Читать книгу Rodriguez - Piet van Rooyen - Страница 11
8
ОглавлениеEendag het hy net ’n kort nota van die hoofkantoor af ontvang. Daar’s vir hom iets anders op die horison. Hulle moes trek uit Namibië uit, al was hulle teen hierdie tyd hoe gelukkig daar. Die brief het geen verdere inligting bevat nie. Net ’n amptelike weergawe van “pak jou goed en kom”. “Rapporteer die 1ste Junie by hoofkantoor in Pretoria.” Daar was geen verdere aanduiding van wat hulle vir hom beplan het nie. Dit het geruik na maar net nog ’n lessenaarpos. Hy was haastig om werklik iets vir sy land te beteken, maar het besef dat hy geduldig moet bly. Hy het teen hierdie tyd al goed vermoed hoe die Intelligensiediens werk. Soms word ’n man onmiddellik in ’n taak ingedruk, amper nog te groen vir wat hy moet doen. Soms oormerk hulle ’n ou lank voor die tyd. Sit hom deur al die opleiding, vergeet byna van hom, voor hulle hom gebruik. Soms gebruik hulle hom nooit. Bly hy maar so rondhang in ’n lessenaarjoppie, tot die dag van sy aftrede, of tot die verveling te veel raak vir sy gemoed en hy self bedank. Skerf het meer vertroue as dit in homself gehad. Hy was vir groot dinge beskore.
Hy en Monique het vir hulle ’n tipiese voorstedelike huis met lemmetjiegroen mure in Centurion gekoop. Toe was die plek nog bekend as Verwoerdburg. Aanvanklik is hy in ’n klerklike joppie geplaas by die hoofkantoor van O3 as “lessenaarbeampte vir frontlinie-state”. Skerf het met die bus in- en uitgery werk toe, te spaarsamig vir ’n eie motor.
Hulle het hom ses maande hier gehou, om hom goed deur te kyk. Toe moes hy ’n reeks hoëvlak psigometriese toetse deurgaan, wat hy, hoewel hy die uitslae nooit self onder oë gehad het nie, oënskynlik met lof geslaag het. Hy is “diep” geklaar. Hy het ’n nuwe naam en van gekry, ’n volledig nuwe nasionale identiteitsdokument. Sy ou naam het nou ’n vreemde naam geword, ’n troetelnaam vir omtrent net sy vrou, sonder amptelike status. Selfs dit was lastig vir die owerhede, maar dit kon nie anders nie, al sou hulle wou, hulle kon sy ou identiteit nie net eenvoudig met ’n penstreep uitwis nie. Hy is dadelik aangesê om sy handtekening oor en oor te oefen, tot hy dit foutloos kon uitvoer. So het hy hom in ’n nuwe lewe ingeskryf. Dit was maklik genoeg hier aan die Rand, waar niemand hom geken het nie.
Bedags het hy saam met ’n klein groepie spesiaal uitgesoekte agente van koverte operasies ’n kasarm van ’n kamma-gesinswoning in die sestigerstyl in Midrand betrek. Die plek was van bo tot onder met mikrofone, alarms en luisterapparate bedraad. Elke woord is met spesiale bandopnemers ingesuig, elke skuifelgang presies en rigtingopspoorbaar vasgelê. Snags is elke tik-tak van die muurhorlosies, elke krakie van die dakplate, elke veeg van die takke teen die geute elektronies ingebed en sonies geliasseer. Niemand kon daar uit of in sonder dat iemand hoër op in ’n hiërargie daarvan geweet het nie. Die huis was wat as ’n safe house bekend gestaan het.
Hier, in die klein groepie van vyf, die binnekring, het nie een sy regte naam gebruik nie. Elkeen was agter ’n front. Die manne is bloot aan sulke kort, blaffende, half-absurde byname geken, tipies van die onderwêreld, of die bendelewe: Dik-Daan, Mad Max, Tony-Turtle, Swart-Maans. Die nominale hoof was ’n eertydse polisiesersant, ’n stugge, stil, vroeg-middeljarige man met ’n kortgeskeerde borselkop, wat net as “die Saboteur” bekend gestaan het, en aangespreek is as “Meneer”. Die topstruktuur van Nasionale Intelligensie was bekend, maar bloot as ’n soort skaduteenwoordigheid, ’n hangende wolk. Hulle het bitter min met hulle te doen gehad. Daar is toe reeds kontak gemaak met ’n hoogs geheime agent onder uiters diep dekking, ’n man wat die kodenaam “die doctore” gehad het.
Al het hulle hoe nou moes saamwerk, hoe diep elke dag mekaar se sweetreuke moes inadem, in watter mate van oomblik tot oomblik mekaar se irriterende maniërismes moes verduur, die slymerige snuifgeluide, die hoesies, die gekopkrap en die hangende sigaretdampe, is nie een toegelaat om enigiets van die ander se privaat lewe te mag weet nie. Dit was ’n bisarre situasie waar ses hoogs intelligente, hoogs opgeleide, liggaamlik fikse, uiters mededingende, hormoongedrewe hoofsaaklik jong mans in die grootste geheimhouding en onder uiterse spanning vir landsbelang moes saamwerk, sonder dat die een die ander ooit kon vra waar hy op skool was, waar hy vandaan kom, waar hy woon, watter sport hy speel, of hy getroud is, en of hy kinders het. Van hierdie selfde spelers sou later, in sy Mosambiek-dae, een vir een weer in Skerf se lewe opduik, ten goede of ten kwade.
Die dekmantel vir die bedrywighede was aanvanklik dié van ’n transportonderneming wat groot vragmotors vol goedere in Afrika ingestuur het. Die maatskappy het werklik bestaan, onder eienaarskap van ’n sterk patriotiese sakeman van faam, en het werklike goedere na Afrika vervoer. Die Midrand-basis was binne die struktuur geplaas as ’n besonderse bemarkingsafdeling van daardie groter maatskappy. In agentetaal het dié soort strategie bekend gestaan as dekking vir status. Later is die dekmantels verander soos operasionele omstandighede dit van elke individu vereis het. Dit het dan bekend gestaan as dekking vir aksie. Skerf was die houtman.
Hy het ’n salaris van twintigduisend rand ’n jaar gekry – bogemiddeld vir daardie dae – en ’n rang gelykstaande aan ’n luitenant-kolonel in die Weermag.