Читать книгу Rodriguez - Piet van Rooyen - Страница 12
9
ОглавлениеDis die jaar 1990, in Mosambiek, in die basis naby die mond van die Zambezi. Dis vieruur die oggend in Massala. Twee uur voor sonop. Gaspar is naarstiglik aan’t soek na ’n paar kanne brandstof vir wat hy as ’n nuttelose reis na Marromeu beskou. Tog het Pappa hom die opdrag baie duidelik gegee. Daar is nooit voldoende brandstof beskikbaar nie, maar op een die of ander wonderbaarlike wyse het Rodriguez vir Pappa oortuig dat die voorgenome rit belangrik is.
Gaspar kan hierdie Rodriguez-karakter nie mooi kleinkry nie. As hoof van Pappa se veiligheid is hy hoogs agterdogtig oor die wit man se invloed op Pappa, sy gedurige aanwesigheid by die bevelvoerder.
Die woud is besonder dig hier rondom Massala. ’n Mens kan skaars jou hand voor jou oë sien. Hy kan nie mooi onthou waar hy laas die klompies-klompies dieselkanne weggesteek het nie.
Die basis bestaan al vir twaalf jaar hier in Massala, maar die bos kruip daagliks van voor af daaroor. Soos Renamo hom destyds al dieper in die woud onttrek het, het hierdie plek die de facto hoofkwartier van die weerstandsbeweging geword. Dis ’n besonder veilige plek, juis omdat dit so goed weggesteek is. Oral groei reuse umbila- en panga-panga-bome, party meer as twintig meter hoog. Hulle blaredak maak die kamp heeltemal onsigbaar uit die lug uit. Selfs die normale Renamo-soldate word nie in die hoofbasis toegelaat nie, maar bly in gedurig bewegende satallietkampe in die massiewe omringende Ziwe-woud. Die basis is net vir die topgeneraals en vir Pappa, wanneer hy kom besoek aflê.
Gaspar ken hierdie basis en die woud soos die palm van sy hand. Hy kan toe-oë hierdeur beweeg. Hy’s maar twee-en-twintig, maar al langer as tien jaar ’n soldaat. En hy’t die meeste van sy gevegswerk in die nag gedoen. Hy ken die donker. Sy kop dink al blindelings. Hy’t geleer om op sy voorgevoel, eerder as sy sintuie staat te maak. Om die diesel op te spoor is nie ’n kwessie van sien nie, maar van onthou. Hy het dit juis so hier en daar weggesteek dat niemand anders dit sou kry nie, veral nie Rodriguez nie. Op ’n manier hou hy van Rodriguez, maar hy vertrou hom nie. Van Rodriguez hier aangekom het, het dinge verander. Gaspar sou graag saam wou verander, maar hy’s bang. Sy sterk punt lê in sy primitiewe aanslag op die lewe. Dit werk vir oorlogvoering. Dis die eienskap wat Pappa hom die eerste keer laat raaksien het.
Nou, met hierdie trip van Rodriguez, voel dit vir hom asof die wêreld daar buite stadig aan die naderkruip is. Die mense begin praat van die einde van die oorlog. Dis die laaste ding wat hy wil sien gebeur. Die oorlog is sy hele lewe, sy hele bestaan. Hy kan nie eers probeer onthou hoeveel mense hy al doodgemaak het nie. Nie dat hy ooit probeer tel het nie. Nie dat dit enigsins saakmaak nie. Hy’t gedog hierdie soort lewe sal vir altyd maar bly bestaan.
Hy was maar vyftien toe die kolonne regeringsoldate Catandica aangeval het. Hulle het dit nie voorheen so ver noord gewaag nie, nooit verder as een of twee operasies na die Gorongoza-omstreke nie. Maar Pappa het sy veteraansoldate op ’n strooptog gestuur in Malawi se rigting. Die Frelimo-soldate het gehoor daarvan. Toe’t hulle in groot getalle opgekom in Catandica se rigting. Die vrouebataljon by Villa Cavalho was nie voorberei vir ’n direkte gevegsfrontkonfrontasie nie en het hulle laat verbykom. Daardie winter het die Frelimo-soldate die rivier by Caia oorgesteek.
Pappa het sy jong soldate ingeroep van Massala af, en van Inhambane, en die mynwerkers vanaf die toermalynmyne verder op in die binneland. Dit was hulle, Pappa se kindersoldate, wat die regeringsmagte by Catandica voorgekeer het, hulle stert-tussen-die-bene teruggejaag het na die suide, na Cavallho se hoere en kantiens. Gaspar was die held van hierdie geveg. Hy’t geen vrees geken nie. Hy het soos ’n roofdier geword. Hy wou net bly aanhou doodmaak. Sy eie dood was vir hom iets om te bly soek.
