Читать книгу Rodriguez - Piet van Rooyen - Страница 13

10

Оглавление

Die woud klamp om hulle toe. Hier is jare laas ’n voertuig deur. Hulle hou wydsbeen oor die olifantsvoetpad. Die Land Rover klouter oor boomwortels en deur erdvarkgate. Buiten Kwelo is die soldate agterop die bak almal klein en skraal, nog jong manne. Pappa veg sy oorlog met kinders.

Ja, dink Rodriguez waar hy met sy arm by die venster sit en uithang, die dun takke en blare wat sag en nat van die dou aan sy elmboog vee. Daar’s ’n groot voordeel in kindersoldate. Jy’t die helfte van die logistiek nodig, die helfte minder voertuie, die helfte minder kos. En jy praat direk met die toekoms. Renamo kan hierdie oorlog wen, as hulle hul dinge reg doen.

Rodriguez het heelwat om sy gedagtes mee besig te hou. Hy is bewus daarvan dat die Inhaminga-gebied nog altyd ’n belangrike Renamo-vesting was. Maar hoeveel soldate en Renamo-splintergroepe hier werklik in die bosse skuil, kan niemand met sekerheid sê nie. Dis die hoofrede waarom hulle hierdie reis aangepak het, om te probeer uitvind wie waar wegkruip. Dis hoekom hy die groot Renamo-vlag op die Land Rover se deur laat verf het, om van ver af raakgesien te word.

Dit was nie ’n goeie ding om die stoel op te laai nie. Agter op die bak is dit ’n aanmekaar gewedywer tussen die jong soldate om besit te neem van die stukkie gemak. Kwelo het ’n oomblik sy boude gelig om vir ’n lae tak te koes en een van die soldate teen die reling het vinnig onder hom op die stoel ingeskuif. Nou probeer Kwelo sy bes om die mannetjie te ontset, maar met die geswaai en gewieg van die Land Rover op sy stywe vere kry hy nie behoorlik vatkans aan die gladde, dun boarms nie. Hy kry hom net ver genoeg uit balans getrek dat die volgende soldaat in die stoel kan glip.

Dit raak ’n behoorlike kompetisie, ’n soort haan-op-die-mishoop, king-of-the-castle, wenner-op-die-stoel speletjie, wat die jong soldate uitbundig geniet. Die voertuig skommel buitendien reeds erg op die ongelyk oppervlak van die olifantpad, en met die heen-en-weer gegooi van die nege soldatelywe agterop die bak, dreig die Land Rover kort-kort om om te dop. Die soldate kom dit nie eers agter nie, so verdiep is hulle in die spel. Voor kry die drywer beswaarlik die voertuig in die olifantspoor gehou.

Wat de donner! dink Rodriguez. Hy lig sy hand in ’n skielike halt-gebaar. Die drywer skop die remme vas. Agterop die bak word die hele massa soldate vorentoe gegooi teen die kajuit aan. Rodriguez druk die deur met sy elmboog oop teen die struikgewas en lang gras. Dan klim hy uit en gluur na die soldate met die strengste frons wat hy kan bemeester. “Bom deus!” sê hy. “Wat de fok is aan die gang?”

Die soldate het ’n heilige ontsag vir Rodriguez. Hy is heelwat ouer as hulle en het ’n natuurlike houding van gesag. Op ’n manier bly ’n wit man ’n rariteit hier in die oerwoud. Met sy diepgesetelde donker oë en die digte, donker bos wenkbroue kan hy behoorlik kwaad lyk, wanneer hy eers sy kwaadword-mombak op het. Hulle weet ook baie goed hoe naby hy aan Pappa staan, en hoe Pappa en Gaspar vir Rodriguez in die basis op die hande dra. Hulle verstaan nie mooi wat die wit man hier in die bos by hulle kom soek het nie, maar het al geleer om nie te veel te probéér verstaan nie.

Hulle bly dus doodstil. Nie een sê ’n woord nie. Hulle wil eers sien waarnatoe dinge loop. Tog, met die opwinding van die spel nog in hulle are, kan hulle nie dink dat Rodriguez te ernstig is nie.

“Wat de fok is hier aan die gang?” vra Rodriguez weer.

Dis Kwelo wat eerste die moed bymekaarskraap om te antwoord: “Ons het maar net gespeel.” Hy praat met ’n senuagtige gryns, wat maak dat die woorde onduidelik en misvormd deur sy tande gepers word.

“Julle speel julle nog in julle moer in! Gee hiér die donnerse stoel.”

Kwelo wikkel die stoel tussen die soldate se heupe deur en gee dit oor die reling vir Rodriguez aan. Met ’n swiep van die arm skiet Rodriguez die stoel diep in die bosse in weg. “Nou bly die donnerse ding net daar lê!” sê hy streng. “En kyk rond vir die vyand. Julle is soldate, nie donnerse kinders nie! Los die speel vir die pequenos! Die oorlog is nog nie oor nie. Hier kom nog groot kak!”

“Jammer, Senhor Rodriguez,” sê ’n soldaat sagweg en met ’n senuagtige gryns.

“Jammer, Senhor Rodriguez,” koor die ander agterna.

“Humff!”

“Ry!” sê Rodriguez vir die drywer.

Die soldate staan nou tjoepstil, die gewere na buite gerig, gereed die oerwoud in. Hulle gesigte is strak en sonder sweem van emosie.

Die stoel. Kan jy dit glo? ’n Maand ná hulle terugkeer het Rodriguez die stoel in ’n nedersetting raakgeloop, ’n volle vyftig kilometer van waar hy dit weggegooi het. Die hoofman het dit vir eie gebruik toegeëien. Hy sit wydsbeen daarop met ’n kierie in die hand, ’n verweerde weermaghemp aan, ’n ou sendelinghelmet op die kop en muskeljaatkatvelle vir ’n lendedoek. Rodriguez wil nie eers waag om te vra waar die stoel vandaan kom nie.

Rodriguez

Подняться наверх