Читать книгу 'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun - Страница 6
1
ОглавлениеWhat the hell am I doing here, I don’t belong here …
Radiohead, uit “Creep” (Pablo Honey, 1992)
Die gemiddelde gaan nou mooi opskuif, dink ek by myself toe ek die derde keer in ’n paar dae deur die draaideur van die Lucas-hospitaal loop. Dié keer moet ons op die eerste verdieping wees, kamer 105, staan daar op Carmen se afspraakkaartjie. Mense sit die gang waar ons moet wees vol. Net toe ons tussen hulle wil inwurm, wys ’n ou man – wat te opsigtelik ’n haarstuk dra – met sy kierie na die deur.
“Julle moet eers binne gaan aanmeld.”
Ons knik en loop kamer 105 ongemaklik binne. Dr. W.H.F. Schoeman, Internis staan op die bordjie langs die deur. Dié vertrek is eintlik die wagkamer – die mense sit in die gang omdat dit reeds vol is, sien ek nou. Met ons binnekoms daal die gemiddelde ouderdom van die wagtendes met etlike dekades. Ons word goed deur die ander pasiënte bekyk, byna meewarig. Ook ’n hospitaal het sy rangorde. Ons is ooglopend nuwelinge, ons is die toeriste van die wagkamer, ons hoort nie hier nie. Maar die kanker in Carmen se bors dink heel anders hieroor.
’n Vrou van sowat sestig wat in ’n hospitaalrolstoel sit, met in haar knokkige hande net so ’n afspraakkaartjie soos Carmen s’n, in net so ’n plastiekomslaggie, bekyk ons skaamteloos van kop tot tone. Toe ek dit agterkom, probeer ek ’n meerderwaardige houding aanneem – ek en my vrou is jonk, mooi en gesond, en dit kan julle nie sê nie, julle klomp ouballies, moenie dink ons gaan hier bly nie, ons is voor julle jul oë kan uitvee weer weg van hierdie kankergemors. Maar my lyftaal speel nie saam nie en verklap my onsekerheid. Asof ek in die kroeg De Bommel in Breda instap en aan die spottende blikke agterkom dat ek duidelik te Amsterdams aangetrek is en net daar spyt is dat ek die oggend my pienk hemp en slangvelstewels aangetrek het. Carmen is ook nie op haar gemak nie. Dit is die oomblik van waarheid: Ons is van nou af doodgewoon deel hiervan.
In kamer 105 is daar ook ’n aanmeldtoonbank en dit lyk asof die verpleegster agter die toonbank ons gedagtes kan lees. Sy vra gou of ons nie liewer ’n bietjie in die kamer langsaan wil sit nie. Net betyds, want uit die hoek van my oog kan ek sien Carmen word weer tranerig. Ek is bly ek hoef nie tussen daai amperse lyke in die wagkamer of die gang te sit nie.
“Dit moes ’n geweldige skok gewees het, eergister,” sê die verpleegster toe sy met koffie terugkom. Ek begryp dadelik dat die geval Carmen van Dyk op die afdelingsvergadering bespreek is. Sy kyk na Carmen. Daarna na my. Ek hou my dapper. ’n Verpleegster wat ek tot vyf minute gelede nog nooit gesien het nie, hoef nie te weet hoe verlore ek voel nie.