Читать книгу Rodriguez - Piet van Rooyen - Страница 8

5

Оглавление

’N Jong man, ’n Afrikaner, ’n student met die naam Skerf Malan, het die belangstelling van die owerhede wakker gemaak, vroeg reeds guns in hul oë gevind. In die weermag, met diensplig, in ’n uitsoekeenheid by die spesiale magte, 32 Bataljon, het hy hom as besonder dapper onderskei. Hy’t ’n aardige landmynvoorval oorleef, sy linkeroor wel doofgeskiet, sy arm tot in die vleis gebrand, maar met sy terugkeer, en na sy herstel, hoog gedekoreer. Bevorder na sammajoor. Hy was ’n held. ’n Seun van die Nasie. Sy onverskrokkenheid bewese.

As student het hy hom in die staatkunde begin bekwaam, ’n paar tale bygeleer, Portugees onder meer. Ten spyte van sy lewens- en doodservaring het hy hom gewillig aan die doopproses op kampuskoshuis laat onderwerp, gesag goedgunstiglik aanvaar, al was dit van watter soort snuiters. Sy akademiese prestasies was van meet af bogemiddeld, en hy het hard gestudeer. Hy het by die regte verenigings aangesluit, gerig op godsdiens en op die Afrikaner. Hy’t goed rugby gespeel, as oopkantflank. Sy patriotisme was bo verdenking. Dus, sonder twyfel, ons man.

Die werwer was ’n kampussluiper met swaar ooglede, donker oë en ’n hees stem. Hy’t hom agtervolg tot iewers aan die punt van ’n leë gang, gekug, sukkelend gepraat: “Is jy Skerf Malan?”

“Ja-ak.” Verbaas.

“Ons soek jou.”

“So? Wie is jy?”

“Noem my sommer Snuffels.”

Hy het aangesluit, is geklaar, eers vlak, toe dieper, en mettertyd heel diep, koverte operasies.

Rodriguez

Подняться наверх