Читать книгу 'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun - Страница 19

14

Оглавление

Het is weer voorbij die mooie zomer, die zomer die begon zowat in mei, je dacht dat er geen einde aan zou komen, maar voor je het weet is heel die zomer alweer lang voorbij …

Gerard Cox, uit “Het is weer voorbij die mooie zomer” (Het beste van Gerard Cox, 1973)

Oor drie maande is die somer en die chemo-behandeling verby en is Carmen kaalkop. In die motor onderweg na die Lucas-hospitaal dink ek aan alles wat ek hierdie somer maar kan vergeet. ’n Sondaguitstappie na Bloemendaal? Asof Carmen daarvan sal hou as sy een van die dae bles is. Vir ons plan om met Hemelvaart New York toe te gaan, kan ons ook maar koebaai sê as die chemo binnekort in haar lyf kom nes maak. Dinsdagaande se sokker in die park? Forget it. Dan sal ek by die huis moet wees om Luna kos te gee en in die bed te kry, omdat Carmen kotsend in die bed lê. En om vir Frenk of Maud te vra om te kom en daarna self te gaan sokker speel …

En dan het ek nog nie eens begin dink aan ons lewe ná die somer nie, ná die chemo’s. Wat die komende maande op ons wag, is reeds moeilik hanteerbaar; laat staan nog wat daarna kom. Dit is soos Ajax-Juventus in die ArenA in die era ná Louis van Gaal. Rustyd al 0-2 en dan lê daar nog drie helftes voor.[8]

Toe ons op die ringpad ry, begin dit motreën. Lekker. Wat my betref, kan dit maar hierdie somer ys. Ek sit die radio af. Edwin Evers is vandag net te vrolik vir my. Ek druk die CD-knop. Michael Stipe sing ons moet vasbyt as die dag lank word, ons moet vasbyt as ons seker weet dat ons nie verder kan in die lewe nie, as alles verkeerd loop. Ons is stil, albei. Carmen sit ook en luister. Sy vee ’n traan af. Ek druk haar been hard. No, no, no, you’re not alone. Hold on. Hold on. Carmen sit haar hand op myne. Hold on. Hold on.[9] “Pfoe,” sug Carmen toe die liedjie verby is.


Ons loop by Schoeman se spreekkamer verby na die einde van die gang. Eers bloed trek. Waarom weet ek nie meer nie. Iets te doen met witbloedliggaampies. Of rooies. Carmen se bloed word getrek, sy kry ’n wattetjie om op die merkie te hou en dan gaan ons weer in die gang af. Wag. Wat ek die paar weke in die hospitaal geleer het, is dat wag die allergewoonste ding ter wêreld is. Die tyd wat op die afspraakkaartjie staan, is niks meer nie as ’n “vanaf”-tyd. De Volkskrant, wat ek in die winkeltjie in die voorportaal van die hospitaal gekoop het, het ek ’n kwartier gelede al deurgelees. Daar lê nog ’n Voetbal International tussen die Story’s en Margrieten in die gang, het ek nou net gesien, maar ek weet lankal wat verlede jaar se uitslag van Nederland-Argentinië in die WK in Frankryk was. Uiteindelik word ons na Schoeman binne geroep. Sy is sowaar opgewek.

“So, vandag pak ons hom, nè,” sê sy soos ’n Padvinder-leidster wat met haar span verkennertjies aan die voet van ’n heuwel in die Ardenne staan.

Carmen se bloed is in orde. Die behandeling kan voortgaan. Ons kan nou maar na die chemo-saal op die derde verdieping gaan, sê sy.


Hier was ek nog nooit nie, maar iets sê my dat om die chemo-behandeling mee te maak nie lekker is nie. Ek het Carmen beloof ek sal elke keer saamgaan. Sy was opgebeur en het gesê sy dink dis lief van my om dit te wil doen. Nou ja, wil, wil, het ek gedink, die enigste ding wat ek minder graag sou wil hê, is dat Carmen alleen daarheen moet gaan. Ek kan my nie voorstel dat daar iemand is wat graag saam na ’n chemo-behandeling wil gaan nie.

