Читать книгу Rodriguez - Piet van Rooyen - Страница 9

6

Оглавление

Hy’t die nuwe damestudent dadelik raakgesien waar sy skuins oorkant hom in die bank van die lesingsaal ingeskuif het. Daar was iets aan haar wat sy aandag gevange gehou het – ’n elegansie, ’n manier van sit, ’n sweem van bedroefdheid om die oë en om die hoeke van die mond. Sy het ’n aura van selfversekerdheid gedra, asof sy maar altyd deel van die klas was. Waar kom sy nou skielik vandaan, het hy gewonder.

Die dosent, Jan Gag, ’n aweregse karakter met slierterige hare en ’n ongekamde baard, was bepaald op sy stukke. Skerf het hom egter meer gesit en verwonder aan die nuwe meisie se lag as aan die geslepe professor se manewales. Haar glimlag het by haar lippe begin, oor haar mond gevee, van daar af oor haar hele gesig gespoel en in die oë gaan sit. Skerf het vasgenael gesit en kyk hoe dit die melankolie van haar gesig afspoel, alles in die rimpeling van ’n paar oomblikke. Sy was mooi, baie sag en vroulik. Haar gelaat was bleek en haar hare ’n skakering tussen donkerblond en vaal. Dit was die eerste keer dat hy haar in die klas sien. Sy moes ’n besoeker wees, of ’n laat aankomeling. Hy het daardie dag bitter min ingeneem van wat Jan Gag vertel, die meisie het sy kop te vol gemaak.

Sy het baie goed geweet dat hy na haar kyk. En sy het hom nodig gehad, enigeen nodig gehad op daardie tydstip. Na die klas het sy haar kans waargeneem. Sy het nader gestap en “Hallo” gesê.

“Hallo,” het Skerf geantwoord.

“Ek hoor jy’s slim? Jy werk hard?”

“Wie sê?”

“Voëltjies fluit.”

“Hu.” Wat kon hy anders blaf op so ’n wye stelling?

“Kom jy gereeld klas toe?”

“Hoe dan anders?”

“Ek kan nie altyd nie, soos jy seker gesien het. Was lank siek. Sal jy vir my kan notas neem? Ek sal jou op ’n manier weer terugbetaal.”

“Wie’s jy?”

“Monique.”

“Frans?”

Sy’t gelag: “Nee, ek’s ’n Boeremeisie.”

Hy’t geglimlag en kop geknik. “Kom ons gaan praat daaroor. Het jy geld vir koffie?”

“Ek het altyd geld.”

“Mooi! Dis dié soort vriende wat ek soek.”

Monique het nooit besef waarnatoe hierdie skertsende gesprek haar sou lei nie, in watter soort ding sy haar aan die begeef was nie. Dis maklik om verlief te raak wanneer ’n mens jonk en onskuldig is. Die omgewing leen hom buitendien daartoe, die berge blou en wasig in die verte, die geruis van die wind in die blare, die smal strate waar die akkerbome skaduwees gooi oor die watervore, skattige eekhorings wat skugter teen skurwe stamme uitskarrel, vinke wat in spatsels geel op die oewer van die kabbelende spruit kweel. Groen gras. Ou, wit geboue met ringmure en gewels. Kieselstene koel onder die voetsole op die sypaadjies. Die maan smaller of geronder snags, volgens die verloop van die maand. Musiek uit koffiekroeë, die vrolike gelag van studente, optimistiese gejuig uit die rigting van die sportvelde.

Hulle oë het mekaar gou gevind, hulle hande het geraak. Sy het gehou van die donker man voor haar, die intense manier waarop hy al hoe dieper in haar binnewerk in kyk. Die pand is gesmee. Die koeël is deur die kerk, soos die oumense altyd vertel het.

Rodriguez

Подняться наверх