Читать книгу Rodriguez - Piet van Rooyen - Страница 5
2
ОглавлениеRodriguez het ’n goeie ruitverwysing gehad van die sentrum van die basis. In sy sak dra hy ’n brief gerig aan “Pappa” – “Generaal Afonso Dhlakama, President van Renamo, Mosambiek”.
Dis ’n vervalste brief, die storie daarin is ’n leuen, maar dis sy enigste stukkie hoop op lewe. Hy’s bereid om die kans te waag. Die goeie skeut patriotisme wat kleintyd by hom ingeboesem en deur sy tyd in die Diens bevestig is, het steeds groter waarde gedra as sy vrees vir die dood. Die ererol van jong helde uit die Afrikaner-verlede het hom help moedhou: Jopie Fourie, Gideon Scheepers, Jack Hindon, Henri Slegtkamp, Danie Theron. Hy’t hulle almal soos ou vriende in sy gedagtes gedra. Daar was foto’s uit geskiedenis op skool, boeke op sy pa se rak. Hy’t saam met hulle grootgeword. Bykomstighede vir die lewenspad. Rigtingwysers na Eendag.
Die paspoort in sy rugsak is ’n Suid-Afrikaanse paspoort, vir Manuel Rodriguez. Dis ook vals. Die foto daarop is sy eie gesig. Hy het direk in die kamera gekyk, sonder bril of glimlag, sy hare langer as gewoonlik, langer as wat Monique daarvan hou, maar presies die prentjie van die man wat vroegoggend in die woud afgelaai is en nou hier deur die woud aangestap kom.
Naby die basis het hy die wit hemp uit sy rugsak gehaal, dit oopgerol en oor ’n afgebreekte droë tak gespan. Met die wit hemp voor hom gehou, het hy voetjie vir voetjie wydsbeen oor die olifantpad nadergestap. Hy was elke oomblik ’n landmyn onder sy voete te wagte. Hy’t al een maal tevore ’n landmynaanval oorleef, op die Namibiese grens, vanuit die binnekant van ’n pantserkar. Sy linkeroor is nou nog doof. Hy kan maar net hoop dat Renamo nie so na aan hulle eie basis landmyne sou plant nie. En dat die olifante klaar afgetrap het wat hier te trappe was ná die vroeëre guerrillastryd.
Hy’t die basis gehoor voordat hy dit gesien het. Eers die dowwe gestamp van die stampers op die hol blokke. Daarna ’n hond wat blaf. Toe mensestemme. Die stemme was doodgewoon, nie-militêr nie, sonder ’n sweem van aggressie. Op die ingewing van die oomblik het hy die rugsak op die grond neergesit, die wit hemp van die stok losgemaak, en bo-oor sy T-hemp aangetrek. Toe’t hy doodluiters die basisperimeter ingestap.
Die vroue wat aan die rand van die basis aan die vuurmaakhout bymekaar maak was, het hom oopmond aangestaar, die kinders het verskrik ophou speel. Die jong soldate wat agter die vroue aangedrentel het, was te verbaas om na die gewere te reik. “Bom dia!” het hy na links en na regs gegroet.
Hy het gehoop dat hy met die ploffende woorde en sy vriendelike aard na die basisbewoners toe kon loop en uitskiet. “Bom dia!” “Bom dia!” Hy het agter die woorde geskuil en doelgerig nader bly stap. Die dowwe klank van die stampers op die stampblokke, iewers vorentoe tussen die bome, het saam met die hartklop in sy borskas bly dreun. Hy het sy treë aangepas by die ritme daarvan. Elke tree was ’n berekende voet vorentoe. Hy het hom gedwing om kalm te bly, nooit te dink aan die witwarm snyding van die koeëls deur sy hemp en deur sy rug nie.
Sy medisyne was sterk, die woorde van sy aankoms salwend genoeg. Niemand het hom probeer keer nie. Die groetende man het vreedsaam, bedaard, onskuldig voorgekom. Hy’t geen wapens gedra nie, net ’n wit hemp en ’n rugsak. Tog was daar ’n duidelike teken van gesag in sy houding. ’n Besoeker. Laat ons hoor watter nuus hy bring. “Seriti”, die krag van die vreemdeling.
Eers by die ingang na die binnekant van die basis het ’n soldaat ’n geweerloop in sy maag gesteek. Die soldaat se oë was groot en wydgerek. Rodriguez het vermoed hy was gerook. Een of ander bosdwelm in die brein gehad. Toe eers het die vrees vir Rodriguez beetgepak. Hy het sy hande hoog gelig en aanhoudend sag begin prewel: “Caro falar com o Presidente. Tenho messages para ele – Ek wil met die president praat. Het boodskappe vir hom!”
“Ele está procurando por papa!” het die soldaat na binnetoe geroep. Twee van sy makkers het nadergestap, outomatiese gewere gereed. Daar was nou drie gewere in die middel van Rodriguez se maag. Die senubol in sy solar plexus het onaangenaam gejeuk.
“Vá buscar Gaspar!” het een van die soldate gesê. ’n Ander een het sy geweerloop uit Rodriguez se maag getrek en vinnig tussen die hutte ingestap.
Oomblikke later het hy teruggekeer, sy geweer nog meer paraat, voor sy bors in vyf-en-veertig grade na bo gekantel, in die gereedhou-posisie, die hande styf om die geweergreep geklem. Hy was in sy soldaat-element, kon Rodriguez duidelik sien. Agter hom het ’n ander, jong, maer soldaat aangedrentel gekom. Hy was omtrent dieselfde ouderdom as die ander, maar in kraakskoon kamoefleerdrag en met ’n pistool aan die gordel. Daar was ’n spierwit armband om elk van sy boarms gespan. Op sy bors was ’n wit-en-rooi Renamo-kenteken. Op sy kop ’n heldermaroen baret, windmaker-skeef oor sy voorkop getrek. Hy het met ’n stokkie tussen sy tande loop en speel.
“O que temos aqui? – Wat het ons hier?” het die nuwe soldaat gesê.
So het Rodriguez die eerste keer vir Jose Armando Gaspar ontmoet.