Читать книгу Tik - Piet Steyn - Страница 5

2

Оглавление

Die groot houtdeur klap met ’n harde slag agter Charlie Stevens toe; hy luister na die skerp geknars van ’n sleutel in die slot voordat hy in die oggendlug opkyk. Die sonlig wat van die teerstraat weerkaats, laat hom sy oë ’n oomblik toeknyp. Hy het die afgelope agt jaar te min son gesien – sonlig wat deur tralies val, tel nie. Daar is ’n dynserigheid wat plek-plek nog bokant die stad hang, en die lewe buite die tronk ruik na konka-vure, petroldampe en nat strate.

Voor hom raas die verkeer in Potgieterstraat, in twee rigtings onder deur Dequarstraat se oorbrug voordat dit duskant Visagiestraat, anderkant die treinspoor, weer in twee strome verdeel. Dieselfde verkeer waarna hy snags, met sy rug na die muur, gelê en luister het in ’n futiele poging om nie die gekerm van die ander gevangenes te hoor nie. Die gekerm kon nog gaan, maar dit is die geroep die nag in na geliefdes wat hom later gevang het. Dit is onverstaanbaar hoe van die brekers van die plek, manne wat sit weens verkragting en moord, as dit stil en donker raak in hulle slaap na hulle ma begin roep, al was sy ook die een wat onder die mes deurgeloop het.

Wat is ’n huis sonder ’n moeder … Fok! Daar is niemand wat sou luister as hy snags sou roep nie. Die vigs en longkanker het Pa lankal in Zonderwater opgevreet. Ma bly nou in Danville, in ouma se ou huis, saam met die boekesmous waarmee sy die pad gevat het nadat Pa die Lexington verruil het vir boom en die groentetuin vir ’n daggabedding agter die longdrop, dáár langs die twee blink treinspore tussen niks en nêrens, iewers in die Groot-Karoo. Dit is ongelooflik hoe geil ’n daggaplant in die Karoogrond kan groei as jy dit net genoeg liefde en water gee – en hom natuurlik gereeld snoei en gebruik.

Charlie voel aan die geld in sy broeksak. Nie veel nie, dit is al wat hy het en dit sal lank moet hou. Totdat hy weer ’n kontrak kry. ’n Kontrak sal dit moet wees, want dit is al ambag wat hy ooit geleer het, vrekmaak vir geld. Dit sal moeilik wees om weer te begin, die sindikate sal hom nie maklik vertrou met sulke delikate sakies soos om van hulle ongeliefdes ontslae te raak nie. Nie ná agt jaar in die tronk nie, die Boere het ’n manier om met ’n man se kop te smokkel in die tronk. Hy sal hom eers weer van voor af moet bewys en daarvoor het hy ’n kontrak nodig. En die langloop-.22 op die plafon van Ma se huis.

Uit sy hempsak haal hy ’n flenter bruinpapier met vetkolle. Ma se nommer, of altans dit was toe hy laas van haar gehoor het. Sy het hom so wragtag in die tronk kom besoek. Eintlik net kom hoor of hy nie ’n “ietsie” vir haar gehad het nie, “net totdat dinge weer beter gaan”.

Fok! Hy gooi die verbleikte sportsak oor sy skouer en stap in Potgieter af totdat hy ’n telefoonhokkie kry waarvan die gehoorbuis nog nie afgesny en die muntkassie nie oopgebreek is nie – én wat muntstukke vat. Om met ’n kaart te bel het jy geld nodig om een te koop, iets wat hy nie het nie.

Ja, daar lui die foon tog. Dis ’n begin as dit lui, die nommer bestaan darem nog. Ná ’n ruk hoor hy iemand optel.

Stilte. Net ’n raserige, hees asemhaling.

“Ma?” vra Charlie huiwerig.

“Ja?” Dit is sy; hy kan aan daardie enkele woord hoor dat sy weer moeg en sat gesuip is. Elfuur in die oggend!