Ek blyk dan ook reg te wees. Die meeste van die partners van die chemopasiënte het tuis gebly, is werk toe, of op enige ander plek behalwe by die chemo-saal.

Toe ons by die chemo-saal inkom, gaan ’n nuwe wêreld vir ons oop. Dit is nie ’n gewone hospitaalsaal nie, nee, hier is baie duidelik ’n poging aangewend om huislikheid te skep. By die venster is ’n tafel met twee teepotte, ’n klomp koppies en ’n bord met snye ontbytkoek. Die helfte van die snytjies het botter op, die ander helfte lê kaalkop daar, net om die chemo-atmosfeer te behou. Daar is twee lae, ronde tafels met kleedjies. Op die een staan ’n klein potplantjie (moet my nie vra watter soort nie) wat verlepperig hang. Om albei tafels is daar lae stoele. Al die moontlike is gedoen om ’n sitkamergevoel te skep. Jammer dat die pasiënte nie heeltemal daartoe bydra nie. Hulle het enorme pleisters op hul hande en deursigtige buisies loop van onder die pleisters op na ’n soort kapstok op wieletjies waaraan sakkies met rooi en deursigtige vloeistof hang. Die vloeistof drup deur die buisies na onder, sien ek nou, en verdwyn onder die pleister in en in die liggaam in, is ek bevrees. Dit lyk nie gesond nie en allermins lekker.

Drie van die vier pasiënte het so ’n kapstok. ’n Joviale ou met groot, dowwe tatoeërings het nie ’n kapstok nie, en ek lei dus af dat hy nes ek nie ’n pasiënt is nie. Hy is seker saam met die ouerige, vet vrou wat langs hom sit en wie se hand hy vashou. Sy vrou het wel ’n kapstok met sakkies vloeistof. En flenterdun, donkerrooi gekleurde hare. Jy kan haar kopvel daardeur sien. In die lae stoel langs haar sit ’n man van in die vyftig, wat net so min hare het soos Collina, die Italiaanse skeidsregter. Ook dié man het sulke vreemde uitpeuloë. Ook hy is aan ’n kapstok gekoppel. Noudat ek die man weer goed bekyk, sien ek dit is nie sy oë wat hom so vreemd laat lyk nie, maar hy het nie wenkbroue en wimpers nie.

Die derde kapstok behoort aan ’n hip jongeling met ’n Great Gatsby-pet op. Ek reken hy is diep in die twintig. Die vorige week was hy ook in die gang by dokter Schoeman, onthou ek. Toe was hy saam met sy vriendin, ’n klein meisie, soort van Italiaans, langerige swart krulhare. ’n Lekker girl. Ek onthou ook dat ek gedink het dis heel orraait dat ons nie die enigste jong mense is wat kanker het nie. Waar is die vriendin dan vandag? Sy het hom seker gelos omdat hy teelbalkanker het of so iets. En as sy hom nie gelos het nie, dan is dit nog ’n groter kakspul, want waar is sy dan terwyl haar vriend chemo kry? Nee, so ’n slegte vriend is ek nog nie, dink ek selfgenoegsaam.

“Goeiemôre, ek is Janine,” sê ’n verpleegster wat so skeel soos ’n otter is.

“Hallo, ek is Carmen,” sê Carmen innemend.

“Môre. Steyn,” sê ek koel, terwyl ek Janine met die hand groet.

Die skeel verpleegster beduie na ’n Dowwe Dolla van iets in die twintig, wat ook ’n wit jas aanhet. “En dit is Jolanda. Sy doen haar indiensopleiding by ons.”

’n Vakleerling? Léérling? Die een of ander donsdosie van twintig gaan ons chemo-debuut, wat ek aan my gatspiere kan voel nie sonder trane gaan wees nie, sommerso la-la staan en dophou ter wille van opleiding? En dan seker vanaand in die kroeg aan haar studente-vriendinnetjies vertel: “Daar was vandag ’n vrou by die chemo, so ’n mooi meisie, hoogstens vyf-en-dertig, haar naam is Carmen of so iets, heel vriendelik, met haar kêrel, ’n arrogante bliksem, hy het heeltemal niks gesê nie, maar die vrou en haar kêrel het vir die eerste keer gekom, en toe begin die vrou huil, ek was so jammer vir haar … Maar hoe lyk dit met nog ’n biertjie? En hoe gaan dit met jou opleiding, jy is mos by daardie rehabilitasiesentrum?”