Pappa het gehoor van sy onverskrokkenheid. Hulle het hom raakgesien. Pappa het van hom sy nommer een lyfwag gemaak. Gaandeweg, soos hy ouer geword het, en meer geslepe, het hy sy persoonlike sekuriteitshoof geword.
Hy en die ander jong soldate was die meesters van hierdie soort oorlog. Hulle het geleer om laag te lê, net snags onder die skaduwees van die bosse en die bome uit te kom, hard te slaan, en onmiddellik en sonder geluid weer stil-stil in die woud te verdwyn. Dis soos hulle dit altyd gedoen het, hy en die ander jong manne van hierdie leërmag.
Nou hierdie groot gedoente, hierdie voorgenome reis van Rodriguez en Maia. Hy’t vir Pappa gesê om die hele ding af te stel, dis te gevaarlik, maar Pappa wou nie. Toe’t hy met Maia gaan praat, hom selfs gedreig. Hy wat Gaspar is, het hierdie soort mag. Selfs teenoor ’n minister. Hy staan al lank genoeg aan Pappa se sy. Hy het al genoeg kere die loop van sy AK op Pappa se bevel teen ’n ongehoorsame mens se kop gehou, die sneller gedruk.
Gaspar het die vrees in Maia se oë gesien, gedog hy het hom oortuig. Hy het daarom gereken dat die trip nooit sou plaasvind nie. Dus het hy geen voorbereidings getref nie. Dié dat hy so donkernag in die bos op soek is na die kanne met brandstof.
Rodriguez is ’n snaakse kalant, hy laat Gaspar partykeer lekker lag. Hy vertel ook soms die wonderlikste verhale. En hy speel ’n goeie pot Risk met Maia en die generaal. Dit lyk of hy altyd aan die wenkant is.
Hulle wil al voor dagbreek vertrek. Dis malligheid. Daar’s g’n paaie om op te ry nie. Die doctore het nooit gereken die Unomoz Land Rover sal vir sulke ver togte gebruik word toe hy dit met die Kariboe-vliegtuig laat instuur het nie.
Om by Marromeu uit te kom, moet hulle deur Inhaminga beweeg. Rodriguez het gepraat daarvan om ’n ander roete te vat, maar hy wat Gaspar is, het vasgeskop. Hulle kry net die brandstof as hulle by Inhaminga langs gaan. Hulle kry net genoeg van sy kant af tot daar. Daar sal hulle verder gehelp word. Dis een van die dinge wat Pappa direk, en net vir hom, laat weet het.
Hy is trots op die leier se vertroue in hom. Dit wys dat Pappa hom steeds nodig het, dat Rodriguez nie die enigste een is wat saakmaak nie.
Pappa het vir hom gesê dat hy die maksimum impak uit hierdie operasie wil hê. Hy het vir Gaspar gesê dat hy vir Rodriguez gebruik vir sy eie doelwitte, dat die wit man vir hom nodig is op hierdie tydstip. Nou goed, dan sal hy die diesel vir hulle opspoor. Hy sal sy woord hou. Hulle sal voor dagbreek vertrek.
Die topgeneraals het al lankal besluit dat, sou dit nodig wees om Beira aan te val, daardie aanval uit Inhaminga geloods sou word. Daar is nog baie Renamo-troepe in die bosse rondom die dorp, ten spyte van die Unomoz instruksies om te demobiliseer. Pappa wil hê dat hierdie troepe vir Maia en vir Rodriguez self moet sien, om daardeur gemotiveer te word, sou ’n aanval plaasvind. Hy’t dit nie vir Gaspar gesê nie, maar daaruit het Gaspar afgelei dat daar wel so ’n aanval beplan word. Rodriguez mag nie daarvan weet nie. Rodriguez is geheel en al teen ’n aanval op Beira. Hy sê Renamo is nog nie op die oomblik sterk genoeg vir so ’n konvensionele aanslag nie. Maar Gaspar kan sien dat Pappa al lankal anders hieroor dink. Hy ken die leier goed genoeg, hy staan dag en nag in sy teenwoordigheid.
Gaspar het drie kanne diesel opgespoor. Twee van die soldate is nou besig om dit na die Land Rover toe te dra. Hulle sal meer brandstof kry op Inhaminga, van die regeringskonvooi wat hulle vroeg-Mei in die hinderlaag gelok het.
