Читать книгу 'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun - Страница 11

6

Оглавление

Een glimlach, dat wordt pure parodie …

Rita Hovink, uit “Laat me alleen” (Een rondje van Rita, 1976)

“Onkologie” heet die afdeling in die Lucas-hospitaal waar die biopsie gedoen word, sien ek op die bordjie bokant die swaaideur. Onkologie. Ek ken die woord vaagweg, maar het nie geweet dit het iets met kanker te make nie. Dit klink so onskuldig. Meer soos ’n wetenskap waarin die redes bestudeer word waarom die mammoet uitgesterf het, of so iets.

 Die Lucas-hospitaal. Daar is mense vir wie die Europarking die neerdrukkendste gebou in Amsterdam is. Ander dink weer dis De Nederlandsche Bank. Of die woonstelle in Bijlmer. Ek nooi hulle uit om in die Lucas ’n draai te maak. As ek op die A10 daar verbyry, kry ek hoendervleis.

Luna speel met Elmo, wat sy die vorige week vir haar verjaardag gekry het. Carmen sit op die rand van haar bed. Sy is pas geweeg en daar is bloed getrek. Die swart koffer waarin sy vanoggend haar toiletgoed, pantoffels, ’n pers synaghemp – wat ek nie geweet het sy het nie – en ’n Marie Claire gepak het, lê op die bed. Ek sit langs haar, met my baadjie nog aan, en tel die twee voubiljette op wat ons pas gekry het. ’n Groene, Lewe met kanker, en ’n bloue, Borskanker. Op albei is ’n logo wat ek al op van daardie kollektebussies gesien het. Die Koningin Wilhelmina-fonds, dink ek. Ek begin blaai deur die blou biljet, soos ’n mens in die vliegtuig die gids vir belastingvrye ware lees om in die stemming te kom. Vir wie is hierdie brosjure? staan boaan die eerste bladsy. Ek lees dat ek en Carmen tot die teikengroep van die biljet behoort. Ek hou niks daarvan om tot ’n teikengroep te behoort nie, en heeltemal niks van hierdie biljet nie. In die inhoudsopgawe is hoofstukke soos Wat is kanker?, Borsprostese en Pynverligting. Waarom lees ons hierdie opbeurende goed? Dit is tog maar net ’n ondersoekoperasie? Kan ons voorlopig nie maar net maak asof alles sal regkom nie, of dat die ingeduikte tepel op die rooi bors – wat die laaste paar dae opmerklik rooier en groter geword het, selfs vir my ongeoefende oog – tog nie veroorsaak is deur watsenaam, hormone of so iets, nie?

Dit het intussen al negeuur geword en daar kom ’n verpleegster in. Sy het ’n lêer by haar waarop Carmen se naam staan.

“Jy pas al heeltemal hier in, nè?” sê ek met ’n knik na die lêer.

Carmen lag. ’n Bietjie.

“Die ondersoekoperasie is vir twaalfuur gereël,” sê die suster.

Die suster is sowat vyftig jaar oud. Sy doen haar bes om hierdie roetinepraatjie so persoonlik moontlik te maak. Sy sit selfs ’n keer haar hand op Carmen se knie. Carmen is vriendelik, so vriendelik soos wat sy altyd teenoor almal is. Ek is glad nie op my gemak nie en wil eintlik net so gou moontlik met Luna crèche toe en dan na Merk in Uitvoering. G’n idee wat ek op ’n dag soos vandag daar gaan doen nie, as ek maar net uit hierdie poeslike hospitaal kan wegkom. Die dag so gewoon moontlik probeer maak.

Carmen let dit op. “Jy kan maar gaan, hoor, ek sal wel self regkom. En die koffie by Merk in Uitvoering is sekerlik beter as wat jy hier kry,” sê sy laggend.

“As mevrou uit narkose kom, bel ons u,” sê die suster.

Ek en Luna gee Carmen ’n drukkie en ek fluister ek is lief vir haar. Vanuit die deuropening blaas ek vir haar ’n soentjie. Luna waai.

Carmen probeer haar bes om te glimlag.

'n Vrou gaan dokter toe

Подняться наверх