Doos.

Skeel Janine weet te vertel dat Carmen se chemo-goed reeds van die hospitaalapteek bestel is en dat dit nie so lank sal duur nie, want dit is nie so besig nie. Vandag is daar maar net vier mense wat behandel word en Carmen is die laaste; die res is al besig, sê sy met ’n kopknik in die rigting van die drie kapstokke. Soms is daar tot agt pasiënte gelyk en dan is dit nie te lekker nie, want dan is die apteek eers teen die middag klaar met die bereiding van die laaste behandeling.

Ek verstaan nie alles heeltemal mooi nie, maar daar sal hierdie somer ongetwyfeld veranderinge wees. Oor drie maande weet ons presies hoe vroeg ons moet kom om gou gehelp te word, soos ek presies weet hoe laat ek saans by Paradiso moet wees om nie te lank in die tou te hoef staan nie, maar ook nie voor ’n leë saal te staan hoef te kom nie.

Die telefoon lui. Janine antwoord.

“Die chemo-behandeling vir mevrou Van Dyk is gereed,” sê sy aan die student nadat sy neergesit het. “Sal jy dit gou gaan haal?”

Sy knik en loop by die saal uit.

“Goeie kind,” sê Janine aan ons en, terwyl sy ’n bietjie na ons oorbuig, “wat nie altyd so was met die studente nie.”

“Ja,” sê Carmen met ’n glimlag, “ek weet.”

“Het u ook al studente gehad?”

Carmen en Janine klets vrolik oor die moets en moenies van die neem van vakleerlinge. Weer verbaas Carmen my met haar vermoë om in elke situasie vriendelike, spontane niks-verkeerd-nie-gesprekke te voer. Ek weet sy is doodbang, die chemo-behandeling lê soos ’n berg voor haar, en tog slaag sy daarin om belangstellend te luister na Janine se vertelling oor haar vorige vakleerling.

Ek nie. Ek wil nou nie met opset die vark in die verhaal wees nie, maar elke keer dat ek my voet in daai hospitaal sit, gebeur dit outomaties. Ek kan dit nie verhelp nie. Ek haat kanker en wat dit aan ons lewe doen. Ek haat my nuwe status as die man van ’n kankerpasiënt. Ek is woedend, gefrustreerd, magteloos. De moer in vir dokter Walters, vir dokter Schoeman, die verpleegsters, die student, die ander pasiënte, die man wat die godverlate, neerdrukkende Lucas-hospitaal gebou het, die bestuurder wat vanoggend in die verkeer eeue lank vir die groen lig gesit en kyk het, Janine wat so vriendelik is dat ek met die beste wil ter wêreld nie kan dink sy is ’n doos nie.

En ek is de moer in vir myself omdat ek so de moer in is. Dat ek nie daarin kan berus nie, nie kan aanvaar dat Carmen nou eenmaal kanker het nie en dat ek nou eenmaal haar man is, deur dik en dun. Natuurlik was ek vandag saam met Carmen en ja, natuurlik was ek trots op myself toe ek gister hoor hoe Carmen oor die telefoon aan haar ma en Anne sê dat sy dit so waardeer dat ek saam met haar na die chemo sal gaan. En natuurlik sê ek ons twee gaan saam die kanker ’n nekslag toedien, dit gaan ons nie onderkry nie, NATUURLIK sê ek dit alles! Wat moet ek anders doen? Moet ek Carmen vertel dat ek die drukkies, die trooswoorde, die soene op haar wang en kop, die strelende duim oor haar handpalm wanneer ons hand aan hand in die gang loop maar net gee omdat ek my bewustelik daarop instel om gaaf te wees? Dit is my eergevoel, my gevoel vir hoe dinge gedoen behoort te word, wat my gaaf maak. Maar dit kom nie vanself nie. Ek moet die liefde van my tone af optrek.

Die student kom binne met ’n bielie van ’n Tupperware-bak waarvan die deksel met twee ysterklemme vas is.