Gaspar is skielik lus om die vertrek opsetlik te vertraag, ’n voorwendsel te kry om met die twee soldate wat die kanne gedra het te begin sukkel. Hy wil graag vir Rodriguez kwaad sien. Dit het nog nooit gebeur nie, behalwe een keer toe hy hom oor die radio sien praat het en hy skielik sy pen in die bosse weggegooi het. Matos is altyd baie geïnteresseerd as Rodriguez op die radio praat en probeer naderstaan om te luister. Die gesprekke is gewoonlik met die doctore, of met so ’n ander wit man met ’n dik stem. Dis in Engels, en Gaspar kan nie agterkom waaroor dit gaan nie.
Rodriguez het die vorige aand ’n Renamo-vlag aan elkeen van die Land Rover se voordeure laat verf. Maia dra die sonbril wat Rodriguez klaarblyklik onlangs vir hom gegee het, al is dit nog skemerdonker.
In sy vorige lewe was Maia ’n platejoggie by ’n radio-stasie in Beira. Sy naam was toe Gato Preto, die Swart Kat. Vir Gaspar lyk hy nou presies so. Hy het al gehoor hoe die vrouesoldate in die basis spog oor Maia se seksuele vermoëns. Hy behoort hom seker daarvoor krediet te gee.
Maia het sag geword, te sag vir hierdie oorlog. Deesdae doen hy niks sonder om Rodriguez te raadpleeg nie. Soos die keer toe die Rooikruis-vroumens kom pleit het dat hulle die groep gevange kinders uit Maringué moet vrylaat. Sy’t direk by Rodriguez gaan kla, en Rodriguez het vir Maia gesê om hulle vry te laat. Daardie kinders is terug huis toe en het lankal, vir almal wat wou weet, vertel waar die basis lê. As Gaspar sy sin kon kry, het hy hulle een vir een laat skiet. Net daar, die oomblik toe hulle by die barakke uitkruip. Maar die Rooikruis-vroumens was by tydens die vrylating en Maia het gekeer. Hy’t gesien hoe Rodriguez vir die vroumens staan en kyk en hoe hy vir haar glimlag.
Maia en Rodriguez sit en drink tot diep in die nag saam met Matos, Alfinette en Faustino, en dit irriteer vir Gaspar. Hy’s ook jaloers, want Pappa het hom direk verantwoordelik gemaak vir Rodriguez se veiligheid. Matos is die mees senior generaal in die basis as Pappa nie hier is nie, en Matos kies altyd Rodriguez se kant as hy en Maia stry kry met die kaarte. Gaspar mag nooit inmeng nie.
Wanneer Rodriguez alleen is, vind Gaspar altyd die een of ander voorwendsel om te gaan inloer. Hy gaan sit dan op Rodriguez se bed. Dit laat hom spesiaal voel. Dis ’n ander wêreld: Rodriguez se koel ysterbed met die wit lakens op, die prente van die see en van perde teen die muur van die hut, die leeslamp op die bedkassie, die boks met boeke onder die bed, die gordyne voor die venster. Rodriguez het hom goed ingerig hier. Dis ’n ander man as die een wat alleen met die rugsak in die basis ingestap het, soveel maande gelede.
Pappa het vir Gaspar gewaarsku dat, as Rodriguez enigiets sou oorkom, hy hom self direk daarvoor verantwoordelik sal hou. En Pappa praat nie ligtelik nie.
Rodriguez is besig om, in die ligte van die luierende voertuig, iets op ’n stukkie papier neer te skryf. Partykeer skryf Rodriguez Pappa se briewe en doen die meeste van die papierwerk vir Maia. Gaspar het nog nooit geleer om te skryf nie. Hy sal vir Rodriguez vra om hom te leer. Pappa het vir sy generaals vertel dat Rodriguez ’n spesiale adviseur is.
Aan die begin was hulle almal baie skepties. Hy wat Gaspar is, is nou nog skepties, maar hy sal maar sien. Rodriguez is, bo en behalwe die doctore, die enigste wit man wat nog ooit aan die binnekant van die Massala-basis toegelaat is. Gaspar stel nie regtig belang in wat Rodriguez nou op die stukkie papier aan die skryf is nie, maar hy voel tog ’n warmte in sy hart as Rodriguez opkyk en vir hom glimlag. “Bom dia!” sê hy vir Gaspar. Hy sê iets in Engels vir Maia. Maia gee ’n binnensmondse laggie, maar weet goed genoeg dat hy nie vir Gaspar moet omkrap nie.
