Читать книгу 'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun - Страница 25

20

Оглавление

Blonde haren, blauwe ogen, uit een sprookjesboek geslopen …

Bloem, uit “Even aan mijn moeder vragen” (Vooral jong blijven, 1980)

Carmen se hare begin nou kwaai uitval. Wanneer sy soggens opstaan, is haar hele kopkussing vol. Sedert gister kan sy, sonder dat dit seermaak, klosse uit haar kop trek.

“Kyk,” sê sy saans wanneer ek tuiskom, haar wysvinger ernstig omhoog, “heeldag daaraan geoefen …” Sy gaan staan voor my, trek ’n gesig asof sy haar buite weste geskrik het, kyk my grootoog aan, byt op haar lip om ’n gemaakte skreeu te onderdruk en trek met twee hande ’n klos hare uit haar kop. ’n Nuwe grap in haar Mr. Bean-repertoire.

“Dis goed, nè?” sê sy skaterend.


Saans staan sy in die badkamer in die spieël en kyk, haar kop effens omlaag.

“Dit word nou erg yl, nè?”

“Nja. Dis nog nie te sleg nie, hoor.”

“Nee, dis nou regtig te erg. Kyk hier,” sê sy en trek ’n hand vol hare bo-op haar kop opsy. Ek sien ’n kaal kol van so ’n sentimeter.

“Ja, as jy dit so wegtrek, sien ’n mens dit wel, ja …”

Sy luister skaars.

“Dis nou te erg. Ek is so bang dat mense dit een van die dae sien wanneer ek by die werk of in ’n kroeg is.”

Sy is vasgevang tussen woede en trane. Mr. Bean has left the building.

“Wat wil jy doen?” vra ek.

Die oomblik waarvoor ek weke al bang is, kom nou angswekkend naby.

“Sal ons dit maar afskeer?” vra sy huiwerig.

“Sal ek dit vir jou doen?” sê ek en kyk in die spieël na haar.

Sluk. Bedoel ek dit?

“Sal … sal jy dit wil doen?” vra sy aarselend, byna verleë.

Ek weet nie hoe ek dit regkry nie, maar ek knik en glimlag.

“ ’Tuurlik doen ek dit vir jou.”

Sy kyk nog ’n keer na haarself in die spieël, en sê dan ná ’n ruk: “Doen dit maar.”

“Goed,” sê ek en kry my skeergoed uit die kassie langs die spieël.

“Hoe wil jy dit doen?” vra sy onseker.

“Eers met die knipper en dan die skeermes?”

“Ja. Ek dink dit is seker die beste, nè? Dit moet glad wees. Dit moet nie onder ’n pruik jeuk nie.”

Ek neem ’n wit handdoek en hang dit oor haar skouers. Sy bly na haarself in die spieël kyk. Soos ’n wafferse haarkapper beweeg ek my kop van links na regs en van bo na onder om vinnig na die bo- en agterkant van haar kop te kyk. Waar moet ’n mens in godsnaam begin, kan iemand my dit sê? Dan maar die agterkant, sodat sy nie sommer dadelik haar kopvel sien as ek die knipper gebruik nie? Ja, die agterkant.

“Daar gaan ons dan, skat.”

Ek sug diep, skakel die knipper aan en skeer van onder in haar nek ’n strook van so vier sentimeter breed. Dadelik soen ek haar op haar wang. Sy sien in die spieël die lang hare op die handdoek val, slaan haar hand oor haar mond en begin huil. Ek sluk, maar gaan onversteurbaar voort, soen haar elke paar sekondes op haar kop. Ons sê niks nie.

Tien minute later is Carmen se kop kaal.

'n Vrou gaan dokter toe

Подняться наверх