Читать книгу Rodriguez - Piet van Rooyen - Страница 7
4
ОглавлениеHy het geweet wat in die brief staan. Hy het die woorde oorspronklik self gehelp formuleer. Daarna het hy dit dikwels gememoriseer, sy rol daarvolgens oor en oor loop en inoefen, juis vir hierdie oomblik.
SWARTZHOUT BPK.
Posbus 31102
Pietersburg
Republiek van Suid Afrika
Generaal Afonso Dhlakama
President en Opperbevelvoerder
Renamo
Die Dieptes van die Bos
Mosambiek
Waardige Generaal
My naam is Petrus Gerhardus Swartz. Ek is ’n prominente sakeman van Pietersburg, in Suid-Afrika. Ek besit ’n sakeryk van etlike miljoene dollars. My hoofvertakking is die invoer en uitvoer van alle soorte edelhout. As stokperdjie maak ek staanhorlosies. Ek besit ook verskeie swaar vragmotors en grondverskuiwingstoerusting.
Ek stuur hiermee vir mnr. Manuel Rodriguez as my verteenwoordiger na u. Ek vertrou hom ten volle. Die doel van sy besoek is om aan u die moontlikheid te noem om groot hoeveelhede edelhout vanuit u Renamo-beheerde woudomgewing te ontgin vir klandestiene uitvoer na Suid-Afrika. Ek stel veral in panga-panga (Millettia Stuhlmannii), pau-rosa (Berchemia zeyheri), Sandalo (Spirostachys Africana), pau-ferro (mondzo) (Swartzia madagascariensis) en swarthout (African blackwood, Dalbergia melanoxylon) belang. Betaling sal in kontant geskied, in Amerikaanse dollars. U mense saag die stompe en my mense kom laai dit.
Hoewel dit nie my primêre veld van vaardigheid is nie, sou ek u ook in kontak kon bring met geloofwaardige internasionale wapenhandelaars, met wie ek op vorige geleenthede sake gedoen het, en wat wapens van enige aard op kort kennisgewing kan verskaf. Indien u dit so verkies, sou ek bereid wees om hierdie wapens vanuit Durban-hawe via Malawi op my eie risiko na u te vervoer en te ruil vir die hout (’n eenvoudige aflaai-oplaai-operasie). Ek verwag natuurlik vrye deurgang deur Renamo-gebied en gewapende beskerming so ver moontlik. My eie mense stuur ek ook gewapend in, as dit u goedkeuring wegdra.
Mnr. Rodriguez is ’n Portugeessprekende Suid-Afrikaner wat in koloniale tye in Angola grootgeword het. Hy dra kennis van houtontginning, maar is terselfdertyd ook ’n oudoffisier van die Flechas in Angola, en ’n opgeleide militêre strateeg. Hy werk al jare vir my. U is welkom om van sy kundigheid gebruik te maak, terwyl hy onder u beskerming is. Hy sal u verder oor sy agtergrond en posisie kan inlig. U sal verstaan dat sy teenwoordigheid op die oomblik slegs ’n verkenningstog is, tot tyd en wyl ons oor prys, hoeveelhede en lewering kan onderhandel.
U is welkom om rond te vra na my en my sakebedrywighede.
Met dank
Petrus Gerhardus Swartz
Rodriguez speel hierdie brief vinnig weer ’n keer in sy kop af, voordat hy begin praat. Hy praat vinnig en baie: “Dankie vir die geleentheid, generaal. Ek gaan nie na u welstand uitvra nie. Ek vertrou u is gesond. Dankie vir u mense se gasvryheid van die afgelope weke. Ek het goed geëet. Ek weet u is ’n besige man. Ek is dankbaar vir die geleentheid om u uiteindelik te sien. Ek kan nie veel meer sê as wat u voor u het nie. Ek is bereid om vrae te beantwoord so ver ek kan. Ek is bewus dat my lewe in u hande rus.” Rodriguez het vorentoe op die stoel geskuif en sy elmboë op die tafel laat rus. So gee dit hom meer stabiliteit en help hom om kalm te bly. Hy hoop dit gee ook die indruk van ontspannenheid en selfvertroue.
“Hoe kom jy hier?” Met die eerste opslag wil die generaal na ’n gepoleerde, selfs akademiese tipe lyk, met die dik bril en die effens te klein koppie. Hy het ’n effense boepmagie, ’n normale verskynsel wat saamgaan met die middeljare. Agter die brilglase kan Rodriguez egter duidelik die sinisme, uitgeslapenheid, selfs versteekte wreedheid, in die donker oë sien glinster. Die man is nie ’n aap nie!
