Читать книгу Rodriguez - Piet van Rooyen - Страница 16

13

Оглавление

Teen skemeraand op 24 April 1974 in ’n kantoor in die Rua António Maria Cardoso, weg van die raserige Lissabon-verkeer, sit twee mans en gesels. Tussen hulle staan twee glase en ’n bottel goeie Portugese port. Die kantoor behoort aan majoor Silva Pais, hoof van die gevreesde Portugese geheime polisie, beter bekend as die Internasionale Polisiediens vir die Verdediging van die Staat, PIDE is die Portugese afkorting. Ten spyte van die lang vlug van die vorige dag, is die besoeker wawyd wakker en vol energie. Dit is egter duidelik dat iets majoor Silva Pais pla. Hy bly afgetrokke en ingedagte met sy vinger oor die tafeldoek stryk. Die besoeker staan net bekend onder sy voorletters, KF, ook soms as “die Blom”. Hy is Ken Flower, hoof van die Rhodesiese Sentrale Intelligensie Organisasie, die CIO in Engels. Hy het pas ’n belangrike sekuriteitsooreenkoms met die Portugese gesluit, ’n ooreenkoms wat hy en sy regering al vyf jaar lank probeer finaliseer. Nou, uiteindelik, is die finale besonderhede uitgestryk, die dokumente geteken. Dis ’n ooreenkoms wat op klein skaal begin, maar wat die volgende dekades ’n ontsaglike impak op die hele Suider-Afrikaanse gemeenskap sou hê.

Die besoeker sê beleefd nee dankie vir ’n vierde glasie port. Hy het genoeg gedoen om sy dankbaarheid te betuig. Hy voel tevrede met wat hy bereik het. Dis tyd om terug te gaan. Hy groet en vertrek. Buite staan ’n taxi reeds en wag om hom na die Lissabonse Portela-lughawe te neem. Hier stap hy aan boord van ’n Boeing 707 van die Portugese Lugtransport Maatskappy, bestemming huis toe. Dis die laaste vlug wat daardie nag toegelaat word om van die Portela-lughawe op te styg. Gedurende die transithalte in Luanda, Angola, word die passasiers aangesê om aan boord te bly. Dis eienaardig. Flower is glad nie gediend hiermee nie. Dit was ’n lang vlug tot hier en hy sien uit na vaste aarde en ’n briesie vars lug. Die lugwaardinne trek bloot hul skouers op, maak asof hulle nie Engels verstaan nie.

Met sy aankoms in Salisbury, vind Flower ’n verklaring vir die buitengewone prosedure, en ook vir majoor Pais se eienaardige afgetrokkenheid van die vorige aand. Portugal sit in die greep van ’n militêre bewindsoorname. Die Revolusie van die Rooi Angeliere. Eerste minister Marcelo Caetano dra die mag van die staat oor aan die filosoof-generaal, António de Spínola. Dit beteken ’n drastiese verandering van sake. Vir Portugal. Vir Angola. Vir Mosambiek. Vir KF en die Rhodesiese regering. Vir die hele Suider-Afrika.

Dieselfde dag breek ’n seksie Portugese vlootsoldate onder bevel van luitenant-kommandeur Martins Cavalheiro die deur na majoor Pais se kantoor oop. Behalwe die halfbottel port en die leë glase, Ken Flower se vingerafdrukke nog duidelik sigbaar op een daarvan, vind hulle in die staalkabinet die ondertekende ooreenkoms tussen die Portugese regering en Rhodesië. Die ooreenkoms gee toestemming aan die Rhodesiese weermag vir oorgrensoperasies in Mosambiekse grondgebied. Dit maak ook voorsiening vir die stigting en finansiering van ’n klandestiene inheemse beweging as teenvoeter vir die aktiwiteite van die Mosambiekse bevrydingsleër, Frelimo. Die beweging dra nog nie ’n naam nie, maar dit sal een kry. Die aanvanklike veld van operasie is die Tete-provinsie. Van hier af sal dit uitgebrei word oor die hele westelike grens van Mosambiek, en mettertyd verder. So ver as wat nodig is.

Die noodlot loop eienaardige draaie. Die bewindsoorname in Portugal kom ’n dag te laat, of die ooreenkoms net mooi ’n dag betyds, hoe ook al ’n mens daarna wil kyk. Die nuwe regering sou nooit so ’n klandestiene ooreenkoms goedkeur nie. Nou staan dit reeds op papier. Papier vat lank om te ontbind. Wat die verloop van sake in Afrika betref, is dit te laat om te keer.

Die bewindsoorname in Portugal speel, om die waarheid te sê, juis mooi in die hande van “die Blom” en sy regering. Op 2 Junie 1974 stap die hele bevelstruktuur van ’n klein anti-Frelimo weerstandsbeweging in Mosambiek oor die Rhodesiese grens en meld hulle vir krygsdiens aan. Dis ’n klein groepie soldate, minder as vyftig, ’n paar wit Portugese ingesluit. Die bevelvoerder is majoor Oscar Cardoso, ’n oud-Flecha-offisier uit Angola. Hy’t wyd geloop om tot hier te kom.

Die Rhodesiërs steek vir Cardoso en sy mense in ’n verlate militêre basis in die Chimanimani-berge weg. Hier ondergaan hulle intensiewe opleiding en ontvang die mees moderne wapens wat beskikbaar is. Toe hulle gereed is, word hulle bietjies-bietjies ontplooi, in Rhodesië, in Zambië, in Zaïre, in Mosambiek, oral waar hulle ook al die grootste moeilikheid kan veroorsaak. Die bevolking sien hulle suksesse, word oorweldig deur hulle onverskrokkenheid. Al hoe meer Mosambiekers begin aansluit, vrywillig of andersins. Hulle wil deel wees van die spel van krag.