“Fok, Ma! Dis te vroeg om gesuip te wees.”

“Wie praat?”

Hel! Wie sê nóg vir haar Ma behalwe hy? “Charlie, Ma, jou laaitie.”

Stilte.

“Ma?”

“Ek het nie meer ’n laaitie nie … Hy sit in die tronk … net soos daardie sleg bliksem van ’n pa van hom.” Haar stem klink moeg, asof selfs praat vir haar te veel is.

“Bly die boekesmous nog by Ma?”

“Wie?”

“Die sleg hel met wie Ma destyds die pad gevat het, ná hy vir die pote van pa se daggaplante vertel het … ek soek hom.”

Stilte.

“Hy’t ons hele gesin kom opfok, Ma. Dis ook hy wat die pote op my spoor gesit het. Ná die weeshuis het ek ’n goeie bedryf opgebou, totdat hy …”

Sy sug, val hom in die rede: “Hy bly lankal nie meer hier nie, Charlie. Hy’t net geloop, een môre toe ek opstaan, was hy weg. Ek … ek hoor hy het die boeksmousery verruil vir dwelms. Glo meer geld. Verkoop makliker.”

Charlie hoor die gegorrel van drank deur die nek van ’n bottel, hoe sy gulsig sluk. G’n wonder die smous het die pad gevat nie.

“Wanneer het jy uitgekom?” vra sy nadat sy weer asem geskep het.

“Nou net. Ek staan voor die tronk in die straat.”

“Kom jy hiernatoe?”

“Kan ek?”

Stilte.

“Daar het ’n vrou gebel.” ’n Vuurhoutjie knars oor ’n boksie, hy hoor hoe dit opvlam en hoe sy suig om die sigaret brand te maak. “Sy soek jou vir ’n jop.”

“Watse werk?” Charlie kan hoor hoe haar lippe klap soos sy ’n paar keer hard suig aan die sigaret – heel moontlik ’n daggazol – om die kooltjie soos altyd lank en warm te trek vir ’n groter skop. Meer satisfaksie ná die aksie, sê sy altyd. Hel, watse aksie? Om die bottel se prop af te draai? Daar is ’n rukkie stilte om te wag vir die rook om sy werk te doen voordat sy dit met ’n sug deur haar neus uitblaas.

Niks het nog verander nie. Hy kan haar sien sit by die telefoon, kruisbeen op die plankvloer. Kamerjas, krullers in die hare, bottel op die grond en die siegret vasgeknyp tussen twee geel vingers van dieselfde hand wat die gehoorbuis vashou – sy moet darem ’n hand los hê vir die bottel.

Stilte. Sy moes vergeet het van die vrou met die werk.

“Ma?”

“Wat’s dit nou?”

“Die vrou, die werk. Wat is dit?”

“Sy’t nie gesê nie … net ’n nommer gelos. Ek … ek sal moet soek …” Haar tong sleep oor die s’e en haar stem raak afgetrokke. “Kom oor … Ek … ek sal … solank … soek …” Sy laat val die gehoorstuk op die mikkie.

Hel! Al waarna sy nou gaan soek, is die slaapkamer, dit weet hy. Dit is asof hy ook die bed voor sy geestesoog kan sien: deurmekaar opgefrommelde vuil beddegoed, ’n vuil bord met ’n paar stukke harde broodkorsies en doodgedrukte stompies daarin op die tafeltjie voor die bed, langs ’n glas met ’n rooi lipstiffiekring aan sy rand en die bruin oorblyfsel van gisteraand se nightcap op die bodem. Soos in die ou dae.

Laat sy maar eers haar roes afslaap, totdat hy daar kom.

Miskien lê die pistool nog op die plafon waar hy dit destyds weggesteek het voordat die pote hom kom haal het. Dan is hy weer in besigheid.

Tik

Подняться наверх