Daar is ’n paar goed agterop die Land Rover gelaai, maar Gaspar kan nie van hier af sien wat dit is nie. Kwelo staan ook al agter op die bak. Kwelo is Rodriguez se persoonlike lyfwag, sy guarda costa. Hy’s vet en onfiks. Die ander soldate wat moet saamry, is om die Land Rover versamel. Rodriguez stuur vir Kwelo om ’n stoel uit sy hut te gaan haal. Dis vir as hy dalk later die dag agterop die bak wil gaan sit, waar die lug koeler is.
Voor hulle ry, maak Rodriguez ’n groot ding daarvan om vir Gaspar voor die ander soldate vir die vind van die diesel te bedank. Gaspar wens eintlik hy kon saamgaan. Die rit beteken waarskynlik nie veel nie, maar is ’n teken daarvan dat dinge aan die verander is, dat hulle uit die bos uit aan die beweeg is, ten goede of ten kwade.
Gaspar beduie iets aan een van die soldate. Die soldaat stap weg in die rigting van die menasie.
Gaspar het nader gestaan na waar die groepie soldate in die skemerdonker rondom die Land Rover saamdrom. Hy kyk een van hulle direk in die gesig en sê iets. Hoewel hy in die Sena-taal praat, is sy bedoeling duidelik. Die soldaat is ’n man sonder oor. Sy naam is José, maar almal noem hom Earman. Earman is jare gelede deur die regeringsoldate gevang, en hulle het sy oor afgesny. Hy kan van geluk spreek dat hy leef. Earman is Pappa se sekretaris wanneer Pappa in die basis is.
Daar is geen aanduiding dat Pappa binne die voorsienbare tyd basis toe kom nie, maar Gaspar voel dit sy plig om sy stempel op die operasie af te druk. Hy wys dus kortaf met sy duim terug na die periferie van die basis. Earman is baie teleurgesteld. Hy’t so uitgesien daarna om uit die bos te kom. Hy’s al sewe jaar lank in hierdie basis en omstreke vasgevang. Hy mis die wêreld daar buite.
Rodriguez bly stil. Wat kan hy ook nou sê? Hy leef ook maar op genade hier.
Die gestuurde soldaat kom terug van die menasie af. Hy dra ’n tamatiesouskarton. Binne-in is ’n paar stukkies blikkieskos. Met ’n groot gebaar haal Gaspar ’n paar van die blikkies uit en gee dit vir Kwelo. In ’n plegtige toon gee hy hom opdrag om goed na Rodriguez om te sien, te sorg dat hy nie honger ly nie.
Rodriguez het heelwat gewig verloor die afgelope tyd. Hy leef hoofsaaklik van boontjies en rys. Die blikkieskos is ’n deel van Pappa se persoonlike voorraad en Pappa het Gaspar direkte beheer daaroor gegee. Al ly die soldate meestal honger, het Pappa genoeg. Pappa weet nie eers presies hoeveel kos hy in sy voorraad het nie. Hy vertrou Gaspar ten volle in hierdie opsig, soos in alles anders.
Gaspar skud sy kop ontevrede. Die voertuig in die basis is glad nie ’n goeie ding nie. Voertuie laat spore en spore is ’n doodseker manier om jou posisie weg te gee. Hy beduie dus vir die drywer om die ou olifantvoetpad vir ten minste twintig kilometer in ’n noordelike rigting te volg voor hulle dit waag om oos te draai. Dan slenter hy terug in die skemerte van die bos in.
Die drywer sit die Land Rover in rat en laat skiet die koppelaar. Maia en Rodriguez en die soldate kies koers deur die takke en blare. Kwelo gaan sit solank op die stoel wat vir Rodriguez gereserveer is.
Dis ’n splinternuwe kortgat Land Rover, geskenk aan Renamo deur die Verenigde Nasies se Unomoz-kontingent. Die oorlog is hopelik in sy doodsnikke. Almal moet nou vir die verkiesings voorberei. Die doel van die tog is om kontak te probeer maak met die Renamo-soldate wat in splintergroepe in die digte bosse in die omgewing verskuil sit. Volgens die berigte wat deur die afgelope maande heen en weer deur die bos geflits het, moet daar by die drieduisend soldate, sonder behoorlike rekenskap of verklaring, leierloos hier ronddwaal. Dis ’n plofbare situasie.
Die bos is bykans ondeurdringbaar. Dit was sewentien jaar laas dat hier ’n voertuig van enige aard, op enige wyse en vir watter doel ook al gery het. Die Renamo-minister van binnelandse sake, ’n man met die naam van Manuel Nacino de Maia, is saam met Rodriguez en die drywer voor in die kajuit. Agter op die bak is daar nege soldate en ’n enkele stoel.