal Meth, die kristalle wat jou ure lank kan laat wakker bly, selfs dae, sonder dat jy moeg of honger word. En heeltyd soek jy seks, sonder om ’n simpel klein dingetjie soos vigs in ag te neem. Maar as daardie wit kristalle jou los, is jy in ’n graf so diep soos Kimberley se gat en dit is net ’n nog groter dosis wat jou daar kan uitkry – totdat die chroniese misbruik daarvan jou aggressie so buite beheer laat ontplof dat jy ’n haelgeweer gryp en jou ouers flenters skiet. Hel, hy hoop die sussie is veilig by ’n ouma of so iets, op die plaas – as daar nog ’n ouma is. Die maatskaplike werkers moet maar daardie deel uitpluis; dalk is sy lankal dood.

Kat spoeg ’n blerts in die rigting van die growwe stam van die elm op die sypaadjie, druk hom met sy boude weg van die patrolliemotor en loop brommend ’n ent weg. Die litteken is nou weer ’n rooi streep. Die malteser sit steeds by die ma se lyk, sy fyn tjankgeluidjies kan selfs in die straat gehoor word.

Jerome hou sy ou vriend uit die hoek van sy oog dop. Onverskrokke, skrik-vir-niks-en-as-jy-met-my-neuk-raak-jy-gemoer, veral as die rooi regmerk langs sy gesig blits: Kat Harmse. Maar hy het ’n gevoelentheid vir kinders in hom en ’n klein hartjie as dit by gesinsake kom. Hy was getroud met ’n regte teeferasie, ’n losgat van ’n vrou, wat ná die egskeiding die sorg van sy seun gekry het. Deesdae word op haar hoipolloi-partytjies wit strepe poeier met ’n glasstrooitjie van ’n stuk spieël af opgesnuif om die paartie meer skop te gee, terwyl sy laaitie sonder kos in die kamer lê. En as iemand so dapper is om oor Kat se skewe neus te vra, sê hy gewoonlik: “So gemoer, nie so gebore nie.” As jy mooi en jonk en vroulik is, kan jy maar vra, maar as jy nie al bogenoemde eienskappe het nie, is dit veiliger om eerder nie aanmerkings te maak nie, tensy jy van kleins af ook so ’n neus wou gehad het.

Kat se groot swart snor neuk alewig om by sy mondhoeke in te krul; hy is juis besig om die punte met die kneukel van sy regterwysvinger uit sy mondhoeke te vee, eers links, dan regs, altyd eers links en dan regs. Dit is sy “move” wat hy sweer ’n wellusprikkelende uitwerking het en gewaarborg is om enige mooi jong vrou se bene lam te maak – veral as hy nog met sy donker oë so half geheimsinnig en smeulend onder deur sy ruie swart wenkbroue na die slagoffer loer.

Kat skop na ’n leë Coke-blik op die sypaadjie, kom teruggestap. “Jeromepie! Danelle moet haar stront los!” Hy bly ’n ruk stil en kom leun weer met sy boude teen die motor. “En daai Louis-prokureurtjie moet sy gat in rat kry, ek móét net die toesig van Rohan terugkry, voordat hy ook daai wit stront begin snuif.” Hy loop rusteloos, met sy hande diep in sy sakke weer ’n draai om die boom, voel aan die aanknipholster agter sy heup.

Kat hoef nie te verduidelik nie, Jerome ken die storie. Louis du Randt is Kat se prokureur, Danelle sy hupse gewese vrou en Rohan sy sesjarige laaitie. “Ja-uh.” Jerome vou sy arms voor sy bors en sug simpatiek. Wat kan hy anders sê? “Hier kom Pine,” sê hy dan en beduie straataf na waar ’n man onder die geel band deurbuk, net wanneer die straatligte begin aanflikker.

Brigadier Pine Pienaar is groot en breed en sy skouers begin onder sy ore, van jare se voorry speel vir die ou Transvaal – baie soos die skouers van ’n brandewynbottel. Dit lyk asof hy nie ’n nek het nie, en sou jy na die oorsaak dáárvan vra, sal hy jou vertel dit het eintlik niks met rugby te doen nie, maar is van nagte se pajamadril met ’n fris, skreeuende koliekbaba in die arms. Nie vet nie, net fris, en moet eendag ook rugby speel, soos sy pa. Hy is ook die bevelvoerder van die Valke se eenheid vir georganiseerde misdaad in Gauteng.

Kat en Jerome stap Pine tegemoet. “Pine, wat kom soek jy hier?” vra Kat. “Jy’s nou ’n speknek-direkteur en is veronderstel om jou agterent te sit en blink skuur agter ’n lessenaar, of saam met generaal Silkaats tee te drink,” brom hy in ’n poging om die aandag af te lei van die tragedie daar op die stoep.

Pine steek sy kromsteel op, beduie daarmee na nommer dertien se stoep. “Wat het hier gebeur?”

