Читать книгу 'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun - Страница 10

5

Оглавление

Een typisch kenmerk van spijt, is dat het steeds weer te laat komt en nooit op tijd …

Extince, uit “Op de dansvloer” (Binnelandse funk, 1998)

Halfvier slaap ek steeds nie. Ek sien nou al op daarteen om weer slegte nuus aan ons vriende en familie oor te dra. Asof ons hulle ’n halfjaar gelede bedrieg het toe ons gesê het dit was ’n vals alarm. Nou moet ons hulle weer tot die biopsie laat wag. Dit is volgende Vrydag. Oor tien dae. Tien fokken dae op ’n ondersoekoperasie wag. Dit kan regtig nie vroeër nie, het dokter Walters aan Carmen gesê, en tien dae maak ook nie soveel saak nie, het hy haar verseker. Toe ek my gisteraand daaroor vererg, het Carmen haar vir my vererg. “Wat moes ek dan bleddiewil sê, Steyn? Dat ons die biopsie self sal doen?” Daarna het ek maar my bek gehou.

Dokter Walters. Dit is nou al ’n halfjaar gelede en ek het hom toe seker altesaam ’n halfuur gesien, maar dis asof sy gesig hier reg voor my is. Seker so vyf-en-vyftig, vername grys hare, kantpaadjie, ronde brilletjie, wit jas. ’n Halfjaar gelede het die nagmerrie maar ’n week geduur. Dit het begin met Carmen se besoek aan ons huisarts, dokter Bakker. Hy het haar aangeraai om vir alle sekerheid tog maar in die hospitaal na die bors te laat kyk. Dit het ons laat skrik. In die Lucas-hospitaal het ons by dokter Walters beland. Hy het daarna gekyk en gedink Carmen moes tog maar ’n biopsie laat doen. Dit het ons nog groter laat skrik. Nie dat ons geweet het wat ’n biopsie is nie, maar as hulle in ’n hospitaal iets gaan doen waarvan jy nog nooit gehoor het nie, is dit uiteraard iets slegs.

Die aand voor die biopsie het ek in die skemerdonker van ons slaapkamer probeer om Carmen nie te laat agterkom dat ek lê en tjank nie. Vroeër die aand het ek in haar oë gesien sy was doodbang. En dit kon ek goed verstaan. Van kanker gaan jy dood.

Vannag het ek skielik onthou wat Walters ’n paar uur ná die biopsie gesê het. “Die selle is onrustig, ons weet nie presies wat dit is nie, maar dit is in elk geval nie kwaadaardig nie.” Ek onthou hy het dit skaars gesê, of ons het opgestaan. Hoe opgewek was ons nie, en hoe wou ons nie weg, weg, weg uit daardie hospitaal nie, terug na ons gelukkige lewe, waarin ons gewoonweg soos ons beplan het nog lank en gelukkig sou aangaan met lewe. Met die tyd aan ons kant en planne vir honderdduisend jaar.[2] Buite het ons in mekaar se arms geval. Asof ons pas ’n gesonde kind gekry het, so bly was ons. Ek het jubelend Carmen se ma, Thomas en Anne, Frenk en Maud gebel om te sê daar was niks fout nie. Carmen was gesond.

Nié kwaadaardig nié. As ons Walters langer uitgevra het oor sy ons-weet-nie-presies-wat-dit-is-nie? As ons ’n tweede mening in ’n ander hospitaal gekry het? Is dit agterna gesien nie ons eie skuld nie? Het ons onsself nie maar net afgeskeep nie? Dat Carmen uit puur verligting heeltyd bly was, is te verstane, maar moes ek nie toe deurgedruk het nie, daarop aangedring het dat hy soek tot hy donnerswil wel geweet het wat dit presies was nie? Dis nie Walters nie, maar ek wat hier die groot poephol is. Ek is tog haar man, ek moes haar tog beskerm het? Dit kon miskien alles voorkom gewees het, stamp dit deur my kop.

Dit gaan hierdie keer nie met my gebeur nie. As hy ons volgende Vrydag weer verseker dat alles reg is, pluk ek hom aan sy wit jas reg oor sy lessenaar. Dít kan ek hom verseker.

'n Vrou gaan dokter toe

Подняться наверх