Читать книгу Rodriguez - Piet van Rooyen - Страница 4

1

Оглавление

Dit het skaars lig geword in die dieptes van die Mosambiekse bos. Bo vee die son met ’n bleek gloed aan die toppe van die bome, maar onder het die slierte donker nog nie van die woudvloer af gelig nie. Geen wind waai nie. Alles roerloos. Die takke van die oeroue bome hang swaar van die dou. Daar is net die sagte geskarrel van insekte oor blare en droë hout, voëls wat tentatief met vaak stemme mompel, vog wat van die blare af drup. Iewers ver weg klink die dowwe hale van ’n stamper op ’n blok. Die dag begin soos enige ander. Dis eeue al so. Dis die ou-ou Afrika wat ontwaak uit sy dieptes van sluimering.

Des te meer steurend kom die veraf geluid. Dit pas nie in hierdie oerwoud, hierdie stadig-druppende plek nie. Die klank kom aanvanklik as ’n vibrasie, ’n rammeling van ver onder die reikwydte van die oor. Net die olifante is in staat om so laag te luister. Waar hulle doekvoet deur die woudpaaie beweeg, steek hulle vas en skud hul koppe verergd met tande en swaar flappende ore.

Dit dring harder, dreigender. Die mense, die enkele menslike bywoners van hierdie woud, hoor dit ook nou. Die een na die ander verstyf hulle rondom die vroegoggend dinge waarmee hulle besig is. Die vroue hou die stampers gestol bokant die stampblokke, die borste hangend aan die reeds verrekte spiere wat aan die skraal skouers gehaak sit. Maer mans verpoos waar hulle aan ’n panga of skoffelpik sit en slyp, die enkele skor woorde gestol op die tonge. Honger boepens-kinders hou op teem. Almal hou die ore gereed, en luister. Elkeen probeer op sy eie manier verstaan wat die vreemde gedoef beteken.

’n Troppie skugter woudduikers skarrel verskrik weg uit die oop kol waar hulle aan die soet gras aan die knibbel was. Hulle spits die volle aandag in die rigting van die gedreun. Skaduwees flerts oor hulle, breek die blougrys antiloop-gedaantes op in gekamoefleerde strepe van lig en skemer. Blouape gryns agterdogtig, hul tande taai van die stroop. Aaphande verslap. Woudvrugte plons swaar op die blaremat.

“Woep-woep-woep”, dring die vibrasie na die binnekant van die ore, na die organe in die binneste van die liggame. Dis die gedruis van ’n warrelwind. Dit raak harder. Nou duidelik. Dis die ystergedrog. Dis die oorlog wat aankom, weet die mense nou goed.

Die helikopter, in donkergroen-en-swart kamoeflering, kom laag oor die boomtoppe geskeer. Boomblare dans ’n gekke dans. Die toppe van die woudreuse skud in die warrelwind. Die troppie duikers skarrel onder die digste takke deur, asems fluitend in die kele. Ape gil met ’n geklapper van tande, die kleinstes weggekruip in die arm-oksels van die moeder-ape.

In ’n oopte sak die dier neer op sy ysterpote. Die lemme skree met ’n hoë, skril geluid, woep gaandeweg stadiger, minder skril. ’n Deur skuif oop. ’n Man klim uit. Hy draf gebukkend uit onder die warreling van lemme. Hy staan ’n oomblik verstar in die verskuiling van die bos, lig die voorarm na bo. ’n Groet? ’n Afwysende gebaar?

Die man is kort en bonkig. Sy hare is swart en gekrul. Sy vel is blas, sy gelaat soel. Hy’s blank, maar beswaarlik. Sy skouers is breed en blokkig. Sy boarms is gespierd tot op die been. Hy dra ’n T-hemp met afgesnyde moue. Sy linkerarm is verbrand tot bo teen die skouer. ’n Rooi vlek lê gestreep oor sy wang. Hy het een dowe oor. As hy sy kop so draai, pla die geraas van die lemme hom nie te erg nie.

Die helikopter lig stadig. Die son blink op die ruite. Binne-in kan ’n mens niks sien nie. Die stuk meganika hang ’n oomblik roerloos bo die dak van blare. Met ’n flitsing van lemme teen die opkomende son skiet dit weg na vanwaar dit gekom het.

Die geskende man buk oor sy rugsak, trek ’n bottel met blou vloeistof daar uit, neem ’n enkele sluk. Dan druk hy die knoppie op die handgrootte digitale satellietstelsel (ook bekend as ’n globale posisioneringstelsel) en kyk waar hy is. Hy knik die kop. Hy’s tevrede met sy posisie. Hy swaai die sak oor sy skouers en begin stap. “Rodriguez” het gearriveer. Die menslike hulpbron, soos dit in agentetaal bekendstaan, is geplaas.

Rodriguez

Подняться наверх