Читать книгу Rodriguez - Piet van Rooyen - Страница 10
7
ОглавлениеHulle het in die Moederkerk getrou, ’n aandoenlike seremonie. Net haar ouers was daar, syne toe al reeds oorlede. Haar vriende het konfetti gestrooi. Syne was afwesig. Het hy ooit gehad? Net die sluiper het eenkant in ’n kerkbank bly sit, eers uitgekom toe al die gaste reeds vertrek het. Hy was so onopvallend dat niemand hom na die tyd onthou het nie. Daar was ’n klein onthaal. Almal is vroeg huis toe.
Na die euforie van die wittebrood het die varsgebakte huwelikspaartjie hulle in Windhoek gevestig. Skerf was ’n Suidwester, soos hulle in die ou taal gesê het, en kon dus maklik daarnatoe terugkeer. Hy’s in Usakos gebore en het daar grootgeword, waar sy pa, soos baie soortgelykes destyds, vir die Spoorweë gewerk het.
As kind het hy saam met die Damara-seuntjies, nes ’n eie een van hulle, op die spoorlyn gespeel. Hy het toe al reeds geleer om hom in eienaardige vermommings in te verbeel. ’n Swart seuntjie was maklik om na te maak, hy buitendien blas, en donker genoeg deur die son gebrand. Hy kon die Damara-taal later net so goed praat soos Afrikaans. By hulle het hy geleer om die plek se naam behoorlik uit te spreek: “Oe! sa! kos!” en nie “Jusikis” nie. Hulle was almal ewe vaal van die woestynstof, min te onderskei tussen swart en wit. Hy’t so gou geleer om nie ’n rassis te wees nie. Tog het hy ’n ingebore meerderwaardigheid gekoester, teenoor wie ook al, wit of swart.
Hy’t dissipline geleer. Sy pa het nie gehuiwer om ’n behoorlike pak slae in te lê as dit nodig was nie, sommer so op hom en die Damaratjies saam. G’n diskriminasie nie. Dit was Afrikaner-tradisie om, saam met die moedersmelk, ’n goeie skeut dissipline in te kry. Wyd en syd.
Skerf was in sy element in Namibië, maar Monique het maar bra swaar aangepas in die vreemde land. Die plek was toe net mooi op weg na onafhanklikheid toe. Daar was sprake van ’n nuwe bewind. Deurlopend, tussenin, is die bedreiging van die kommunistiese gevaar aangeblaas deur die Suid-Afrikaanse regering. Dinge kon orraait uitval, of sleg, of baie sleg. Niemand het geweet nie. Niemand kon die toekoms voorspel nie. Die vrees vir die onbekende was maar gedurig daar. Ma en Pa en die beskawing was ver. Die lewenskoste was hoog. Daar was baie vreemdelinge in die rondte – brasserige Duitsers, rou Engelse en bleek Finne. Almal het gereed gestaan om te skep uit die hulpbronne van die nuwe land.
Skerf was gefokus op sy nuwe werk. Dit was maar ’n gewone lessenaarjoppie – koerantberigte lees, uitknipsels versamel, dokumente bekyk, leggers liasseer, inligting omwerk na iets bruikbaars toe. Maar hy het vir die regte mense gewerk, het hy geglo. Teen die Vyand. Dis wat getel het. Hy het geweet dat dit maar die begin van groot dinge vir hom was.
Hy het die land geken, daarin grootgeword. Hy’t hom dus min gesteur aan die daaglikse dinge wat sy vrou bekommer het.
Die telefoon was al waaraan Monique kon vashou, ’n reddingsboei na die ou bekende: “Jissie, Ma moet sien wat kos botter en melk en kaas! Die tamaties is pap. Vrugte kry mens omtrent nêrens in die winkels nie.”
“Toemaar my dogter, julle het darem oorgenoeg vleis, hoor ek. Is hy nog goed vir jou?”
“Hy’s ’n goeie man, maar dis ver van die huis af!”
“Jy’s nou ’n grootmens, my kind, in ’n grootmenswêreld.”
“Aai!”
“Ons verlang net so baie, hoor!”