Читать книгу Rodriguez - Piet van Rooyen - Страница 6

3

Оглавление

Rodriguez was drie weke in die basis voordat generaal Dhlakama opgedaag het. In hierdie drie weke is hy, op Gaspar se bevel, baie sorgvuldig in ’n hut toegesluit, met ketting en slot. Hy kon slegs onder streng bewaking in die bos gaan ontlas. Daar was ’n ou geroeste kan met water in die hut, om te drink. Hy het ook van die water gebruik om mee te was.

’n Jong meisie het twee maal per dag vir hom kos gebring: wit, geklonte pap, sonder suiker of melk, sommer so onder die geslote deur ingestoot. Tussen die latwerk van die muur deur kon hy haar gesig sien, die skadu’s en lig wat strepe oor haar wange gooi. Sy het nie haar naam gesê nie, net ’n sagte steun gegee as sy die kos neersit. Wanneer die waterkan leeg was, het hy dit plat op sy kant gedraai en onder die deurspleet gestoot. Die meisie het dit gevat en gaan volmaak. Dit was rivierwater, kon hy sien, bruin en met die smaak van vars klei.

Die meisie het ’n wye, vuil rok gedra wat waarskynlik vroeër rooi of pienk was, hopeloos te groot vir haar maer lyf. Rodriguez het die blik in haar oë probeer peil in die wisselende lig, maar sy’t nooit opgekyk nie. Tog was haar gelaatstrekke kalm en ontspanne. Uit die vredigheid van haar gesig het hy sy eie bietjie hoop op lewe wakker gehou. Ten minste het hy geweet dat Dhlakama se koms sy lot sou beslis. Hy het vir Gaspar die brief gewys met die amptelike briefhoof en die stempel op. Gaspar het die brief dadelik in sy eie sak gesteek. Later het hy laat weet dat Rodriguez vir Pappa kon sien. Dat hy vir Pappa moes wag.

Niemand was gereed vir Dhlakama se koms nie. Onverwags het hy uit die lug neergedaal. Net Gaspar het soos gewoonlik uitgevat gesit in sy netjiese bospak, die materiaalhulse wit op sy moue, sy helder baret op die kop. Gaspar was altyd vir alles gereed. Hy kon altyd die helikopter van ver af hoor, minute voor die ander. Hy het sy kop op ’n primitiewe manier geroer en in die lug gesoek. Sy ore het gedraai. Hy het geweet, en kon presies wys, uit watter rigting die helikopter kom. Hy was werklik goed daarmee, om te luister. Die ander soldate het allerhande stories hieroor oor hom vertel, en was bang. Hulle het gesê dat hy selfs die sagste gefluister snags uit die hutte kon hoor, wanneer die wind stil was, en dat ’n mens niks kon sê wat nie vir sy ore bedoel was nie.

Rodriguez het in sy onderbroek lê en slaap, natgesweet in die hitte van die somernamiddag. Tot binne-in die warboel van sy onrustige drome het die helikopterlemme ingedring, hulle vibrasies laag en dreigend. Hy het in die helikopters van sy oudae gery, die versamelbeeld uit al die helikoptervlugte van sy verlede. Die lyke van sy maats was in swart zip-plastieksakke langs hom op die helikoptervloer uitgepak. Die sakke was dig toegetrek. Tog kon hy die individuele vorms van hulle gesigte teen die swart seildoek sien stulp, hulle een vir een herken. Hy kon sien hoe hulle monde oop en toe gaan in hulle angstige pogings om lug te kry. Woep-woep-woep, het hulle monde aan die swart seile gesuig. Maak oop, maak oop die sakke! Hulle lewe nog! wou hy gil, maar daar was niemand om te luister nie. Net hy alleen tussen al die dooies. Hy was meteens helder wakker.

Die helikopter het met ’n oorverdowende lawaai bo-op die basis kom hang, toe stadig neergesak tussen walms stof en dwarrelende blare. Hoenders het verward om die kante van die grashutte geskarrel. Die geskree van kinders was hoorbaar selfs bo die gefluit van die helikopterlemme. Daar was ’n duidelik hoorbare daling in geluid toe die loods die enjin afskakel. Die skerp gefluit het stadigaan stil geword. Kinders het die huil gesluk. Die lemme het al hoe stadiger geswiep. Twee soldate het by die oop deur van die helikopter uitgespring, hulle gewere na vore gerig, op hulle knieë gesak en stip heen en weer getuur, na denkbeeldige vyande in die bos. Toe het Pappa uitgeklim, netjies in ’n kamoefleerpak met rooi epoulette.

Vanuit die skuiling van sy hut kon Rodriguez die vyf sterre en ’n vlag duidelik op die breë epoulette sien blink. Definitief die grootbaas self! Hy het ’n plat swart aktetas in sy regterhand gedra. ’n Dik, groen, gevlegte koord het oor sy skouer en linkerarm gehang. Die swart baret op sy kop was nuut en netjies. Daar was ’n groot swaarraambril op sy gesig. Hy het regop onder die stadig-swaaiende lemme uitgestap, en eenmaal kortaf in die algemene rigting van die basis gesalueer.

Gaspar het dadelik nadergedraf, op aandag geruk, die hakke teen mekaar geklap, en flink terug gesalueer. Toe het hy die tassie by Pappa geneem en vooruit gestap na die binnekant van die basis toe. Pappa het hom ’n enkele goedkeurende klop op die skouer gegee. Die twee nuwe soldate het hulle in ’n breë agterhoede gevolg.

Teen laatmiddag het Gaspar vir Rodriguez kom haal. Rodriguez was gereed. Hy het hom in die tussentyd vars geskeer en sy wit hemp aangetrek. Gaspar het hom met die geweerloop beduie waarnatoe om te loop. Hulle het ’n slingerpaadjie gevolg al dieper na die binnekant van die basis toe. Eenkant het ’n hond aanhoudend geblaf. Binne-in ’n ruigte kiaatbome was ’n groen tent nuut opgeslaan. Voor die tent het ’n opvoutafeltjie gestaan met ’n rooi plastiek-koelboks op. ’n Rooi handdoek het eenkant aan ’n tak gehang om droog te word. In die skadu van die digste bome het ’n houttafel met ’n grys-en-wit geruite tafeldoek gestaan. Daar was vier stoele rondom die tafel gerangskik. Op ’n kassie op ’n paal langs die tent het vier wit poustertduiwe gepronk. Die dun geluid van die duiwestemme het vreemd en onvanpas geklink hier in die Mosambiekse bos.

Gaspar het vir Rodriguez beduie om op een van die stoele te gaan sit. Hyself het direk agter die wit man gaan staan. Rodriguez kon die loop van die geweer teenaan sy rug sien speel in die skaduwees wat die laatmiddagson op die sand gegooi het. Figure in ’n skaduspel, ’n man wat sit, en ’n ander met ’n skadugeweer.

Toe het Dhlakama uit sy tent nadergekom en oorkant Rodriguez plaasgeneem. Hy was vars gewas en het nou ’n groen gevegshemp gedra, sonder rangtekens. Hy het Rodriguez se brief woordeloos op die tafel tussen hulle neergesit en dit gelyk gestryk met die vuis. Toe het hy die enkele woord in Portugees gesê: “Sim?”

Rodriguez het geweet dat dit nou sy toets was.

Rodriguez

Подняться наверх