“Hel, Pine,” sê Kat met sy halwe oor in die hand, “die laaitie het sy pa se pompaksie-twaalfboor in die hande gekry, nommereens in die magasyn.” Hy spoeg nog ’n blerts windaf, vee sy snor skoon. “Dit was nie mooi nie.”

“Motief?”

“Dit smaak my die laaitie se tik het opgeraak en sy ou toppie het sy brood afgesny. Toe kon hy nie meer koop nie, en raak toe kwaai aggravated met die automatic bazooka saam.” As Jerome snaaks wil wees, of as hy ontsteld is soos nou, slaan die taal wat hy op die Kaapse Vlakte geleer het, gewoonlik sterk deur.

“Ek verstaan julle het een geskiet, dis waarom ek hier is – Mkhize het my in bevel van die ondersoek dáárvan geplaas.”

“Ag hel, dit ook nog!” sug die groot speurder moedeloos. “Ek het die bliksem geskiet, Pine. Jerome het niks daarmee te doen nie, sy pistool is flenters geskiet voordat hy ’n skoot kon aftrek.” Kat se oë raak skielik vasgenael op ’n figuur met ’n wit jas wat doenig is by een van die komberse. “Daar sal nie probleme wees nie, dit was ons of hy,” sê hy afgetrokke.

Pine volg sy oë na die witjasfiguur, knipoog vir Jerome.

Dr. Annie de Villiers, patoloog en forensiese deskundige, en die sexyste ding wat Kat nog op twee lang slanke bene gesien het. Mooi Annie, noem hy haar dan ook, natuurlik sonder dat sy weet. Sy’s ook die enigste vroumens vir wie “die move” glad nie werk nie, want sy’s te hoipolloi vir hom – of so reken hy.

Pine steek sy pyp op, blaas die blou rook die lug in. Om Kat so beenaf te sien is iets om oor te glimlag. “As julle klaar is hier moet julle kantoor toe kom dat ons die papierwerk kan afhandel.”

“Mmm,” sê Kat.

“Mmm wat?” vra Pine.

Sy wat Kat se onverdeelde aandag geniet, maak ’n laaste draai om die lyk, skryf iets op ’n knipbord voordat sy in die tuinpaadjie na die drie speurders aangestap kom. Die wit jas is oopgeknoop en die pante wapper agter haar in die wind. Kat sien hoe die wind haar bloes teen haar bolyf vasdruk en sy mond word droog.

Annie de Villiers is lank met lang swart hare wat sy in ’n Franse vlegsel dra. Haar oë is donker agter ’n byderwetse, reghoekige swartraambril. Sy het ’n blou denim en rooi bloes aan onder die wit laboratoriumjas. “Brigadier Pienaar, ons is klaar hier,” sê sy. “Kan ons maar die lyke verwyder?” Haar stem is diep en heserig, en dit laat Kat senuagtig met sy snor doenig raak.

Pine knik. “Ja wat, Kat en Jerome is eintlik in bevel van die ondersoek, maar hulle kan tog niks sonder die forensiese verslag doen nie.”

Annie trek die jas oor haar skouers af en hang dit oor haar arm. Onder die jas het sy ’n Z88 in ’n aanknipholster.

Bliksem! Kat gee die snor weer ’n paar driftige vrywe. Met daardie bloes is dit wragtig moeilik om haar in die oë te kyk.

“Kolonel Harmse,” sê Annie en kyk Kat effens uit die hoogte aan, “my oupa se snor het hom toe hy oud geword het net so geïrriteer. Hy het altyd vloerpolitoer aangesmeer en die punte gedraai om die hare uit sy mondhoeke te hou. Jy kan dit gerus ook probeer.” Sy draai om en loop wipgat terug na die stoep. “Totsiens,” roep sy oor haar skouer, terwyl sy die ambulansmanne met die draagbare nader wink. By die hekkie draai sy om, loer weer in Kat se rigting. “Jy kan die grillerige ding natuurlik afsny ook,” sê sy.

Wat de hel het hy nou gedoen om dit te verdien? Dit is net ’n forensiese patoloog wat in sulke omstandighede nog kan probeer simpel wees ook. Dit onderstreep maar net wat hy van haar vermoed, dat sy geen emosies het nie, so koud en taai soos gistermiddag se braaivleis. G’n wonder die manne by die stasie noem haar Doctor No nie.

Kat kyk vir oulaas by haar verby na waar die ma en haar seun se bloederige oorblyfsels op draagbare gelaai word. ’n Buurman het gelukkig die malteser kom haal. Wat ’n verdomde vermorsing van die lewe. Hy gee sy neus ’n pluk voordat hy die motordeur oopmaak. “Kom, Jerome, kom ons ry,” sê hy sonder om verder na nommer dertien te kyk.

Tik

Подняться наверх