Читать книгу Rodriguez - Piet van Rooyen - Страница 15

12

Оглавление

Die Rooikruis-suster het vir Alda in Maputo in die hospitaal opgespoor. Sy was toe twaalf. Sy het op haar maag op die smal hospitaalmatras gelê. Haar hele onderlyf was met gaasdoek toegedraai. Die ontsteking het geel deur die doek gesypel. Sy kon nie sit of staan nie. Waar sy vandaan gekom het, kon sy nie sê nie. Sy het ’n woord geprewel, maar die naam was vir almal onbekend. ’n Frelimo-patrollie het haar iewers langs ’n tweespoorpad in die middel van die bos gevind. Sy was op haar hande en knieë verbete vorentoe aan die kruip. Vorentoe, net vorentoe. Waarnatoe wou sy nie sê nie. Heel moontlik net weg. So ver moontlik weg. Iemand, waarskynlik ’n Renamo-kommando, of dalk maar net ’n enkele, identiteitslose jong soldaat, het haar onderlyf met ’n panga beetgekry. Hulle het rye diep kepe in haar boude uitgekap. Reg tot op die been. Dit was ’n sinnelose daad. ’n Blote kind. Sonder rede. Redeloos.

Die suster het Dhlakama se vrou geken, via die NGO-netwerk, gedog sy sou haar in goeie hande plaas. Sy het Alda aan haar oorgegee. Dhlakama wou sy goeie ingesteldheid bewys. Hy het hom oor die wesie ontferm, haar na die Massala-basis toe gebring. Haar hier onder Gaspar se beskerming geplaas.

Sy het natuurlik geen spesiale voorregte gedra nie. Die soldate kon steeds met haar maak soos hulle wou. Dit was deel van die oorlog. Sy’t haar nie verset nie. Sy was lankal by verset verby. Sy’t nooit iets anders gedra as die wye pienk rok nie. Dit het die verminking goed genoeg weggesteek. Sy kon weer haar kop lig, normaal funksioneer. Maar steeds met die sagte, byna ontliggaamde, sangerige stem.

Snags, as sy alleen was, het sy geleer om die koeëlpunte met haar tande uit die geweerpatrone uit te wikkel. Dan het sy haar neus toegeknyp en die bitter, swart kruit afgesluk. Sy het geglo dit sal haar help om nie swanger te word nie. Soggens het sy dan met rooi oë wakker geword en geglo dat die kruit haar skoongebrand het van binne. Dalk was dit regtig die geval, want sy het werklik nooit swanger geword nie.

Rodriguez

Подняться наверх