“Dit was vinnig,” roep Janine vrolik. “Ek gaan dadelik ’n dokter bel om die drup vir u aan te sit.”

Die dokter is ’n jong, verleë man in ’n wit jas.

“Dié mevrou se drup moet aankom, Frans,” sê Janine en wys na Carmen.

Frans die dokter groet Carmen met die hand en begin bloos. Ja, daar is darem een wat anders is as al die ouballies hier. Gelukkig vir Frans het Carmen vandag ’n los trui aan, anders sou sy bril toegewasem het. As ek sien dat ander mans hul oë nie van Carmen kan afhou nie, word ek altyd so trots soos ’n hond met sewe piele en wys dit op tipies Steynse wyse deur die betrokke persoon aan te kyk so cool as wat ek kan. Die lekker girl na wie jy kyk, pateet, van haar kan jy maar net droom! En dan bars ek byna uitmekaar van trots dat ek Carmen se man is.

Ek skrik op uit my dagdroom, want Carmen begin huil omdat Frans, wat steeds senuagtiger word, sê hy moet dit oordoen. Hy het ’n belaglike dik buis – seker ’n halwe sentimeter in deursnit, sien ek met ’n angstige blik – in ’n aar wat nie geskik is nie. Ek probeer Frans doodkyk, maar hy sien dit nie, want hy en Janine is besig om die bloed te stop wat uit die gat in Carmen se hand kom.

Dit klink of Frans se tweede poging slaag. Dit lei ek af uit sy bemoedigende “dit lyk beter”, terwyl hy saggies op Carmen se hand klop.

“Ja, dit het gewerk,” sê Janine dadelik opgelug. Sy hou Carmen se linkerhand vas en streel haar, terwyl ek – my eie trane ternouernood bedwing – aan die ander kant van Carmen sit en haar kop teen my bors druk sodat sy nie hoef te kyk na die geploeter in haar hand nie.

“Jammer dat dit so lank vat. U are is nie so maklik om te kry nie,” is Frans se verskoning. Hy skud Carmen se linkerhand onhandig, mompel “tot siens” sonder om na ons te kyk en probeer hom so gou moontlik uit die voete maak.

Janine vra of ons nie gou by die ander, wat blykbaar nie ongemaklik gestem is deur Carmen se huilery nie – alles word van ’n kankerpasiënt geduld – by een van die twee lae tafels wil gaan sit nie, en of ons liewer na die afgeskermde ruimte hiernaas wil gaan. Ek kyk na Carmen, wat die laaste trane van haar wang vee met die hand waaraan die buisie nog vas is.

“Nee, ons gaan by die ander tafel sit, by die mense daar. Tog gesellig,” sê sy laggend.

Ek weet nie of dit so gesellig is nie. Ek skaam my so ’n bietjie vir die ander, kom ek agter. Die outjie met die Great Gatsby-pet, die man sonder wenkbroue, die vrou met die wit trui en haar joviale man kon lekker sit en kyk hoe ek my huilende Carmen tientalle soene op die kop gee. En hulle kon nie anders nie as om te merk dat ek alles moes probeer doen om my emosies te beteuel. Om iemand met oorgawe te troos, is dieselfde as om jou broek af te trek. Jy laat jou intiemste kant sien. Maar waarskynlik is Carmen reg. Laat ons maar deel van die geselskap word. Ons moet tog daaraan gewoond raak. As dit nie gaan soos dit moet nie, dan moet dit maar soos dit gaan.[10]

Ek loop na die tafel met die tee by die venster. Carmen kom langs my staan en wag tot ek geskink het. Ek kan aanvoel sy wil nie op haar eentjie tussen haar mede-kankerpasiënte gaan sit nie.

“Dit is nie baie lekker nie, nè?” sê die vet vrou met die wit trui en die yl hare. Die rooi vloeistof drup deur die buisie in haar hand in.

“Nee …” sê Carmen.

“Dit is seker die eerste keer dat jy chemo kry?”

“Ja.”

“Jy word daaraan gewoond, hoor.”

“Ek hoop so …”

“Maar lekker word dit natuurlik nooit nie.”