Rodriguez konsentreer daarop om ritmies en diep asem te haal, sonder om te hyg. Hy verplaas sy bewerasie na die punte van sy elmboë en laat dit van daar af deur die hout tot onder in die pote van die tafel die grond in vloei. Hout is sy front. Hout moet hom hierdeur help dra.
Rodriguez praat nou stadig en afgemete en probeer die woorde so duidelik as moontlik uitspreek. Hy konsentreer daarop om die aksent na die beste soort Portugees te laat klink. “Soos u weet, generaal, is dit belangrik vir die Suid-Afrikaanse regering om te sien dat u beweging sukses behaal, militêr sowel as polities. Meneer Swartz is ’n goeie vriend van die regte mense in die Suid-Afrikaanse regering. Hy dra kennis van u goeie verhouding met Suid-Afrika en ander vriendelike lande. Dis waarom hy hom die voorreg toegeëien het om met u kontak te probeer maak. Die Suid-Afrikaanse intelligensiediens het ’n goeie idee waar hierdie basis geleë is. Ek verstaan nie presies hoe nie, maar hulle weet. Ek is met ’n helikopter afgelaai, ’n ruitverwysing gegee, en aangesê om te begin stap. Ek het die olifantvoetpaaie gevolg, tot ek mense gehoor het. Ek ken die veld. Ek het in Angola grootgeword.”
“Ek sien jy het vir die Flechas baklei.”
“Ja, generaal.”
“En toe’t jy tog gevlug.”
“Ek het alles verloor, vrou, twee kinders, toe’s ek weg. Toe ek nie meer anders kon nie. Die oorlog was verlore. Ons het dom besluite geneem. Angola was te veel vir ons. Hier het julle ’n baie beter kans.”
Rodriguez kan sien dat die generaal beïndruk is met sy antwoord. Hy het terselfdertyd drie dinge by die generaal bevestig: Hy kom van ’n eerbare bron, sy militêre agtergrond is goed ontwikkel, en hy dra reeds ’n persoonlike tragedie met hom saam. Dis dié soort mense wat Pappa goed kan gebruik, kan hy aanvoel. Mense wat al ’n bietjie geskaaf is deur die lewe.
Pappa sit ’n oomblik en dink wat hom te doen staan. Hy is bly Rodriguez is ’n wit man. ’n Wit man wat in Afrika grootgeword het, het gewoonlik ’n besondere krygsvernuf, glo hy. Die geskiedenis vertel dit ook. Hulle het ’n bietjie meer van ’n analitiese manier van dink, wat swart Afrikane dikwels nog nie aangeleer het nie. Saam met ’n kennis van die veld en die bos, dra dit gewoonlik waarde in ’n gevegskonteks. Sosiaal gesproke is hulle dikwels sonder veel vaardighede, die wit mense, selfs wanaangepas. Alleenlopers gewoonlik, hopeloos te bewus van status en eie ego. Maar goeie individuele operateurs.
Hy kan hom met die kêrel vermaak, elke keer as hy in die basis besoek kom aflê. Hy kan hom bietjie sit en pols oor militêre strategie. Die doctore kom wel gereeld kuier, maar hy’s ’n politieke analis, nie ’n militêre strateeg nie. Die Flechas was ’n elite-eenheid in die ou Angola. Hulle is nie verniet die Pyle genoem nie. Dalk tel hy iets op wat vir Renamo belangrik kan wees in die stryd. Dit sal vir Gaspar iets gee om te doen, as hyself nie in die basis is nie. Hy sou ’n regte Boer verkies het, maar ’n Boere-Portugees is seker nie te sleg nie. Renamo het op die oomblik ’n ooraanbod van wapens, van die wêreld oor. Hy’t nie nou ekstra geld nodig nie. Maar hy kan gerus sy bome in reserwe hou, vir wanneer dit nodig raak. Dalk vir ná die vrede.
“Gaspar,” sê hy vir die skraal soldaat wat nog steeds penregop agter Rodriguez staan: “Pas die man goed op. Hy bly net hier. Julle kan hom oral in die basis laat rondloop. Maar hy gaan nie weg nie. Jy’s persoonlik vir sy veiligheid aanspreeklik.”