Die bevelstruktuur van die klein weerstandsorganisasie was egter te wit na die CIO se sin. Dit was belangrik vir die werwingsveldtog in Mosambiek om dit swarter te kry. Toe Cardoso en sy manskappe hulself twee jaar later aan die FNLA van Angola verkoop vir ’n beter salaris, neem ’n ontsette senior Frelimo-bevelvoerder, André Matsangaiza, die beheer van die weerstandsbeweging oor. Die beweging word Renamo gedoop. Resistência Nacional de Moçambicana. Die Rhodesiërs help Matsangaiza om ’n basis tot stand te bring bo-op die berg Gorongoza, net mooi in die middel van die land. Van hier af kan Renamo met behulp van verskuifbare kleiner basisse in enige rigting militêre aksie onderneem. Die doel is om alle Frelimo-bewegings na en vanaf Beira, Maputo en Tete af te sny, kommunikasie te bemoeilik, die hele omgewing te teister, en te isoleer van regeringsinvloed. Dit bied die geleentheid aan die Rhodesiërs om hulle oostelike grens teenaan Mosambiek te beskerm, sonder om dit self te doen.

Aanvanklik is die primêre doel die insameling van teeninsurgensie inligting. Stelselmatig word dit uitgebou tot die werwing van soldate vir die Renamo-leër en offensiewe operasies teen Frelimo- en Zanu-PF-faksies in Mosambiek. Die geveg was aan die gang vir die “hearts and minds of the people”, wat dit ook al mag beteken.

In Oktober 1979 val Matsangaiza ’n goed bewaakte Frelimo-weermagbasis by Vila Paiva de Andrade aan. Dis ’n dom waagstuk. Matsangaiza en twintig ander word doodgeskiet. Hulle liggame lê gesaai oor die oop stuk grond tussen die bos en die Frelimo-basis. “Ons Sonstraal is moer toe,” kom die boodskap oor die radio. Sonstraal is die kodewoord vir bevelvoerder. Die Rhodesiërs slaag daarin om twaalf erg gewondes in uiters gevaarlike omstandighede per helikopter uit die gevegsgebied weg te voer vir hospitaalbehandeling in Salisbury, maar aan Matsangaiza self is niks te redde nie. Die Sonstraal is inderdaad uitgedoof. Die leierskap van Renamo word oorgedra na Afonso Dhlakama. Nes Matsangaiza voor hom is Dhlakama ’n verloopte Frelimo-offisier.

Dhlakama is nie die mees geskikte kandidaat vir “die Blom” en sy organisasie nie. Grootpraterig, dikwels onbetroubaar, selfverheerlikend, is Dhlakama nie die tipiese leier wat die CIO in beheer sou wou sien nie. Hy is nie naastenby dieselfde stoffasie as Matsangaiza nie. Nie naastenby dieselfde leierseienskappe, dieselfde integriteit nie. Tog is hy die klaarblyklike kandidaat. Dieselfde nag nog waarin Matsangaiza dood is, vlieg die Rhodesiërs vir Dhlakama van Odzi af in na Gorongoza toe om bevel van die beweging oor te neem.

Dinge in Rhodesië loop egter anders as wat KF en sy Intelligensiediens beplan het. In Desember 1979 word ’n nuwe grondwet in Lancaster-huis in Londen vir die Rhodesiërs voorgeskryf. Daar’s ’n verkiesing. Die Zanu-PF is veel sterker as wat almal gereken het. Rhodesië word Zimbabwe. Robert Mugabe is die nuwe president. ’n Paar dae na die Lancaster-huis-ooreenkoms oorhandig Frelimo se Samora Machel aan die Britte ’n dringende memorandum. Hy eis die onmiddellike stilswye van die Rhodesiese radiostasie Voz da Africa Livre, wat in Portugees pro-Westerse propaganda in Mosambiek uitsaai. Hy eis verder die onttrekking van alle weermagvliegtuie oor Mosambiekse grondgebied, en dring aan daarop dat alle Renamo-elemente wat vir opleiding in Rhodesië is, as onwettige huursoldate gebrandmerk word. Renamo word 72 uur gegee om Zimbabwe te verlaat. Hulle word inderhaas oor die grens geneem na “Pappa” toe.

Vir PW Botha en die Suid-Afrikaanse regering is dit belangrik dat die destabilisasie wat deur die Rhodesiërs begin is, voortgesit word. Hulle neem die verantwoordelikheid vir die ondersteuning van Renamo oor. Die Amerikaanse CIA en die veiligheidsnetwerke van die hele Westerse wêreld staan geheimsinnig, maar betrokke, in die agtergrond. Die skaakbord is gedek waarop Rodriguez as pion gaan saamspeel.

In Oktober 1986 help K2-agente om ’n vals seinbaken in die bos naby Komatipoort te installeer. Dit lei tot die neerstorting van president Samora Machel se persoonlike vliegtuig. Die kêrel is dood, ten goede of ten kwade. Pappa is nie seker of hy bly of spyt moet wees nie. Hy’t ten minste tot hiertoe altyd geweet wie sy vyand is. Joaquim Alberto Chissano, nuutgekose president van die People’s Republic of Mozambique, is vir hom ’n vreemdeling. Hulle het nooit saam geveg nie. Dit maak sake moeiliker.

Rodriguez

Подняться наверх