Читать книгу Rodriguez - Piet van Rooyen - Страница 17

14

Оглавление

In Skerf Malan se huis in die voorstede van Pretoria het ’n gesinsdrama in die kleine hom afgespeel. Monique het maar pas twee maande gelede geboorte geskenk aan hulle tweede kind, ’n donkerkop-dogtertjie. Hulle het die kind Rachelle genoem, na Ragel van die Bybel, en om die Franse tradisie voort te sit. Sy’s nog erg koliekerig en hou Monique byna deurnag wakker. Skerf regverdig homself dat hy bedags ’n belangrike werk doen, en slaap deur al die geskreeu. Hy is buitendien skrikkerig vir klein babas. Hulle oudste seun is al byna twee jaar oud en ’n regte prettige klein mannetjie. Sy naam is Skerf junior. Sy pa sit hom graag saans op sy knie en ry met hom perd, of stoei met hom op die mat. Monique vind bevrediging in haar kinders en is innerlik trots op haar man se bydrae tot die handhawing van veiligheid in Suid-Afrika. Sy is gelukkig, altyd bly om hom saans te sien huis toe kom, na haar en die kinders toe. Sy het gedog dit sal vir altyd so kon aanhou.

Nou het hierdie Mosambiek-ding oor hul pad gekom. Sy sien dit as ’n bedreiging vir hul geluk. Sy’s waarskynlik reg. Skerf vermoed dit ook, maar hy beskou sy rol as Afrikaner as belangriker as sy rol as gesinsman. Hy’s deel van ’n stelsel, ’n gevegseenheid. Sy gesin is maar een deeltjie van ’n groter prentjie. Hy durf hom nie in die skuiling van ’n geborge klein wêreld onttrek nie. Dit sou lafhartig wees. Dis soos om ’n lafaard te wees. ’n Naam wat stink. Piet de Wet, Faan Vilonel, Andries Cronjé, Olaf Bergh, die ander verraaiers van die Volk. Mense wat vrede najaag, in plaas van regverdigheid. Die maklike pad vat. Die breë pad loop.

Hy dink nie daaraan dat dit dalk ook maar die maklike pad is om te loop, die gedagtes waarmee hy sy gewete nou gerus probeer stel nie. Om jouself in ou name te versteek. In die helde en lafaards van die verlede. Dan hoef jy nie self verantwoordelikheid te aanvaar nie. Nie self te dink nie. Net te doen. Voort te stoomrol. Nie die ore vir vroumenspraatjies uit te leen nie.

“My vrou, jy weet mos waaroor dit gaan. Jy kom al ’n lang pad saam met my hierin, of hoe?”

“Ek kom al lankal saam, ja, maar met hierdie ding vra jy te veel van my.”

“Ek vra nie te veel nie. Ek vra maar net wat baie vroue al moes opgee. Dink maar aan die seevaarders van ouds. Die matrose in Van Riebeeck se tyd. Die Boerekrygers van die groot oorlog. Hulle het almal vroue gehad. Jy’s nie alleen nie.”

“Hu-uh!” sy skud haar kop opstandig. “En as dit nie oor my is nie, wat van haar? Kyk na haar, kyk na die kleintjie. Dink jy nie sy wil ’n pa hê nie?” Rachelle lê op ’n wit kombersie op die mat. Sy is op daardie oomblik rustige babageluide aan die maak, tevrede en volgedrink, min ontsteld deur haar ouers se driftiger-as-gewoonlike woorde.

“Dis waarskynlik net ’n jaar, dan’s ek terug.”

“Waar’s ons kinders oor ’n jaar? Hulle sal jou nie meer ken nie.”

“Hulle sal my weer léér ken. Dit gaan juis oor vorentoe. Oor eendag. Dat hulle my dan sal ken. Jy weet dit net so goed soos ek. Jy wil self nie ’n lafaard vir ’n man hê nie. Jy kon ’n heel slapgat vir ’n man gehad het. Jy kon ’n man gehad het wat ’n jaar laas gewerk het. Wat glad nie wou werk nie. Of wat sê ek?”

“Is daar nie ongetroude manne in die Diens wat hulle kan stuur nie?”

“Nee, dis ek. Ek is die regte een. Ek is die enigste een. Dis vir my wat hulle wil stuur. Dis ek wat wil gaan. My opleiding staan agter my. Dis waarvoor ek voorberei is. Dis waarvoor ek gebore is. Dis hoekom ek lyk soos ek lyk.” Skerf praat stadig en afgemete. Hy lyk ernstig. Hy wil hê sy vrou moet mooi hoor. Sy moet verstaan. Sy moet die prentjie sien, die prentjie in sy geheel, nie net maar wat om haar is nie. Hy probeer haar oortuig met rede, met ’n beroep op haar breër sin vir waardes. Hy dwing homself om te vergeet dat ’n vrou dikwels in staat is om verder en beter die toekoms in te sien as ’n man met al sy beste redenasies.

“Ek kry dubbel die salaris, danger pay, ’n buitelandse bonus. Hulle betaal dit direk in ons rekening in. Ons het dit juis nou nodig met die huis se afbetaling en met die kinders. Ons moet vooruit kom. Jy weet tog?”

“Wanneer is dit waarvan jy praat veronderstel om te gebeur?”

“Dit veronderstel nie. Dit gebeur. Volgende week gaan ek Pietersburg toe om my front op te sit. Ek sal van daar af kontak met jou kan hou. Elke dag. Maar as ek skuif, oor die grens, sal jy van my hoor as jy my sien, soos ek die ding verstaan.”

“Dink jy ons huwelik sal hou?”

“Dit moet net hou, of het jy ander planne?”

“Ek het geen planne nie,” sê sy verdwaas.

“Nou ja.” Hy kry dit tog reg om, ten spyte van die onstuimigheid in sy gemoed, en sy inherent teruggetrokke geaardheid, ’n arm na haar uit te steek en haar skuinsweg teen hom aan te druk. “Ons kry maar eenmaal die kans om ’n bydrae te lewer,” sê hy.

“Ja, eenmaal die kans,” eggo sy terug.

Rodriguez

Подняться наверх