Rodriguez slaak innerlik ’n sug van verligting. Om die spanning in sy lyf te laat skietgee, draai hy hom in sy stoel om en kyk om na Gaspar. Die jong soldaat het hom pylregop geruk in sy uniform en die geweer teen sy skouer laat swiep: “Gn’ra!” blaf hy kortaf en belangrik.
“Alda, bring vir ons tee!”
Rodriguez merk nou eers dat dieselfde meisie wat hom die afgelope weke so getrou in sy hut bedien het, die heeltyd eenkant gereed gestaan het, skuins agter hom in die skaduwee van ’n kiaatboom.
Sy stap nou na die koelboks op die tafeltjie voor die tent en haal ’n termosfles daaruit. Dis ook rooi. Dhlakama hou van rooi, kan Rodriguez sien. Dis ’n goeie kleur vir oorlog.
Alda het twee koppies uitgehaal en is besig om dit sorgvuldig met haar rokspant skoon te vee. Die ongewone prosedure lyk nie of dit die generaal pla nie. Sy skink die koppies vol en bring dit nader. ’n Breë houtplank dien as skinkbord. Dan buk sy in ’n bestudeerde gebaar van onderdanigheid vorentoe oor en plaas die generaal se koppie langs hom op die tafel neer.
“Daar’s klaar melk en suiker in,” sê sy vir Rodriguez, soos sy sy koppie voor hom neersit.
Ná weke se opsluiting is dit die eerste keer wat Rodriguez haar hoor praat. Haar stem is sag en melodieus. Die styg en daal met die klank van ’n lied, soos dié van die vroue wanneer hulle staan en mielies stamp: “Ja o leite eo acucar.”
Rodriguez vat ’n diep teug aan die lou, soet vloeistof: “Báié suiker, kan ek proe!”
“Dis soet genoeg, ja. – E doce o suficiente, sim.” Dieselfde singende kwaliteit in haar stem.
“Wat dink jy van my duiwe?” vra Pappa en wys na die kas op die paal.
“Hulle is mooi.”
“Ek is baie erg oor hulle. Dis een ding wat my altyd teruglok na die basis toe.”
Rodriguez is nie seker wat die generaal verwag hy moet sê nie. Dus bly hy bloot stil en kyk stip na die pronkende duiwe.
“Jy kry natuurlik vir Alda as jou persoonlike lyfbediende as ek nie in die kamp is nie. As ek hier is, sorg sy vir my.” Pappa kyk stip in Rodriguez se oë, bo-oor die rand van sy teekoppie.
“Dankie, generaal,” sê Rodriguez: “Sy’s reeds goed vir my aan die sorg.”
“Vra haar meer. Sy’s veronderstel om alles vir jou te doen. En ek bedoel álles. Sy’s ’n soldaat, al dra sy nie uniform nie.” Die generaal toon geen teken van ironie of speelsheid as hy dit sê nie. Hy is doodernstig.
“Nee, toemaar,” sê Rodriguez. “Ek sal nie te veel van haar vra nie.”
“Jy’t mos nie meer vrou nie, of wat sê ek?” Die generaal se stem is skerp.
Rodriguez gee ’n verleë laggie. Dis nie antwoord genoeg nie, weet hy, maar hy kan nie aan enigiets meer dink om te sê nie. Hy moenie sy saak nóú kom deurmekaarkrap nie!
“Is jy ’n rassis?”
“Nee, generaal, maar ek verkies melk in my koffie,” sê Rodriguez. Hy hoop nie hy het vir Pappa geaffronteer nie. Dat hy nou sy hele saak weggegooi het nie. Maar op ’n manier móét hy teenoor Monique verantwoording doen. Sy offer genoeg op om hom so lank en so ver te laat weggaan, die kinders sonder ’n pa, die gevaar, die gedurige, dringende moontlikheid van dood. Hy behoort ten minste teenoor haar, en teenoor hulle, getrou te bly. Dit gee hom ook iets om aan vas te hou. ’n Soort moraliteit om aan te klou. Anders stort hy later heeltemal in duie, raak hy volledig roekeloos. Dis al hoe hy homself kan regverdig. Maar dít kan hy nie vir die generaal sê nie.
“Alda is ’n goeie mens,” sê die generaal, sy stem nou sag en vol emosie. “Jy sal haar nog leer ken.”
“Ja, generaal.”