“Jesus, dis soos om na die belastingkantoor te gaan,” sê haar man jolig, met ’n swaar Amsterdamse aksent.

“Solank hulle maar net beter vir ons sorg as vir die plantjies,” sê die vet vrou en knik in die rigting van die treurige plantjie. Daar word gelag. Carmen lag saam, ek dus ook maar. Ek kyk na haar en besluit dat ek vandag maar die beste daarvan moet probeer maak. Een van die boksies, ek dink dié van die ou met die Great Gatsby-pet, begin piep.

“Het iemand iets in die mikrogolf gesit?” probeer ek die soort humor van die vet vrou se man navolg.

“Ja, ek! ’n Kroket en ’n kaassoufflé,” speel hy saam.

Daar word weer gelag, Carmen ook. Die student loop na die outjie met die pet en steek een van die ander slangetjies in die apparaat. Ek sien dat twee van die drie sakkies aan sy kapstok al leeg is.

Ek en Carmen gaan aan die leë tafel sit. Die stoele by die ander tafel is almal beset. Jammer. Dit word dan so gesellig.

Carmen kry haar eie kapstok, gelukkig van Janine. Hoe skeel sy ook al is, eerder van haar as van die student. God weet wat ’n kind soos sy nie alles kan verbrou nie. Boaan hang Janine twee sakkies met die deursigtige vloeistof (“dié ene is teen die naarheid, daarmee begin ons dadelik”) en een sakkie met rooi ellende (“dit is die adriamisien”). Die rooi goed lyk soos wat ek my dit voorgestel het. Grieselig. Gif. Al wat kort, is die rook. Dit is dus die een. Die Chemo. Hierdie goed wat hier aan die kapstok langs Carmen hang, wat netnou haar liggaam gaan binnestroom, hierdie goed gaan miskien die kanker aanval, maar sekerlik vir Carmen kaalkop maak.

Die buisie in Carmen se hand word vasgeskroef aan die deursigtige een, en dit gaan na ’n boksie met rooi digitale syfertjies en pyltjies, êrens halfpad na die kapstok. Aan een van die sakkies met die deursigtige goed word ook ’n deursigtige buisie vasgemaak en dit gaan bo in die apparaat met die rooi syfertjies. Janine sê die soutoplossing gaan binne twintig minute deurspoel. Sy druk van die boksie se knoppe en dit dui gehoorsaam die syfer 20 aan.

“As dit netnou klaar is, gaan dit piep, en dan moet jy my gou roep as ek dit dalk nie self sien nie.”

Ek ken al die prosedure van die kapstok van die outjie met die pet.

“Kwaai, nè, my eie chemo-kar,” sê Carmen en knipoog.

Ons word laf.

“Jesus, maar is sy vir jou skeel,” fluister ek in Carmen se oor.

Carmen knik en byt in haar wang om nie te lag nie.

“Sal ons haar Panorama Mesdag noem?” vra ek onnosel.

Carmen verstik aan ’n sluk tee en proes dit uit. Ek maak asof ek van die skrik oor een van die pote van haar kapstok struikel. Gemaak geïrriteerd draai ek om, trek ’n Mr. Bean-gesig en toe Janine nie kyk nie, maak ek asof ek die ding deur die kamer wil skop.

“Kom nou, Steyn!” sê Carmen skaterend.

Janine lag vir Carmen – sy is bly Carmen lag.

“Dit lyk asof dit nou weer ’n bietjie beter met jou gaan,” sê sy vir Carmen en knipoog vir my. Ek bloos, want ek voel sy weet dat my fluistergrap ten koste van haar was. En ek besef skeel Janine sal alles in haar vermoë doen om die lewe van haar pasiënte minder ellendig te maak, al is dit maar vir ’n oggend, vir ’n uur, vir ’n minuut. En as dit help om die teiken van spot te wees, dan moet dit maar. Ek voel hoe ek klein word voor skeel Janine.

Ek gaan langs Carmen sit. Sy soen my en fluister in my oor sy het my lief. Ek kyk haar verlief aan en voel trots op ons. Die eerste chemo-krisis is besweer deur die Teater van die Lag.

'n Vrou gaan dokter toe

Подняться наверх